Eerste Soldoedies onthou ná 50 jaar

Die Soldoedies van 1971 het die pas aangegee vir vroue om militêre opleiding te ontvang in Suid-Afrika. (Foto: Verskaf)

In 1971 het 128 jong vroue van reg oor die land met groot oë en hoë verwagtinge vir die eerste keer in die geskiedenis van die land aangetree vir militêre opleiding.

Kinna Rhoodie (nou Maranta) en Annatjie Reinders (nou Els) was twee van die jongelinge wat in vlootblou uniforms by die Burgerlike Beskermingskollege in George, Wes-Kaap, met trots die rolle van die eerste vroulike soldate, oftewel Soldoedies, in Suid-Afrika aangeneem het.

Die kollege was vir 27 suksesvolle jare deel van die George-gemeenskap. Kinna, wat toe reeds ʼn jong werkende was en Annatjie, pas klaar met matriek, het in Februarie 1971 saam met 126 ander bloedjong vroue die weg gebaan vir ander om ook hulle opleiding aan dié kollege te doen.

Vandag, vyftig jaar later, sit dié twee hegte vriendinne saam op ʼn rusbank by Kinna se trouvenue in die ooste van Pretoria, lustig aan die klets oor kosbare gedeelde herinneringe – amper asof daar nie reeds vyf dekades se water in die see geloop het nie.

‘Fyn dopgehou’

Kinna Maranta en Annatjie Els kuier saam met Maroela Media in Pretoria. Hulle ken mekaar vanjaar 50 jaar. (Foto: Maroela Media)

Kinna vertel sy het ʼn advertensie in die koerant gesien oor die inname van vroue in die weermag en haar oë het dadelik geblink. Haar pa, ook ʼn weermagman, het ingestem dat dit ʼn goeie idee is.

“Vir my was dit absoluut die ding om te doen. Ek dink nie dit is iets wat jy sal aanpak as dit nie in jou karakter is om iets uitdagend te doen nie,” sê sy en voeg by dat die keuringsproses uiters streng was.

Annatjie het in haar matriekjaar daarvan te hore gekom by die skool en het daar en dan besluit om die vorms in te vul.

“Ek was die enigste een van my skool wat aansoek gedoen het. Elke keer as ek daaraan dink wonder ek hoekom ek gekies is en wat hulle in elkeen van ons 128 gekose vroue raakgesien het.”

Volgens Kinna, wat later militêre diens in die Kasteel gedoen het, is hulle goed hanteer deur die offisiere, maar dit beteken egter nie dat hulle nie streng was nie.

“As die pasaangeërs is ons met valkoë dopgehou. Joernaliste was aanhoudend op die kampus, tydig en ontydig. Ek dink ons almal het besef ons moet eenvoudig ʼn sukses daarvan maak, en ons het.”

Openingsdag

PW Botha, destydse minister van verdediging, op 10 April 1971 tydens die amptelike opening van die kollege. (Foto: Verskaf)

“Dit was ʼn baie spesiale dag. Ons kan dit beslis baie goed onthou,” sê Kinna oor die amptelike openingsdag op 10 April 1971.

PW Botha, destydse minister van verdediging, het in sy toespraak onder andere gesê: “Die oprigting van die kollege is ʼn daad van vertroue in die vroue van die land. Hierdie meisies is toekomstige leiers. Hulle is fyn gekeur uit baie aansoeke.”

Dit was ʼn opwindende dag, onthou hulle. “Dit was die dag wat ons almal se ouers en hooggeplaastes daar was. Daar was ook demonstrasies van al die kursusse en daar is selfs iemand met ʼn helikopter afgevoer.”

Opleiding

Kinna Maranta in haar uniform. (Foto: Verskaf)

ʼn Soldoedie se dag het douvoordag begin met ʼn strawwe drafsessie gevolg deur ʼn aantreeparade. Daarna is kursusse gevolg wat uitsluitlik geskoei was op burgerlike beskerming soos noodhulp, selfverdediging, telekommunikasie, tikvaardighede, vuurwapenopleiding en bestuurs- en onderhoudsopleiding van groot passasiersbusse, ambulanse, vragmotors en sedanvoertuie.

