Eersterust-leerders se Afrikaans ‘kookwarm’

Argieffoto (Foto: Congerdesign/Pixabay)

Leerders van twee hoërskole in Eersterust, oos van Pretoria, het in ʼn onlangse opstelkompetisie met hul Afrikaanstalente gewoeker.

“Die leerders se Afrikaans is pront in die mond en uit die skryfwerk is dit duidelik dat hulle op ʼn unieke wyse met die taal omgaan,” sê Alet Venter, ʼn lid van die Eugene Marais Leeskring.

Meer as 60 gr. 10- tot gr. 12-leerders van Eersterust Sekondêre Skool en Prosperitus Sekondêre Skool het aan die opstelkompetisie met die tema “Hy/sy/dit het my lewe gered” deelgeneem.

Deveney Mash, ʼn gr. 12-leerder van Prosperitus Sekondêr, is eindelik as die wenner van die kompetisie aangewys. Mash het die beoordelaars beïndruk met frases soos “Musiek red my lewe, vou my toe soos ʼn warm kombers oor my lyf op ʼn koue wintersdag” en “Musiek verf foto’s in my gedagtes en laat my hart dans”.

Deveney Mash, ʼn gr. 12-leerder van Prosperitus Sekondêre Skool, het die opstelkompetsie gewen. (Foto: Verskaf)

Venter deel nog van die raakvat sêgoed waarmee leerders vorendag gekom het:

  • “Ek het op ʼn aaklige dag al my moeilikheid ontmoet.”
  • “My hart moet genees van sy krake.”
  • “Dis ʼn kookwarm dag asof die son briesend kwaad is vir die planeet aarde.”
  • “My hart klop in ʼn rympie wat ek nie kan beskryf nie.”

Deelnemers het elk ʼn boek ontvang danksy ʼn ruim skenking deur Lapa Uitgewers en die Mabel Malherbe Leeskring het kontantpryse bewillig wat deur die Stichting tot Bevordering van Culturele Betrekkingen Nederland–Zuid-Afrika moontlik gemaak is.

Die kompetisie word al ʼn geruime tyd deur die Eugene Marais Leeskring aangebied. Deleen Bekker, ma van Koos Bekker, was ook sedert die ontstaan by hierdie projek betrokke.

Weens die Covid-19-pandemie kon die kompetisie vanjaar nie gewoonweg plaasvind nie, maar twee van die lede, Venter en Nerine Ahlers, het besluit dit moet voortgaan.

Venter sê die kompetisie word jaarliks aangebied ter bevordering van kreatiewe skryfwerk en om ʼn leeskultuur onder leerders te kweek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Zilla ·

Dit laat my hart baie warm klop: Afrikaans is seker een van die mooiste tale OOIT!

MM:
Waar kan ons Deveney Mash se wen-opstel lees? (Sommer al die ander ook :) )

Sune van Heerden ·

Dagsê Tarien

Dankie vir jou boodskap.
Ons is in gesprek met die organiseerders om Deveney se opstel op te spoor en dit moontlik dan hier op Maroela Media mag publiseer.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Elmarie ·

Groot handeklap vir julle Maroela, kan ook nie wag om te lees nie. Wens ek was skatryk dan het ek sommer paar sulek kompetisies aangebied by verskeie skole. Dis hoe ons taal mos groei!!

Hardekwas ·

Baie raakvat sêgoed. Dié kinders het definitief talent.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.