Emmalize se hart klop vir mediese sorg

ʼn Hartsdroom word waar. Emmalize tydens haar gradeplegtigheid in 2013. (Foto verskaf)

Deur Elize Perrin

Vir Emmalize Lochner was kleintyd se dokter-dokter speel meer as net ʼn speletjie. Dit was ʼn hartsdroom.

Drupsgewys

Ten spyte van goeie matriekuitslae in 2003, is Emmalize nie gekeur om met haar mediese studies te begin nie. Alhoewel sy dit graag anders sou wou hê, het sy haar opleiding in verpleegkunde vol entoesiasme aan die Universiteit van die Vrystaat aangepak.

Die droom om dokter te word was egter steeds deel van haar daaglikse hartklop.

“Dit was nog altyd my grootste droom om ʼn dokter te word,” vertel Emmalize, “en as jy ʼn doel voor oë het, dan doen jy wat gedoen moet word om jou droom te verwesenlik.”

In beide haar tweede en finale jaar was sy die beste student in haar klas. Haar dokter-droom is egter nooit laat vaar nie en sy het gedurende die vier jaar steeds aangehou om by verskeie universiteite aansoek te doen vir mediese keuring.

In 2007 voltooi sy haar verpleegkunde studies cum laude en begin sy die volgende jaar met haar gemeenskapsdiensjaar in Klerksdorp.

Skaars ʼn paar weke in die jaar in ontvang sy die boodskap waarvoor sy bly hoop het: die Universiteit van Pretoria het haar aansoek aanvaar.

Tyd was min en reëlings moes vinnig getref word. Vir ʼn geruime tyd het Emmalize tussen Krugersdorp en Pretoria gependel, voordat sy later haar intrek in ʼn studentehuis in Pretoria geneem het.

Ses jaar later is haar hartsbegeerte verwesenlik. Na ʼn lang pad, voltooi sy haar mediese studies in 2013. Opgee was nooit ʼn opsie nie.

So begin sy ook in haar pa, ʼn mediese dokter in die Karoo, se voetspore volg.

“Ek sal die pad, soos wat dit uitgedraai het, weer en weer loop,” sê sy. “In die oomblik verstaan ʼn mens dalk nie hoekom dinge is soos wat dit is nie, maar ek sou nie een dag die ondervinding wat ek in verpleegkunde opgedoen het, verruil vir enigiets anders nie.”

Emmalize en haar man, Werner Strydom, wat ook ʼn mediese dokter is, het beide hulle huisdokterjaar in Kariega (Uitenhage) gedoen.

Inspuiting vir vrouegesondheid

Women for Life se span. Van links, na regs: Stia Pretorius, Salmarie Meyer, Bhavna Morar, Sandra Weidner, Emmalize Lochner, Adi-Marie Schoeman en Ester Liebenberg. (Foto verskaf)

Tans is Emmalize betrokke by Women for Life in Gqeberha (Port Elizabeth). Die praktyk bestaan uit vrouedokters wat in vrouegesondheid spesialiseer.

“In 2012 het drs. Adi Schoeman en Sita Pretorius met die idee vorendag gekom en baie harde werk ingesit om dit te maak werk,” vertel Emmalize. “Oor die jare het hulle vrouedokters genader om by die praktyk aan te sluit en ons bou voort op die model wat hulle begin het.”

Op die vraag waarom net ʼn praktyk vir vroue, antwoord sy dat die vraag eerder moet wees waarom daar nie al vroeër met net iets vir vroue begin is nie.

“Women for Life bied ʼn veilige en gemaklike omgewing vir vroue om hulp te kry vir mediese probleme en -vrae. Pasiënte word individueel hanteer en al die dokters is opgelei om alle dienste te verskaf, soos wat die pasiënt dit benodig. Ons bied ook ander dienste soos gesigsbehandeling, botoks en ander estetiese werk.”

Emmalize se entoesiasme vir haar beroep het geensins verflou nie.

“Die grootste bevrediging lê daarin dat pasiënte gehelp word en probleme uitgesorteer word,” sê sy. “Ons wil te alle tye beskikbaar wees vir ons pasiënte, vir enigiets wat hulle sou benodig.”

Sy wys ook daarop dat die mans gewoonlik dankbaar is dat daar ʼn plek is waar hulle vroue gemaklik kan wees en hulle probleme opgelos kan word.

Emmalize se langtermyndroom vir die praktyk is dat daar in elke groot stad in die land ʼn Women for Life-praktyk geopen kan word.

Die op en af

Emmalize en haar dokter-man, Werner Strydom. (Foto verskaf)

Lewe en dood. Dit is die teenpole waaruit die mediese beroep bestaan.

