Emosionele intelligensie: Só kan dit jou help

(Foto: Tengyart/Unsplash)

Het jy geweet emosionele intelligensie (EI) is een van die sterkste aanwysers van sukses in ʼn sakeomgewing? Nou kan jy dalk vra, maar wat is emosionele intelligensie presies, en kan ʼn jy hierdie soort intelligensie van jou verbeter?

Heidi Mollentze, lewensafrigter by Greatness Coaching, is terug in die tweede aflewering van haar reeks inspirasiegesprekke met Maroela Media om te gesels oor emosionele intelligensie.

Sy meen ʼn hoë vlak van emosionele intelligensie is dalk selfs belangriker as jou intelligensiekwosiënt, of IK, omdat dit jou help om jouself en die mense om jou beter verstaan.

Hierdie soort intelligensie kan jou ook help om spanning beter te bestuur, beter te kommunikeer, empatie te betoon, uitdagings te oorkom en konflik te ontlont.

Heidi sê daar is vier soorte emosionele intelligensie:

  • Selfbestuur: Emosioneel-intelligente mense neem kennis van watter emosies hulle voel. Hulle kan ook hul eie emosies op ʼn gesonde manier bestuur. Leer om jou emosies op ʼn gesonde manier te bestuur. Dit beteken jy moet jou emosies leer ken, hulle ervaar en op ʼn positiewe manier verwerk.
  • Selfbewustheid: Verstaan jou sterk- en swakpunte en hoe jou emosies jou eie gedrag beïnvloed.
  • Sosiale bewustheid: Heidi meen dit gaan hier om sosiale leidrade te volg. Luister en verstaan jy mense en die dinamika in ʼn groep? Het jy werklike empatie met mense? Verstaan jy werklik hoe ander mense voel?
  • Verhoudingsbestuur: Hoe bestuur jy jou menseverhouding? Kan jy mense verstaan, inspireer en motiveer? Hoe hanteer jy konflik en is dit iets waaraan jy moet werk?

Heidi Mollentze (Foto: Verskaf)

“Dit is vir almal moontlik om aan hulle emosionele intelligensie en volwassenheid te werk om dit te verbeter. Dit is wel iets wat net jy alleen kan doen, maar dit kan jou eie lewe vir jouself soveel makliker maak,” se Heidi.

Mense wat ʼn hoë vlak van emosionele intelligensie het, kan om verskoning vra as hulle ʼn fout gemaak het. Hulle kan ook gewoonlik kritiek hanteer sonder om hulle foute te ontken, iemand anders daarvoor te blameer of heeltyd verskoninkies aan te bied.

Emosioneel-intelligente mense is gewoonlik oopkop en goeie luisteraars wat nie doekies omdraai as dit by die waarheid kom nie.

Mense met ʼn hoë emosionele kwosiënt kan hul emosies met iemand bespreek as dit nodig is en weet ook hoe om dit op die regte manier te doen, terwyl hulle die oorsaak van hulle eie emosies kan identifiseer. Hierdie soort mense is ook gewoonlik uiters gemotiveerd.

  • Heidi Mollentze het in Maroela Media se ateljee kom kuier en met Esté Meyer Jansen van Maroela Media gesels oor emosionele intelligensie. Luister na die volledige gesprek boaan hierdie berig.
  • Greatness Coaching met Heidi Mollentze kan op Facebook en Instagram gevolg word of bel Heidi by 079 815 6305 om ʼn persoonlike ontwikkelingsessie te bespreek.
  • Luister hier na Maroela Media se reeks gesprekke met Heidi Mollentze.
  • Bykomende bronne: Verywellmind.com, Inc.com en Forbes.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anna-Marie ·

Baie dankie. Dit is ‘n baie belangrike punt wat aan geraak word en waaraan almal behoort te werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.