Praktiese opleiding was ook deel van die program en naweke het die studente diens gedoen by die ongevalleafdeling van die George-hospitaal om hul noodhulp- en verpleegkennis toe te pas en uit te brei.

“Ek was een keer in die hospitaal en daar was ʼn persoon wat verskriklike brandwonde opgedoen het. Ek het so vinnig soos ek daar in is, weer omgedraai. Van die vroue het egter werklik dienste gedoen en met alles gehelp,” vertel Kinna.

Sport was ook ʼn belangrike deel van die opleiding en die studente het ʼn groot bydrae gelewer in die Suidwestelike Distrikte se sukses in verskillende sportsoorte. Verskeie van die vroue het hulle provinsiale kleure verwerf in atletiek, tennis, hokkie, pluimbal en netbal.

“Die ervaring was vir almal van ons ʼn eerste, die offisiere inkluis. Dit was ook vir die gekwalifiseerde vroueoffisiere ʼn eerste keer in uniform,” onthou Kinna.

Hoewel daar ʼn uiters professionele verhouding tussen die offisiere en studente was wanneer hulle aan diens was, was dit ʼn heel ander storie wanneer die uniforms uitgetrek en die stoute skoene aangetrek is.

Die eenheid is opgedeel in twee kompanies en vier pelotons: A Kompanie (Peloton 1 en Peloton 2) en B Kompanie (Peloton 3 en Peloton 4). Elke peloton het sy eie ding gedoen, onthou Annatjie.

“Soms het ons sommer op die strand gaan braai en dan het die offisiere ook klere en al in die water beland!”

Kinna en Annatjie skaterlag as hulle terugdink aan die vroueoffisiere wat eers ná hulle leer dril het. Dril, as ʼn basis van dissipline, was deel van die daaglikse roetine.

“Ons het laaggelê en gekyk hoe hulle oefen terwyl ons krul soos ons lag, want hulle maak foute.”

Uitstekende drilparades is later deur die loop van die jaar reg oor die land aangebied – onder meer tydens die Republiekdagvieringe op 31 Mei 1971 in Kaapstad.

Dit het ten doel gehad om die kollege, asook die res van die weermag, bekend te stel aan die publiek. Hulle is staande toegejuig deur die toeskouers.

Hulle erken die opleiding het toe nie in elkeen van die vroue se broek gesit nie. “Ons het egter vroeg reeds kameraadskap en ʼn omgeekultuur gekweek en as een van die meisies gesukkel het, het ons probeer troos en moed in praat.”

Daar was egter nie die luuksheid van opgee nie. “As jy eers begin het, moes jy die jaar voltooi. Jy het nie ʼn ander keuse gehad as om jou ken op te lig en aan te gaan nie.”

ʼn Soldoedie vir altyd

Annatjie Reinders (heel voor onder) op skoonmaakdiens. Dié groep is nog steeds vriendinne. (Foto: Verskaf)

Die studente het hulle opleiding op 27 November 1971 voltooi. Hulle marsjeer deur die strate van George op die maat van die musiek van die leërorkes en word bewonder deur die skares wat in die strate saamgedrom het.

“Baie van ons het sterk gevoel toe ons daar uitgekom het. Ek dink dit was ʼn grootmaakproses. Dis jammer dat elke vrou dit nie kan deurmaak nie, want dit is iets wat jy onder normale omstandighede nooit sal doen of ervaar nie. Die blootstelling was ongelooflik en almal behoort dit te kon doen. En natuurlik dat jy daarna gevoel het jy kan die wêreld versit.”

Kinna het later by die Kasteel in Kaapstad militêre diens gedoen en het uiteindelik, as gevolg van blommekursusse waarop sy gestuur is as deel van haar dienspligte, verskeie blommewinkels oopgemaak.

