Encounter Church gee terug aan gemeenskap

Encounter Hope het ook aan Gracia Hope tien tafels en 100 stoele geskenk, om te help met ʼn ernstige tekort. Foto: Verskaf.

Desember is ʼn maand van wellewendheid, samesyn en koestering, maar ongelukkig is dit nie alle kinders beskore nie. Die kinders van House Gracia, die kinderhuis in Pretoria-Noord, het egter iets van dié koestering beleef toe Encounter Church se Encounter Hope-bediening die huis op 19 Desember besoek het.

Die House Gracia het bykans 100 kinders van alle ouderdomme in sy sorg. Hierdie kinders word weggeneem omdat hulle fisiek, emosioneel en seksueel “verniel” is. In dié kinderhuis word hulle weer die waarde van die lewe geleer met die regte hoeveelheid liefde en aandag.

Elke kind het ʼn Kersgeskenk gekry, is trakteer op ʼn heerlike braai waarna hulle speletjies gespeel het en spontaan saamgesing het. Om pret te hê en vriendelik te wees steek grense oor en op dié manier word vertroue gevestig.  “Elke kindergesiggie is ʼn liggie in God se skepping en is baie kosbaar vir elkeen van ons by Encounter Church,” het pastoor Este du Preez tydens die besoek gesê.

“In ons maand van ‘teruggee’ is Encounter Church besig om die lewens van honderde mense te verander wat seisoene van hartseer, uitdagings en pyn ervaar het.”

Encounter Hope het ook aan Gracia Hope tien tafels en 100 stoele geskenk, om te help met ʼn ernstige tekort.

Encounter Hope onder die leiding van Pastoor Este du Preez, is die welsynafdeling van Encounter Church en hul fokus is om hoop te bring vir mense sonder hoop. “Encounter Hope se hartsbegeerte is om in 2020 twee keer so veel kinders en behoeftiges te help,” het Du Preez gesê.

Hierdie is slegs een van die vele inisiatiewe wat Encounter Hope in die Desember aangepak het.

Vir meer inligting oor Encounter Hope besoek www.encounterchurch.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.