Egpaar se wenpampoene laat skaal behoorlik kreun

Piet Lotz met sy wenpampoen (Foto: Verskaf)

ʼn Egpaar van Riversdal in die Wes-Kaap se yslike boerpampoene met ʼn gesamentlike gewig van bykans 1 000 kg het gesorg dat hulle die afgelope naweek by die Giant Pumpkin Festival in Heidelberg in dié provinsie as die afgelope jaar se beste twee pampoenkwekers gekroon word.

Piet en Elizna Lotz se wenpampoene het die skaal op onderskeidelik 532,4 kg en 438 kg laat kreun.

Die egpaar het tydens die prysoorhandiging vertel hulle moes vier agtereenvolgende jare inskryf om uiteindelik dié titel te verower. “Met die vorige inskrywings kon ons nie daarin slaag om ʼn pampoen van meer as 300 kg te kweek nie. Vanjaar was die weersomstandighede weer nie ideaal om ʼn groot pampoen te kweek nie en ons was bang dat die pampoene weereens te min sou weeg,” vertel hulle.

Piet, wat gehelp het om Elizna se pampoen te kweek, sê volgehoue aandag is die grootste geheim om ʼn bielie van ʼn pampoen te kweek. “Die pampoen verg baie liefde en aandag, ʼn geduldige vrou en klassieke musiek. Jy moet daagliks in jou tuin wees en bykans alle ander verpligtinge eenkant toe stoot. Soveel dinge kan skeefloop,” het hy in ʼn onderhoud met SABC News vertel.

Die Lotz-egpaar het hul wenpampoene met Dill’s Atlantic Giant-pampoensade gekweek, dieselfde sade wat aan al die deelnemers gegee is. Die sade word ingevoer van Kanada en is nié geneties gemanipuleer nie.

Piet se wenpampoen het uiteindelik maar ʼn skrapse 23,6 kg ligter geweeg as die swaarste pampoen wat nóg in Suid-Afrika gekweek is. Dié rekord is verlede jaar deur Hugo le Roux tydens die Goliat-van-Gat-pampoenfees in Silverton in Pretoria opgestel.

Die Wes-Kaapse boer se pampoen is egter steeds swaarder as verlede jaar se wenpampoen van die Giant Pumpkin Festival wat deur Corné van Greunen gekweek is en presies 519,5 kg geweeg het.

Piet het R14 000 vir sy pampoen gewen en Elizna het R7 000 vir die tweede plek behaal. Pryse is ook onder meer uitgedeel vir die mooiste en die lelikste pampoene.

Al die geld wat by die fees gemaak is, word in Heidelberg teruggeploeg. Vir meer inligting, besoek die Giant Pumpkin Festival-webwerf.

Ronèl Swart (wat Elizna Lotz verteenwoordig het), Piet Lotz en Pinkie Swart (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Casper Labuschagne ·

Dit is die soort pampoen wat jy saamneem as geskenk wanneer jy vir jou skoonma gaan kuier…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.