‘Ek ontmoet my seun na 40 jaar!’

Salome Vonita Tadford (55) het onlangs haar seun, Brandon Blignaut (40), vir die eerste keer ontmoet. (Foto verskaf)

Die senuwees het behoorlik geknaag, maar die vreugdevure het hoog gebrand toe Salome Vonita Tadford (55) onlangs haar seun, Brandon Blignaut (40), vir die eerste keer ontmoet het.

Maroela Media het verlede jaar in November oor Salome berig wat dekades lank vergeefs na haar seun gesoek het. Hy is gebore toe sy skaars 14 jaar oud was en is op drie maande teen haar sin aangeneem.

Al wat sy van hom oor gehad het, was ʼn babafoto. Dié is wyd en syd in die hoofstroommedia, sowel as op sosiale media, gedeel in ʼn soektog na haar verlore seun onder die opskrif: “Son where are you?”

Die verlange na hom het nooit gewyk nie, al het sy nog drie kinders gehad.

“Ek sal altyd vir hom lief wees en dink elke dag aan hom. Al weet ek net dat hy veilig en gelukkig is, sal ek tevrede wees”, het Salome destyds gesê.

Haar kinderjare was traumaties en het seksuele mishandeling ingesluit, maar die hartverskeurendste gebeurtenis was toe Brandon, vermoedelik onwettig, van haar af weggeneem is.

Intussen is Brandon aangeneem deur ʼn egpaar wat vir hom en sy broer Zane, wat ook aangeneem is, wonderlike kinderjare gegee het.

“Ek het tweetalig in Nelspruit en Bethal grootgeword want my aanneempa was Engelssprekend en my aanneemma Afrikaanssprekend. My aanneemma was my beste vriendin. Sy en my pa het ons op uitstappies geneem om te gaan visvang. Ons het tennis gespeel en die buitelewe geniet.”

Ongelukkig is sy aanneemouers albei oorlede – sy ma in ʼn motorongeluk toe hy maar 11 jaar oud was en sy pa in 2009 weens ʼn hartaanval.

Hy het eers op 14 uitgevind dat hy aangeneem is, maar sy aanneemgesin was so goed vir hom dat hy aanvanklik nie die behoefte gehad het om na sy biologiese ma te soek nie. Hy en Zane is baie geheg aan mekaar; soos bloedbroers.

“My broer het geweet ons is aangeneem en hy het sy biologiese ma ontmoet. Toe my pa my vra of ek my biologiese ma wil ontmoet, was ek aanvanklik nie gereed daarvoor nie. Na sy dood het die behoefte aan ʼn ontmoeting met haar wel by my ontstaan.”

Sy eksmeisie het besluit om ʼn soektog op tou te sit en het dokumente in die hande gekry wat bewyse daarvan was dat Salome aan hom geboorte gegee het. Brandon se aanneemma het sy tweede naam “Fritz”, behou wat die soektog vergemaklik het.

Salome Vonita Tadford het haar seer gebruik om ander in dieselfde situasie te help. (Foto verskaf)

Sy het daarna voor die rekenaar gesit en Salome binne een aand opgespoor nadat sy die name begin google het.

Salome vertel dat sy sprakeloos was toe sy vir die eerste keer na dié lang soektog van Brandon gehoor het. Brandon se eksmeisie het haar per telefoon ingelig dat Brandon moontlik haar seun is.

“Ek het die foon vir Leonard gegee, want ek was nie seker of dit ʼn scam was nie. Toe stuur sy dokumente met aannemingspapiere waarop ek my oorlede ma se handtekening herken het.”

Brandon sê: “Dit was vir my ook ʼn groot skok toe ek uitvind dat sy al die jare na my gesoek het. Voordat ek met haar oor die telefoon gepraat het, het ek eers vir haar ʼn boodskap gestuur. Haar kontakbesonderhede was op Facebook.”

Toe hy Salome bel was sy ook geskok om sy stem na al die jare te hoor. Dit was egter terselfdertyd vir haar ʼn ongelooflike ervaring.

