Egpaar gee ossewa nuwe lewe

Jaco en Endriëtta van Rensburg by hul herstelde ossewa (Foto: verskaf)

Danksy ’n toegewyde man en sy vrou het ’n ossewa by die Voortrekkermonument in Pretoria weer ʼn nuwe lewe gekry.

Jaco en Endriëtta van Rensburg het maande lank geswoeg en gesweet om dié oudheid tot sy vorige glorie te herstel. Die ossewa spog met ’n splinternuwe tentkap, ’n nuwe laag groen verf en groot gedeeltes van die oorspronklike houtbalke is vervang.

Die egpaar bedryf sedert verlede jaar die Lewende Laer by die Voortrekkermonument, en leef hulself in Voortrekkergeskiedenis in. Jaco het gehelp bou aan die wa, terwyl Endriëtta haarself toegelê het op die seil van die tentkap. Drie tafels was nodig om die seil van 5,5 x 1,8 m te vervang. Die seil is dig geweef en volgens Jaco word dit eintlik vir skepe gebruik.

Voor die Groot Trek se 175te herdenking in 2013, het Jaco en ’n vriend ’n kakebeen-ossewa herstel. In 2015 het Jaco sy eerste ossewa, Die Drommedaris, gebou. Dié ossewa is deur die egpaar gebruik om uitstallings landwyd by te woon.

Die Lewende Laer, wat aan die oostekant van die monument geleë is, bestaan uit sewe ossewaens.

Hier woon die egpaar van Donderdae tot Sondae in hul eie ossewa wat in die laer getrek is. Kos en koffie word op ’n vuur in die middel van die laer gemaak, dis egter nie so maklik soos die kitskoffie wat deur talle gemaak en gedrink word nie. Die koffiebone word eers op die vuur gerooster en dan gemaal. Flukse Endriëtta maak ook self kerse, bak brood en karring self botter. Jaco giet weer koeëls uit lood, en wys gereeld aan besoekers hoe ’n voorlaaier met swartkruit skiet.

Die egpaar se fokus is die bevordering van kultuur onder jonger geslagte. “Dít is wat vir ons lekker is. Ons het self ook kleinkinders. Ons moet dit bewaar en uitleef. Dit moet lewend gehou word en lewendig wees.”

Die Van Rensburgs pak binnekort ’n soortgelyke projek aan. Hul droom is om een van die ossewaens in die laer te restoureer en met beddens toe te rus, om sodoende gaste te verwelkom. Hulle sal dan vir die gaste kos op die vuur voorberei.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.