Sy is getroud met Angelo en het drie kinders, Angelo, Fernando en Sandra. Sandra het in 1994 ook haar opleiding gedoen aan die Burgerlike Beskermingskollege.

“Sandra het een van my plakboeke met herinneringe van daardie jaar in die hande gekry en wou ook graag daar opleiding kry. ʼn Paar van ons groep se dogters het ʼn jaar op George by die kollege deurgebring.”

Annatjie bars omtrent van trots wanneer sy oor haar betrokkenheid by die geboortejaar van die Soldoedies praat. Sy is ook die afgelope ses jaar betrokke by die bywerking van die 1971-jaar se datalys en dit het as’t ware vir haar in ʼn voltydse beroep ontwikkel.

“Ek het nie ná 1971 ʼn beroep gevolg of studeer nie. My man het drie verplasings gekry, elke keer na ʼn ambassade, en ek het kinders grootgemaak. Ek het destyds met die Here gestoei en gevra wat my doel is. Ek besef nou die Soldoedies het my ʼn doel gegee – ek bel elkeen op haar verjaarsdag om seker te maak sy is oukei en om op hoogte te bly van die persoon se lewe. Dit is my menswees.”

‘n Soldoedie. (Foto: Verskaf)

Altesaam 108 Soldoedies van 1971 is nog lewend, maar 20 het reeds gesterf. Twaalf personeellede wat opgespoor kon word, is ook oorlede.

Daar word ook geen moeite ontsien met die WhatsApp-groepe nie, waar die kameraadskap en omgeekultuur steeds net so sterk deurskemer soos 50 jaar gelede.

“Daar is nou so ʼn hegte band tussen ons almal. Ons is gedurig in kontak met mekaar en ons sien mekaar gereeld,” sê Kinna.

“Ons het al hier by die venue ook byeengekom en wanneer ek so in die kombuis staan en luister hoe die vroue onophoudelik gesels, is dit net asof ons almal nog altyd kontak gehad het.”

Annatjie het drie kinders, Oloff, Werner en Lydette en woon saam met haar man, ook Oloff, en hulle honde op Broederstroom in Noordwes. Sy het ook onlangs by die raad vir militêre veterane betrokke geraak in ʼn ondersteunende rol.

“Sou ek die geleentheid kry om terug te gaan na 1971 en my opleidingsjaar oor te doen, sal ek dit in ʼn oogwink doen. Dit was beslis een van my beste jare, indien nie dié beste jaar van my lewe nie.”

Die Soldoedies van 1971 se 50 jaar-reünie vind in November plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jack ·

Ai, die goeie ou dae, toe daar nog visie by die regering was, ordentlikheid, orde, dissipline, volkstrots en samehorigheid. Die goeie ou dae tussen 1948 en 1980. My eie seun en twee skoonseuns het ook diensplig gedoen, my broer was in die lugmag, het die kerksrtaat bom met twee minute gemis.

MAGRIETHA ·

Kan dit goed onthou toe bly ons in oudtshoorn di netheid van hulle en ook die verpleegsters van di tyd was dit darem pragtig

Ilena ·

Goeie herinneringe. Ek was in 1975 daar. Kolonel Hilda Botha was die bevelvoerder. Onthou nog vir Majoor v d Poel wat ook die koor afgerig het. Sersant Stevens het ons op die paradegrond rondgejaag, Korporaal Parker was ‘n interessante offisier. Dankie vir die artikel.

Wielspore ·

Gedurende my diensplig in SA het die soldate (manne) heelwat bespiegel (met respek) oor die bevoegtheid van vroulike soldate en hulle redes om by die weermag aan te sluit. In die operasionele gebied is die bordjies so bietjie verhang waar dit nie vir die soldoedies nodig was om enige iets te bewys. Hier was hulle werk, hoosfsaaklik as offisiere duidelik sigbaar, veral by mediese dienste en lugmag. Hier is die soldoedies bewonder vir hulle goeie werk en skoonheid (respek).
Toe my kinders klein was het ek my seuns soldate genoem en my dogters soldoedies, doen nou dieselfde met die kleinkinders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.