Elize se ongewone dagtaak

lr-96

Elize Roux.

Haar liefde vir diere en die bosveld het Elize Roux van Sequel Taxidermy in Vanderbijlpark op die pad van taksidermie laat beland en hierdie passie het nou vir haar ʼn groot prys ingepalm in Akademia se jaarlikse Sakeplankompetisie, met Atterbury Trust as borg.

Tydens die kompetisie word ster-entrepreneurs met belowende ondernemings wat groeipotensiaal het, geïdentifiseer. Die wenners is onlangs by die Atterbury Teater aangewys en Elize is vanjaar se wenner vir die beste sakeplan vir ʼn nuwe onderneming. Ons het met hierdie passievolle sakevrou gesels oor haar buitengewone dagtaak.

Vertel ons meer van jou onderneming.

Ek is die alleeneienaar en stigter van Sequel Taxidermy, wat ek in 2014 begin het en ek het ook ʼn looiery bygevoeg in 2015. Dis my speelpark waar ek myself elke dag kan uitleef. Ons vervaardig jag-trofeë en gelooide wildsvelle op aanvraag. Taksidermie en looiery is meer as net werk vir my. Dis ʼn passie en my droom om ʼn volhoubare onderneming te bou. Ek het nou 10 voltydse werkers en ons is ʼn span wat saamwerk en saam ons suksesse vier.

Dis omtrent ʼn buitengewone dagtaak – hoe groot is die aanvraag?  Hoe en wanneer het die idee vir die onderneming ontstaan?

Taksidermie is ʼn rare bedryf, maar die aanvraag is geweldig groot. Jou naam en reputasie is baie belangrik, aangesien die meeste jagters in ʼn gebied mekaar ken en aan dieselfde jagverenigings behoort. My liefde vir diere en die bosveld het my op taksidermie laat besluit. Dit gaan oor respek vir die diere, wat beslis ook my jagter-kliënte beskryf.

Kry jy ooit snaakse kyke omdat mense nie ʼn vrou in hierdie bedryf verwag nie?

Interessant genoeg is die vroue besig om oor te vat in taksidermie. Ons het mos die energie om tyd te bestee aan klein goedjies en dis dan juis dit wat vroue so goed maak hiermee. Elke ooghaartjie moet presies in die regte rigting lê, selfs die oor-haartjies moet realisties lyk.

Hoe betrokke is jy? Stop jy self diere op?

Ja, ek werk self ook. Dis ongelooflik bevredigend om terug te staan en na jou handewerk te kyk. Soms, as ek na ʼn voltooide trofee kyk, kan ek skaars glo dat ek en my mense sulke ongelooflike werk gedoen het! Die looiery ook – velle kom kliphard en vuil hier aan en as ons klaar is, is hulle soos sagte kombersies. Dis so lekker hier, ek geniet myself elke dag meer.

Watter dier is die moeilikste om op te stop?

Dis nie dat sekere diere moeiliker is nie, maar wat wel ʼn uitdaging kan wees, is die posisie waarin die kliënt die dier gemonteer wil hê. Dit kan nogal ʼn storie afgee. Dis egter baie belangrik om die anatomie van die diere te bestudeer, soos die are op die gesig en die nekspiere. Alles speel ʼn belangrike rol.

Wat geniet jy die meeste van jou onderneming?

Dis ʼn baie moeilike vraag. Die werk voel soos speel en ek geniet dit verskriklik. My span is opgewonde mense, vol energie en pret en ons werk baie lekker saam. En dan is daar my kliënte, wat ek net so baie geniet. Niemand laai net af of op nie, hier is altyd tyd vir kuier, koffie, jagfoto’s wys en stories vertel.

En wat is die uitdagendste aspek?

Die moeilikste is om orals te wees. Ons bied ook ʼn skoonmaakdiens vir trofeë aan, by die kliënt se huis, sodat die trofeë nie onnodig vervoer hoef te word nie. Ek is deel van die skoonmaakspan en is die volle tyd by die kliënt se huis. En ons werk landwyd! Ons is byvoorbeeld reeds vol bespreek vir Februarie 2017 in Knysna. Gelukkig het ek nou iemand voltyds in die kantoor wat die produksie daagliks kontrolleer en probleme kan oplos.

Wat het jy gewen en hoe gaan jy die prysgeld aanwend?
Die pryse is ongelooflik en sluit kundige hulp en sakebystand in, wat van onskatbare waarde is. Ek is baie opgewonde daaroor en hoop om vroeg in die nuwe jaar daarmee te begin. Die kontantprys het reeds vir my die masjien gekoop wat my omset in 2017 gaan verdubbel.

Wat is jou droom vir jou besigheid?

Ek hoop dat Sequel volgende jaar gereed sal wees om aansoek te doen vir in- en uitvoere. Ons is ʼn nuwe onderneming, maar is reeds leiers op verskeie gebiede. Ek sal graag ʼn taksidermie en looiery wil bestuur wat anders is as die res, wat kliëntetevredenheid, rekordtyd-aflewering en top gehalte betref. Ek stel nie belang daarin om net nóg ʼn verskaffer te wees nie – ek wil dié taksidermie-verskaffer en looiery wees.

 

Agtergrond oor Akademia se Sakeplankompetisie
Vanjaar was daar ongeveer 69 inskrywings in die twee kategorieë, nuwe en bestaande sakeplanne, vertel Chris du Plessis, Akademia se bemarkingshoof. Die totale prysgeld het sowat R1,5 miljoen beloop en die wenner in elke afdeling het pryse ter waarde van bykans R591 000 gewen, met stewige pryse vir naaswenners (R99 000) en dié in derde (R34 000) en vierde plekke (R26 500). Die beoordelaars was op die uitkyk vir entrepreneurs wat die beste potensiaal toon vir groei en uitbreiding en wat dus die meeste sou baat by die ondersteuning wat die pryse verskaf. “Elize was in die kategorie vir nuwe sakeplanne die definitiewe wenner, met die beste begrip van haarself en haar tekortkominge, haar onderneming en waar dit in die groter prentjie inpas,” vertel Du Plessis. Die keuringsproses het twee werkswinkels en ʼn ekstra sake-ontbyt ingesluit.

Bron: Atterbury Trust

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Trofee ·

Indien ek my sin kon kry sou ek graag van ‘n paar ouens se velle ook trofees wou maak . . .
Ek het darem die voorreg gehad om jare gelede in ‘n biblioteek die portrette van burgemeesters op te hang. Skertsend daarna kon ek aan ‘n paar uitwys dat ek hulleself graag sou wou ophang maar darem dit met hulle portrette kon doen !!

Sekering ·

Goeie werk! Nog ‘n mooi voorbeeld van hoe die jag bedryf werk skep vir gewone Suid Afrikaners.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.