Eleos Kids-kampe takel ‘skuldgevoelens’

(Foto: Argieffoto/Pixabay)

Die hartseer is dat vele kinderlyfies verantwoordelik voel vir grootmense se dade en optrede. Baie van hulle voel skuldig omdat hul omstandighede sleg is of oor daar nie kos in die huis is nie. Hulle voel dat as hulle ouliker of beter was, sou pappa hulle dalk nie verlaat het nie.

Lizelle Lotter, narratiewe terapeut en aanbieder van die Eleos Kids-kampe, sê dit is waarom die volgende Eleos Kids-kamp die tema van “skuldgevoelens” aanpak. Dié kamp vind van 6 tot 8 Maart plaas.

“Die laaste keer wat ons dit aangebied het, het ons kinders gevra om ʼn lys te maak van al die goed waaroor hulle skuldig voel,” sê Lotter.

“Vir byna twee ure het die een na die ander laerskoolkind se hand opgeskiet. Ek onthou goed hoe geskok ek was en moes keer op keer my trane sluk. Dit is hartseer dat hierdie kinders hierdie seer beleef, maar dit is nog hartseerder dat kinders voel dit is hulle skuld. Op die kamp leer ons die kinders om te begin onderskei tussen regte skuldgevoelens en vals skuldgevoelens sodat die waarheid hulle kan vrymaak.”

Hier is ʼn paar van die kwessies wat kinders dink is hulle skuld:

  • As jou ouers nie werk het nie en nie vir jou kan sorg nie.
  • As niemand van jou hou of jou by hulle wil hê nie.
  • As daar nie kos in die huis is nie en jy in die asblik moet gaan soek vir kos.
  • As jy nie ʼn ma of ʼn pa ken nie of een van hulle het weggeloop.
  • As mamma of pappa jou dwing om te jok oor dinge by die huis.
  • As mense vir wie jy lief is hulself sny of seermaak.
  • As mamma of pappa die kos wat julle kry, verkoop vir drankgeld.
  • As mamma of pappa selfmoord pleeg.
  • As iemand na jou kyk of aan jou vat op ʼn manier waarvan jy nie hou nie.
  • As jy op straat moet bly.
  • As mamma en pappa baklei en die een die ander een slaan.

Tydens die kamp leer die kinders dat hulle nie verantwoordelik is vir volwassenes se keuses nie.

“Hulle word geleer dat hulle nie hoef skuldig te voel oor die situasie by die huis en hul ouers se optrede nie. Dit in wese is bevrydend vir hierdie kinders en dit is so belangrik dat kinders leer dat die lewe onregverdig is en dit nie is dat hulle verdien wat hulle kry nie.”

Baie kinders worstel met woede teenoor hulself juis as gevolg hiervan en het so ʼn negatiewe selfwaarde.

“Ons gaan tydens die kamp die kinders help om anders te begin dink en nie die las van skuldgevoelens te dra nie. Skuldgevoelens is baie keer ongegrond en dit is vir hulle lewensveranderend om dit te besef en daarvan bevry te word.”

Eleos is ʼn geregistreerde niewinsgewende organisasie wat daarna streef om ʼn verskil te maak in die lewens van minderbevoorregte kinders en hul families in die weste van Pretoria.

“Die kinders kom uit baie moeilike maatskaplike en emosionele omstandighede. Op die kampe wil ons hulle dan net weer die geleentheid gee om kind te wees, blootstelling gee aan warm water, ʼn warm bed, die voorreg van drie maaltye per dag, pret. Hulle leer ook dat God oor hulle droom en ʼn plan het met hulle lewe,” sê Lotter.

  • As jy graag betrokke wil raak by die kampe, kontak vir Lizelle Lotter by [email protected] of 083 660 0464.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.