‘Ek moes nie geleef het nie’

Andrew Oberle (Foto: Facebook)

Nadat ʼn Amerikaanse man in 2012 by die dood omgedraai het toe hy as vrywilliger vir ʼn Suid-Afrikaanse reservaat deur sjimpansees “aangeval en verskeur” is, wy hy nou sy lewe aan navorsing en motiveringspraatjies wat ander traumapasiënte óók sal help om ten volle gerehabiliteer te word.

Andrew Oberle, wat volgens dokters dié aanval “wonderbaarlik oorleef het”, was deel van ʼn groep buitelandse vrywilligers wat by ʼn reservaat gewerk het met die doel om veldnavorsing op ape te doen. Oberle wou spesifiek die navorsing doen omdat hy ʼn loopbaan in dié navorsingsveld beoog het.

Ná die aanval het die moontlikhede vir só ʼn loopbaan egter begin vervaag, en Oberle moes “doelbewus” besluit dat hy ook uit dié omstandighede die positiewe sy moet raaksien om sodoende ʼn nuwe lewe te kan opbou.

“Die eerste ding wat ek onthou toe ek van die medies geïnduseerde koma in die Netcare Milpark-hospitaal wakker geword het, is my ma en pa wat langs my bed gestaan en vir my gekyk het. Hulle het terselfdertyd hartseer en verlig gelyk. My ma was die eerste een wat my vrae begin vra het, en tóé begin ek stelselmatig onthou wat met my gebeur het,” vertel Oberle in ʼn mediaverklaring.

“Ek onthou hoe my ma vir my die kaartjies van mense gewys het wat my van oor die wêreld sterkte en voorspoed toegewens en gesê het dat hulle vir my bid. Nadat ek die kaartjies gelees het, het my ma dit op die voetenent van die bed neergesit. Ek onthou die bloedbevlekte verbande wat om my vasgebind was wanneer ek na myself gekyk het – ek was in staat om verby dit alles te kyk en eerder die woorde van ondersteuning en deernis raak te sien. Dit het my kop besig gehou, en ek het geweet dinge sou op ʼn manier oukei wees.”

Dr. Paul Williams, deel van die multidissiplinêre span dokters wat na Oberle omgesien het, sê Oberle het “kritieke beserings” opgedoen en kon as gevolg daarvan nie terugkeer na die VSA nie. “Andrew se toestand was baie kompleks en hy het die sorg van ʼn multidissiplinêre span benodig om aandag te gee aan verskeie aspekte van sy gesondheid. Hy het net daar gelê – hy was kritiek beseer en in die fleur van sy lewe. Hy het ongelooflike dapperheid en vasberadenheid getoon om in staat te wees om terug huis toe te kan gaan en die lewe weer in die oë te kyk.”

Oberle het intussen by die Medical Centre Development by die St. Louis-universiteit in die VSA aangesluit waar hy tans saam met ʼn span kundiges werk om ʼn rehabilitasieprogram vir traumapasiënte te ontwerp. Dié program, die Oberle Institute-program, is na hom vernoem.

Andrew Oberle in die hospitaal vyf jaar gelede (Foto: Facebook)

“Ons poog om mense op alle vlakke te bemagtig en wil pasiënte bystaan in die hele proses van oorlewing totdat hulle weer floreer. Die visie vir die program is algehele genesing vir pasiënte wat uiterste gevalle van trauma beleef het en talle struikelblokke moet oorkom op hul pad na genesing.”

Oberle, wat ook onlangs die “liefde van sy lewe” ontmoet het, het vanjaar ʼn dogtertjie in die lewe verwelkom. Hy is ook besig met ʼn meestersgraad in gesondheidsadministrasie met die klem op hoe gesondheidsorgbestuur en -beleidstellings doeltreffend aangewend kan word om te verseker dat pasiënte altyd die bes moontlike sorg kry.

“Die feit dat ek lewe en die nuwe lewe wat ek ontvang het, is ʼn wonderwerk. As mens na die omvang van my beserings sou kyk, moes ek nie gelewe het ná die aanval nie. Deesdae is ek elke oggend dankbaar dat ek my oë weer kan oopmaak en die lewe kan lééf. Dít sou nie moontlik gewees het sonder die span dokters en verpleegsters wat na my omgesien het nie. Ek het nou ʼn nuwe kans op lewe,” het hy gesê.

Oberle se geval is een van vele merkwaardige stories van die Netcare Milpark-hospitaal se traumaeenheid wat in November vanjaar sy 25ste bestaansjaar vier. Vir meer inligting, besoek dié hospitaal se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.