Elani wil graag die wêreld sien

Elani Meyer

Elani Meyer


Elani Meyer van Afrikaans Hoёr Meisieskool in Pretoria is nog een van dié skool se uitblinkers wat agt onderskeidings verwerf het. Haar vakke was Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensoriëntering, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe, rekeningkunde en dramatiese kunste.

Elani is die jongste dogter van Gert en Lynette Meyer. Haar pa is ʼn bourekenaar en haar ma is ʼn mediese dokter. Haar twee ouer broers studeer reeds aan die Universiteit Stellenbosch. Hennie studeer BRek en Michael is besig met wiskundige wetenskappe.

Elani gaan haar vakansie deurbring by Oubos in die Tsitsikamma voordat sy by haar broers in Matieland aansluit. Sy beplan om BRek-LLB te studeer ter voorbereiding vir ʼn loopbaan in die regte. Sy droom daarvan om ʼn kommersiële advokaat in internasionale reg te wees. Sy wil graag eendag in Frankryk woon en om die wêreld vol te reis is haar grootste begeerte.

Elani se pa is haar grootste rolmodel: “Hy is die hardste werker wat ek ken, asook die positiefste persoon en ek strewe daarna om eendag altyd so vriendelik en hardwerkend te wees.” Sy sê haar beste eienskap is haar deursettingsvermoë en haar swakste eienskap is haar ongeduld. Sy beskryf haarself as ʼn positiewe, sosiale mens wat altyd lojaal aan familie en vriende is.

Hierdie ster-leerling het ook deelgeneem aan die ATKV provinsiale debatskompetisie die afgelope twee jaar. Verlede jaar het sy onder die tien top-provinsiale redenaars geëindig. Sy was ook ʼn finalis in die Van Huyssteens-redenaarsfees (2015 en 2016), het deelgeneem aan die Afrikaanse Olimpiade asook die De Beers English Olympiad waar sy ʼn silwer toekenning verdien het.

Elani skryf haar sukses toe aan harde werk en mense se nimmereindigende ondersteuning. Haar raad aan matrikulante is:

Hou altyd aan werk en oefen, want dis baie moeilik om iemand te wen wat nooit ophou nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.