Ek is ʼn alien op soek na God-asem

Die “alien-jagters” rus nooit! Nasa het al weer in die afgelope week ʼn mediakonferensie gehou om hulle nuutste ontdekkings te deel: “important details regarding exoplanets beyond our galactic neighbourhood”. Net die vorige week het Nasa aangekondig dat hulle nou al meer as 60 eksoplanete gevind het!

Ek wil die arme mense uit hulle alien-jagtog help en sê: “Look no further! I am an alien!” Ek is hier, maar nie van hier nie. In hierdie wêreld maar eintlik van ʼn ander wêreld! Net tydelik hier – soos ʼn tentwoner of ʼn bywoner – ʼn vreemdeling.

Ek lyk dalk nie uit plek nie, maar dít is hoekom ek nodig het om te onthou dat ek ʼn alien is …

As ek as mens op ʼn missie na die maan toe gaan, het my longe die stof nodig wat ek ken van my eintlike huis – suurstof.

As ek as vreemdeling van ʼn ander wêreld – God se koninkrykswêreld – hier op aarde wil leef, het ek ook die asem nodig wat my liggaam en my longe ken van my eintlike huis. Ek het God-asem nodig! Ek het dit nodig soos iemand wat eintlik permanent aan life-support gekoppel is. Anders sal ek bewusteloos ronddryf en nie die missie waarmee ek gestuur is, kan voltooi nie!

En tog is dit presies wat gebeur …

Jesus sê in Johannes 15:5: “Ek is die Wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hulle, dra baie vrug, maar sonder My kan jy niks doen nie!” Hey, alien, is jy gekoppel aan jou life-support waarsonder jy niks kan doen nie?

En wat asem jy in? Die Engelse vertaling van 2 Timoteus 3:16 verwoord “God-geïnspireerd” as “God-breathed” – die hele Skrif is deur God “geasem”. En as ek en jy dit nou weer op ons beurt inasem, “het (dit) groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ʼn regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk”. Dis juis om dié rede en missie dat ek eintlik hier is …

As jy verstik en versmoor aan ʼn God-asem-arm-lewe, asem uit. En asem nuut in! God self wil jou in beweging in inspireer tot ʼn saak-maak-lewe!

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.