Een spesiale oomblik in Emmalize se loopbaan, was toe sy kon help om ʼn matriek-klasmaat en sy vrou se eersteling in die wêreld te bring.

ʼn Ander bevredigende geval is die van die Smit*-egpaar.

“Ek ken die dame al vandat ek in 2017 by die praktyk begin werk het”, sê sy. “Sy het op ʼn stadium gesondheidsprobleme ondervind. Ek kon reël vir ʼn bloedoortapping en ook raad vir haar probleem by ʼn ginekoloog kry om so die probleem op te los.”

“Ek het vanaf November 2020 tot 24 Januarie 2021 in die nag ook vanaf 18:00 tot middernag in die Covid-19- saal gewerk,” vertel sy. “Ek het gevoel dit is wat ek moet doen. Die Here het my ʼn dokter gemaak, nie net vir myself nie, maar vir ander mense en ons almal moet ons deel doen. Ek was die dokter wat moes omsien na die hospitaal om kollegas ʼn blaaskans te gee.”

“In daardie tyd het ek baie dinge gesien en ervaar wat ek hoop geen mens ooit hoef te beleef nie,” sê sy. “Een spesifieke aand staan vir my uit. Dit was 1 Desember 2020 en ICU het my gebel om te sê hulle gaan ʼn pasiënt van die ventilator afhaal. Hy lyk stabiel en asof hy sonder die ventilator sal regkom. Hulle het die ventilator vir ʼn baie siek vrou, met ʼn klein babatjie by die huis, benodig.”

“Ek het besluit om te gaan hoor of die pasiënt iets benodig. Ek het by sy bed gestaan en voor my oë het hy van stabiel verander na iemand waarvan ek die dood in sy oë kon sien”, vertel sy. “Ewe skielik het hy swaar asemgehaal, sy pols het stadiger geraak, sy bloeddruk het geval en ek het besef: hierdie man gaan vanaand sterf.”

“Binne minute was die regte personeel in plek en het ons hom gehelp, gesedeer en teruggeplaas op ʼn ander ventilator wat intussen beskikbaar geword het. Daardie nag is ek huis toe met die wete dat dit ʼn wonderwerk sal wees as hy oorleef.”

“Tydens my skof die volgende aand was die pasiënt stabiel, maar baie siek. Sy spesialis het vermoed dat hy ʼn bloedklont deur sy hart en longe gehad het. Hy moes eindelik dood gewees het.”

Na ʼn naweek af, was die pasiënt se bed leeg en het Emmalize aanvaar dat hy oorlede is. Op haar navraag oor wanneer hy oorlede is, het sy die goeie nuus verneem dat hy heelwat beter is en na ʼn gewone saal oorgeplaas is.

“Ek en die pasiënt het elke aand ʼn gesels-afspraak gehad totdat hy ontslaan is,” sê sy.

Min het sy geweet dis nog nie die einde van die storie nie. In middel 2021 was me. Smit* weer by haar vir ʼn afspraak en laasgenoemde het haar oor Covid-19 uitgevra.

“Ek vertel haar toe van die spesifieke Covid-geval en watter indruk die man op my gemaak het; hoe sy oorlewing my nuwe hoop gegee het vir mense wat regoor die land in hospitale lê en die families wat nie weet of hulle geliefdes ooit weer huis toe gaan kom nie.”

Met die vertelling het me. Smit se oë vol trane geskiet en het sy Emmalize ingelig dat die manlike pasiënt waarna Emmalize verwys, haar man is.

“Dis hoekom ek doen wat ek doen,” sê sy. “’n Mens weet nooit met wie jou paaie kruis en watter rol jy in mense se lewens speel nie. Tot vandag toe is die Smitte na aan my hart en hulle storie motiveer my om te doen wat ek doen.”

*Smit is nie die egpaar se regte van nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Harley Davidson ·

Dit is regtig onaanvaarbaar dat studente afgekeur word deur universiteite in Suid-Afrika oor hulle velkleur en dan word kubaanse dokters ingevoer,waar is die sogenaamde politieke partye hoekom aanvaar hulle dit net .

Piet Snot ·

Inspirerend, Emmalize!
My dogter loop nou daardie (lang) pad, en jy’s vir ons almal ʼn voorbeeld van ʼn vasbyter.
Aanhouer wen!

Tanya ·

Pragtige storie, hou aan Emmalize om als wat jy doen in die mediese veld, met passie aan te pak.

Swerwer ·

Dit is so ‘n diep pragtige beeld van ‘n Ware Christen .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.