“Ek het die foon aan Leonard gegee en hy het vir Brandon die hele storie vertel en ook die mediaberigte oor die soektog gestuur.

“Ek het nooit gedink die ontmoeting sou so vinnig plaasvind nie. Ek het my biologiese pa (Salome is ook aangeneem) eers ontmoet toe hy 72 was en ek het gedink ek sal Brandon ook eers aan die einde van my lewe ontmoet.”

Salome wou weet wanneer sy Brandon kon ontmoet. Sy en Leonard, met wie sy al 37 jaar lank gelukkig getroud is en wat haar deurentyd met haar soektog ondersteun het, het toe sommer dieselfde dag van Krugersdorp af na die Kolonade-winkelsentrum in die noorde van Pretoria gery waar die ontmoeting plaasgevind het.

Op pad soontoe wou haar man by haar weet of sy senuweeagtig was. Toe sê sy vir hom sy het net ʼn eienaardige gevoel. Sy dink sy is dalk meer opgewonde as wat sy senuweeagtig is. Dis mos ʼn gelukkige gebeurtenis.

“Ek het sommer geweet dinge sal goed afloop. Ek was glad nie senuweeagtig nie – iets wat ek moes aanleer vir my sangoptredes,” sê Brandon.

Was hy verstom om te sien hoe jonk Salome is?

“Nee, eerder oor hoe kort sy is!” vertel Brandon wat amper 2 meter lank is. Sy biologiese halfsuster, Salome se dogter, is ook baie lank en hulle trek na mekaar. Die ontmoeting is op video opgeneem.

Salome kan glad nie onthou wat hul eerste woorde aan mekaar was nie. Sy vertel hoe sy ewe verbouereerd haar hand na Brandon, wat homself as ʼn ekstrovert beskryf, uitgesteek het. Maar toe druk hy haar net spontaan. Die ys was gebreek.

“Ons het ure lank gekuier en lekker gesels. Ons het glad nie ongemaklik gevoel nie. Daar was dadelik ʼn verbintenis. Ek het hom uitgevra oor sy kinderjare en sy huidige lewe.”

Brandon het ook maar teëspoed op sy lewenspad gehad. Hy is geskei en vertel dat hy in ʼn stadium alles verloor het, maar hy het ʼn 16-jarige dogter vir wie hy onvoorwaardelik lief is. Hy kom nou weer op sy voete met sy eie onderneming en sing ook deeltyds in kuierplekke.

Na die heuglike ontmoeting kuier hulle gereeld saam en Brandon het ook al byna al sy sibbes ontmoet. Hy kom met almal, veral sy jongste suster, goed oor die weg.

Brandon is glad nie kwaad vir Salome oor die feit dat hy aangeneem is nie. Hy het begrip daarvoor.

Hy en Salome lyk baie na mekaar. Hy vertel egter dat hy ook baie na sy aanneemma lyk. Sy het dieselfde bruin oë en donker hare as hy gehad. Hulle het tot ʼn geboortevlek op dieselfde plek gehad.

(Foto verskaf)

Salome se raad aan mense in dieselfde omstandighede, is dat hulle nooit moet ophou soek nie. En, jou kind bly jou kind.

“Hou aan glo en wees positief. Moet nooit moed opgee nie. Dis al wat ʼn mens kan doen.

“Dit lyk vir my asof Brandon ʼn goeie persoonlikheid het. Ons is nog besig om mekaar te leer ken. Ons kan nie wag om hom deel van ons familie te maak nie. Hy bel my elke dag,” vertel Salome.

“Ek vertrou dat ek ook binnekort vir Zane sal ontmoet. Hy is nou ook deel van die pakket.”

En wat noem hy haar?

“Ma.”

Die woord wat sy al 40 jaar gelede by hom moes gehoor het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

melaney ·

Pragtige storie. Bly hulle het uiteindelik mekaar ontmoet. Mag hulle toekoms saam vreugdevol wees.

Tanya ·

Ahhhh wat ‘n wonderlike storie met ‘n pragtige einde! So bly julle het mekaar gevind…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.