Eindig 2020 sterk vir ʼn goeie begin in 2021

(Foto: Verskaf)

Min mense sou verlede jaar kon dink dat 2020 so ʼn onstuimige jaar van uitdagings, veranderinge en teleurstellings sou wees. Gelukkig is die einde van hierdie jaar in sig en 2021 – ʼn kans vir ʼn nuwe begin – lê om die draai.

Jy staan nou voor ʼn keuse: Gaan jy swig voor die uitdagings van 2020 of gaan jy opstaan en die jaar sterk eindig?

“Enige atleet sal jou vertel dat hulle ʼn wedloop sterk voltooi. Ons is aan die einde van ʼn baie moeilike pad, maar jy moet jouself vra hoe wil jy die jaar afhandel?” vra die sielkundige Ilse de Beer.

De Beer sê 2020 se swaarkry lê nog op talle mense se harte. Dit is ʼn jaar wat gekenmerk is deur isolasie, werkonsekerheid, verlies aan finansiële stabiliteit en ook tragiese lewensverliese.

Sonder om afbreuk te doen aan hierdie persoonlike en professionele verliese, sê De Beer dit is moontlik om met aanvaarding en ʼn sterk, positiewe ingesteldheid van ʼn plek van wanhoop na een van waardering en hoop te beweeg.

“As hierdie jaar ons een ding geleer het, dan is dit veerkragtigheid. Ons kan onsself op die skouer klop en sê ‘welgedaan, jy het dit gemaak’.

“Hou op om die verlede dop te hou. Kyk eerder vorentoe want dit sal jou help om emosioneel en geestelik sterk te eindig.”

De Beer erken dit is moeilik om net positief te wees. ʼn Positiewe ingesteldheid, veerkragtigheid en emosionele taaiheid moet geoefen word, elke dag.

Sy verwys na Peter Clough en Doug Strycharczyk se boek Developing Mental Toughness en gee vyf tegnieke om jou emosionele taaiheid te ontwikkel:

  • Positiewe denke: Streef daarna om elke dag optimisme te kweek deur te fokus op die goeie en wat jy kan beheer, terwyl jy negatiewe energie en gedagtes in hulle spore stop as dit opduik.
  • Beheer jou angstigheid: Herken en erken as jy angstig voel, maar moenie toelaat dat dit jou oorweldig nie. Neem tyd, praat met iemand, beoefen ontspanningstegnieke en doen oefening om stres en angs te verlig.
  • Visualisering: Konsentreer op dit wat jy reeds het, asook wat jy graag wil hê of bereik, eerder as om te fokus op dit wat jy in hierdie jaar verloor het.
  • Stel doelwitte: Stel haalbare doelwitte van dit wat jy in jou persoonlike lewe en by die werk wil bereik. Skryf dit neer en breek dit af in mikro-stappe. Neem drie van hierdie stappe elke dag om jou doelwitte te bereik. Dit bring ʼn gevoel van roepingsgedrewenheid en prestasie as jy sien hoe jy jou doelwitte verwesenlik.
  • Beheer jou aandag: Kies noukeuring waaraan jy jou energie en aandag wy. Fokus op dit wat jy kan beheer en op die positiewe aspekte van jou lewe. As dit beteken jy moet ʼn blaaskans van sosiale media neem of nie die nuus kyk in die vakansietyd nie, doen dit.

De Beer gee nog ʼn paar wenke om 2020 emosioneel sterk af te sluit:

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

By die werk:

  • As jou werkplek verander het as gevolg van die pandemie, konsentreer op die positiewe, soos dat jy nog ʼn werk en ʼn inkomste het in die tyd. Dit sal help om die gevoelens van moedeloosheid, uitputting en uitbranding te oorkom.
  • Stel ʼn skedule op en doen een taak op ʼn slag. Selfs klein prestasies by die werk sal jou bekwaam en in beheer laat voel.
  • Probeer om informele gesprekke ligter te hou as om net op die probleme by die werk te fokus.
  • Een van die gevolge van Covid-19 was die afsondering van kollegas en die verlies aan ʼn gevoel van samehorigheid by die werk. Beplan aktiwiteite om interaksie tussen kollegas te bevorder. “Al is dit hoe eenvoudig, dit kan help om die gevoel van kameraadskap tussen kollegas te bevorder,” sê De Beer.
  • Moenie in die strik trap van “die werk eindig nooit nie”. Besluit wat is nog realisties haalbaar in 2020. Stel saam met jou werkgewer, menslike hulpbronne en kollegas realistiese haalbare doelwitte vir die einde van die jaar, in plaas daarvan om alles te probeer voltooi. Die behaling van hierdie doelwitte sal bydra tot ʼn positiewe begin in die nuwe jaar.
  • Beplan en wees voorbereid. Daar is krag in paraatheid. Begin groepbesprekings en dinkskrums om nuwe idees te kry oor die verbetering van stelsels en prosesse om ʼn beter, gelukkiger werkomgewing te skep. Laat almal fokus op ʼn visie en doelwitte vir 2021.

(Foto: Jonathan Borba/Unsplash)

Tuis:

  • Poog om sover moontlik terug te keer na die roetines en gewoontes wat jy voor die pandemie gehad het. As jy in die middae met jou honde gaan stap het, of Saterdae gaan stap het, kan jy dit nou weer begin doen.
  • Handhaaf ʼn gereelde roetine tuis vir etenstye, speeltyd en slaap. Dit verskaf ʼn ondersteunende struktuur aan jou en jou gesinslede.
  • Maak die beste van die feestyd om gehalte tyd saam met vriende en familie deur te bring. Beplan uitstappies, bak, speel bordspeletjies en stap saam. Vind die vreugde in hierdie aktiwiteite.
  • Konsentreer op die versekering en vertroosting van die wete dat “ons nog mekaar het” en “ons saam is hierin”. Dit is ook baie belangrik om dit aan kinders te verbaliseer.
  • Beoefen dankbaarheid. Dit verander jou uitkyk op die wêreld en hoe jy daarin leef en daarop reageer. Dit is boonop ʼn belangrike komponent van ʼn gesonde geestestoestand. Leer jou kinders die beginsel van dankbaarheid en vestig veral hulle aandag op die klein en eenvoudige goed waarvoor ʼn mens dankbaar kan wees.
  • Onthou dat jou energie ʼn kragtige uitwerking op jou kinders het, of dit verbaal of nie-verbaal uitgedra word. As kinders sien dat hulle ouers positiwiteit behou ondanks alles wat in hierdie jaar gebeur het, help dit hulle om sterk en hoopvol te wees. Dit bevorder selfvertroue en optimisme.
  • Sorg dat kinders hul ouderdomgepaste verantwoordelikhede nakom. Hulle moet byvoorbeeld steeds hul beddens opmaak, hul speelgoed optel of troeteldiere tydens die vakansie voer. Moenie 2020 as ʼn verskoning gebruik om hierdie dinge te laat verlore gaan nie, dit is nadelig vir ʼn kind op die lang termyn. Kinders kan baie positiewe eienskappe aanleer, soos die voltooiing van take, vasberadenheid en aanpasbaarheid. Hoe meer normaal die gesin funksioneer, hoe gesonder is dit vir kinders, en vir jouself.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.