Eerste skoolgroep vir 2022 kuier by monument

‘n Leerling van Raslouw Academy in Centurion beantwoord ‘n vraag by die Pioniersentrum. (Foto: Lizette Jansen)

Leerlinge aan die Raslouw Academy in Raslouw, Centurion, is die heel eerste skoolgroep wat vandag die Voortrekkermonument vir 2022 besoek het.

Dié skool staan leerlinge met spesiale behoeftes soos aandaggebrek‑hiperaktiwiteitsteurnis (ADHD), disleksie, gehoorverlies of maatskaplike probleme by. Raslouw Academy bied aan hulle ’n persoonlike leeromgewing omdat hulle nie in hoofstroomskole kan aanpas nie.

Tumelo Manaka (11) sê hy het hierdie uitstappie vreeslik geniet en “baie interessante goed” gesien.

Athethu Nkala (10) het gesmul aan die tuisgemaakte brood by die Pioniersentrum, wat die leerlinge ná afloop van hulle toer deur die Voortrekkermonument, besoek het.

“Dis perfeksie,” het hy dié brood opgesom.

By die Pioniersentrum word skoolgroepe gewys hoe die Voortrekkers brood gemaak het met graan wat hulle eers moes fynmaal en gis wat hulle self gekweek het.

Die leerlinge smul aan vars brood. (Foto: Lizette Jansen)

Die Pioniersentrum by die Voortrekkermonument is amptelik in 2019 geopen ná 10 jaar se beplanning en bouwerk.

Wat min mense weet, is dat daar verskeie skoolprogramme is wat reeds vir leerlinge van gr. 1 tot 3 en gr. 4 tot 6 ontwikkel is.

Dié sentrum is toegewy aan pioniers oor die eeue heen en hoe tegnologie en kultuur ontwikkel het tot waar ons vandag staan. Dit bied ’n interaktiewe ontdekking van inligting. Verskeie temas soos voedsel, bou van strukture en huise, materiale soos tekstiel en leer word aangebied. Die sentrum is juis daar om te wys hoe verskillende kulture materiale tot hulle beskikking gebruik het om hulle eie identiteit te skep.

Die skoolprogramme hou nou verband met die skoolkurrikulum en brei ook daarop uit.

Van die temas wat behandel word, is byvoorbeeld jagterversamelaars in die Khoi- en Sanbevolkings tot die moderne mense van die 21ste eeu. Daar word tot geleer van natuurlike hulpbronbeskerming en herwinning van materiale.

Moderne Suid-Afrika word ook geensins afgeskeep nie, waar nasionale simbole van die eerste dinge is waarvan ’n mens van leer as jy die sentrum besoek.

Die sentrum is nie net vir die jeug bedoel nie, almal sal iets nuut leer van Suid-Afrika se geskiedenis.

  • Sou daar skoolgroepe wees wat die Pioniersentrum wil besoek, kan hulle ’n e‑pos stuur aan [email protected]. Die Pioniersentrum is van Maandag tot Vrydag van 08:00 tot 15:00 ook vir die publiek oop.

 

(Foto: Lizette Jansen)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.