Eersterivierse sopkombuis voed talle honger magies

Die span van Anne’s Angels. Voor van links na regs: Veronique Ratz, Amy-Lee Booysen, Paythan Booysen en Shirmonique Prens.
Agter van links na regs: Anne Antonie, Zenden Januarie, Elias Antonie, Henry Prens, Olive Phineliphi en Lee-Ann Booysen. (Foto: Verskaf)

Anne Antonie en haar man, Elias, is as’t ware engele in die gemeenskap van Eersterivier in die Wes-Kaap, waar hulle sopkombuis Anne’s Angels die honger mae van minderbevoorregtes in Devonpark help voed.

Die Antonie-egpaar het lank voor die Covid-19-pandemie vanuit hul eie kombuis kospakkies aan die gemeenskap verskaf, maar toe pres. Cyril Ramaphosa in Maart vanjaar vlak 5 van die inperking aankondig, het die gemeenskap se hongerpyne vererger.

Kinders was tuis en kon nie maaltye by die skool kry nie en baie ouers is werkloos gelaat. Die Antonies en hul familie het besluit om ʼn permanente sopkombuis van hulle huis af te bestuur.

Anne’s Angels speel ʼn belangrike rol in die gemeenskap as dit kom by die voorsiening van kos aan die minderbevoorregte kinders van die omgewing. Volgens Henry Prens, bemarkingsbestuurder van Anne’s Angels, is dit egter onmoontlik om die kinders te voed sonder die hulp van die gemeenskap.

“Ons voorsien tans hoofsaaklik aan die mense van Devonpark, maar omdat die nood oral dringend is, het ons besluit om uit te brei na ander gebiede in Eersterivier. Dit verskaf vir ons groot plesier om die glimlagte op minderbevoorregte kinders se gesigte te sien as hulle die kos ontvang,” sê Prens.

Prens is ʼn jarelange vriend van die Antonie-egpaar en is ook betrokke by liefdadigheidsprojekte soos onder meer die Path onto Prosperity (POP-) -jeugsentrum op Prins Albert.

“Omdat ek self swaar grootgeword het, wou ek self inspring en op my eie manier help om die nood in Devonpark te verlig,” vertel Prens, ook ʼn bestuurder van die Lord Charles-hotel in die Kaap.

Met Prens se hulp is Anne’s Angels in November vanjaar amptelik as ʼn niewinsgewende liefdadigheidsorganisasie geregistreer.

“Anne se visie is om eendag haar eie gebou te besit en jongmense te leer om entrepreneurs te word. Sy wil ook graag met bewusmakingsveldtogte begin om jongmense in te lig oor die gevare van dwelmmisbruik,” verduidelik Prens.

Anne’s Angels word op 18 Desember amptelik bekendgestel by die Community Women Action (CWA)-sentrum in Eersterivier. Slegs 80 gaste, wat 50 kinders insluit, sal die geleentheid bywoon om aan Covid-19-regulasies te voldoen.

Die gaskunstenaars Quinton Q-Rock Swartz en Austin Rose van die fliek Noem my Skollie sal die kinders vermaak. Josh Jr. Kinnear van Radio Eersteriver en sy span gaan regstreeks van die funksie af uitsaai.

Daar sal ook op die geleentheid met die kinders gepraat word oor beroepskeuses en elkeen sal ʼn Secret Santa-skoenboks ontvang.

Persone wat daarin belang stel om ʼn skenking vir die Secret Santa-projek of Anne’s Angels te maak, kan ʼn e-pos stuur na [email protected]. Anne Antonie kan geskakel word by 083 328 4367. Henry Prens kan gekontak word by 084 942 2192.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.