Eie Helpende Hand-tak vir Akademia-studente

Die dagbestuur van die Akademia Helde-tak. V.l.n.r. is May-li Swanepoel (voorsitter); Marilie Louw (sosiale media projekpleier); Izanda Raath (sekretaresse); Markus Wissekerke (ondervoorsitter). (Foto: Verskaf)

Solidariteit Helpende Hand het pas ʼn nasionale tak gestig wat slegs uit studente bestaan. Dié tak vir Akademia-studente, die sogenaamde Akademia Helde, is Donderdag tydens ʼn geleentheid by die Centurion-kampus bekend gemaak.

Akademia-studente is tydens hierdie geleentheid ingelig oor Helpende Hand se fokus en projekte, terwyl die sanger en Die Kontrak-ster Ivan Roux die vermaak verskaf het.

“Die holistiese welstand van ons mense is vir ons belangrik,” sê Antoinette Deysel, Helpende Hand se adjunk- uitvoerende hoof van gemeenskapsontwikkeling.

“Helpende Hand se missie is om maatskaplik gebaseerde gemeenskapsontwikkeling in gemeenskappe te bevorder deur volhoubare ontwikkelingsprogramme en -projekte, opleiding, netwerkvorming en hulpbronontginning. Sodoende kan elkeen deur sy of haar gemeenskap as ʼn ontwikkelde, selfstandige, selfverantwoordelike en optimaal funksionerende mens gevorm word wat gesonde, funksionerende gemeenskappe tot gevolg het.”

Met die stigting van ʼn nasionale tak vir Akademia-studente word die samewerking van twee instellings bevorder om binne ʼn gevestigde struktuur aan studente die geleentheid te bied om verder holisties te ontwikkel tot goed gebalanseerde, selfstandige en produktiewe lede van die gemeenskap.

Die dagbestuur van die tak saam met die Helpende Hand-gelukbringer. (Foto: Verskaf)

“Verder maak ons dit vir hierdie studente moontlik om ook in die gemeenskappe waar hulle funksioneer hul sterkpunte tot voordeel van die gemeenskap te gebruik. Elkeen van ons het Godgegewe talente wat ons kan gebruik om die ontwikkelingsproses met behulp van volhoubare projekte te fasiliteer.”

Deysel sê studente het ʼn positiewe en passievolle aanslag en Helpende Hand sien uit daarna om hierdie energie in gemeenskappe in te stuur.

“Heeltydse en afstandstudente kan as projekleiers en vrywilligers by Akademia Helde in hul direkte gemeenskappe betrokke raak. Ons poog om binnekort projekleiers by elke Akademia-studiesentrum te identifiseer. Die tak word begelei om by die veilige struktuur van Helpende Hand in te skakel waarbinne hulle projekte kan inisieer en uitvoer.”

May-li Swanepoel, ʼn derdejaarstudent aan Akademia en die Akademia Helde se voorsitter, sê die stigting van die tak het ʼn besonderse energie onder studente losgemaak.

“Dit is vir ons ongelooflik lekker om te sien hoe die Covid-19-pandemie verskillende mense met dieselfde passie vir gemeenskapsopheffing bymekaargebring het en hoe daar hoop na die hopeloses gebring word. Ons wil die prentjie wat studente van gemeenskapsbetrokkenheid het, herontwerp en die hart van Helpende Hand op so ʼn wyse oordra dat studente daarby aanklank vind,” sê Swanepoel.

Ivan Roux het die vermaak op die geleentheid verskaf. (Foto: Verskaf)

Swanepoel is ook ondervoorsitter van Akademia se studenteraad, adjunkredaktrise van die studentenuusbrief en BCom-student in ondernemingsbestuur. Sy sê die tak se naam, Akademia Helde, is deur woorde van die groep Eden se liedjie, “Superhero”, geïnspireer.

“Ons wil elkeen die Superman, Batman, Ironman, Spiderman, sommer al die ‘superheroes’ wees. Al slaan die donderweer en waai warrelwinde teen jou deur, sal die helde binne ons net soos ʼn reus vir jou baklei,” sê sy.

Desiree Muller, studentesakebestuurder by Akademia, sê die projek is een van die maniere waarop Akademia haar opvoedingsideaal verwesenlik deur studente akademies toe te rus en aan te moedig om in hul gemeenskappe betrokke te raak waar hulle die opdrag van rentmeesterskap voluit kan uitleef en ʼn verskil kan maak.

“Akademia is daarop toegespits om vir studente ʼn betekenisvolle leerervaring te skep waarin hulle op verskeie gebiede ontwikkel word om ʼn bydrae tot gemeenskappe en die toekoms te maak,” sê Muller.

Om die Akademia Helde te ondersteun, sluit aan by akademiahand.co.za as ʼn Helpende Hand-ondersteuner. Jy kan ook ʼn eenmalige skenking doen by helpendehand.co.za/donasie en gebruik AKA02 as verwysing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.