Entrepreneurskap in ʼn blik(sim)

ellie

Ellie Steyn.

Deur Yolanda Wessels

Wat as ʼn gebak begin het, het in ʼn blikkie geëindig. Ellie Steyn van Bloemfontein vertel: “My man bak die afgelope nege jaar lemon meringues vir tuisnywerhede en koffiewinkels in Bloemfontein. Weekliks het sowat 25 leë kondensmelkblikkies in die vullisblik beland en ek het dadelik begin dink wat kan ek daarmee doen.”

As grafiese ontwerper het sy spoedig op ʼn bli(n)k plan gekom en kon dié weggooiblikke ʼn tweede asem kry. “Ek het dikwels blikkies met papier oorgetrek. Wanneer ek dit met vinyl stickers doen, is dit semi-wasbaar en dit hou vir jare. Ek het begin speel met kleurryke en vintage-ontwerpe, maar nooit kon droom dat ek op die vooraand van ʼn suksesvolle onderneming was nie!”

Sy het begin blikkies versamel by restaurante en ander baksters en vanaf Augustus 2014 kon sy beswaarlik voorbly met bestellings vir bloemiste en het sy besef dit is ʼn wenresep … “Hoewel ek in 1979 kuns studeer het, was ek altyd meer ʼn crafter, ek is mal oor verf en teken en om iets met my hande te maak.”

Op die vraag waar dié unieke (of omstrede!) naam vandaan kom, vertel Ellie: “Ek het eendag gesê die besigheid groei teen so ʼn geweldige tempo, bliksem, wat gaan aan! Die res is geskiedenis.”

blommeEllie verduidelik die proses: “Ons versamel weekliks gebruikte blikkies by baksters, bakkerye, koffiewinkels en restaurante in en om Bloemfontein. Ons laai sowat 300 tot 500 blikkies per week op. Daarna word dit gewas en geskrop en soos die bestellings inkom, word etikette ontwerp, gedruk, geplak, verpak en versend.” Sy maak gebruik van kontrakwerkers en die drukwerk word hanteer deur Target Signs in Bloemfontein en Bliksim se ateljee is deel van hul werkswinkel.

Aan die begin het Ellie alles self hanteer, maar kon nie vir lank dié pas alleen volhou nie. “Die groei het báie vinniger plaasgevind as wat ek verwag het en ek moes baie vinnig leer hoe om die onverwagte aanvraag reg te ‘bestuur’. Elke kreatiewe mens wil so graag dit ‘maak’ en as dit gebeur, is mens so opgewonde en bly, jy werk soos ʼn besetene en probeer almal ‘please’. Natuurlik is dit ook fantasties om werk te skep, maar gou raak dit ‘net ʼn besigheid en mens verloor jouself’.”

Dié jaar behartig sy self die aanlyn handelsnetwerk (op die Hello Pretty-dienswebwerf), hanteer die groothandelbemarking en bestellings en is mal oor die persoonlike kontak met die winkels.

Hulle het ʼn vaste reeks ontwerpe, maar Ellie geniet dit om spesiale ontwerpe vir kliënte te doen. Die blikkies is baie gewild onder bloemiste as bekostigbare houers vir blomme. Hulle doen heelwat korporatiewe werk, waar besighede dit gebruik as geskenkverpakking met hul logo of boodskap daarop. Bliksim se produkte is baie bekostigbaar omdat dit ʼn herwinbare produk is. Hoewel die blikke maar begin het as ʼn houertjie vir blomme, het dit vinnig verander na ʼn geskenkhouer (deksels ook nou beskikbaar) vir klein geskenkies, fudge, lekkers, koekies, biltong, ander eetgoedjies en selfs kerse.

windpomp-1Die belangrikste aspek van die besigheid is dat dit ʼn upcycling produk is – dus ʼn proses waar afval- of weggooimateriaal omskep word in nuwe, bruikbare produkte en dit is meer omgewingsvriendelik. Daarom is hul leuse, “Reducing landfill tin by tin”. Deur dié entrepreneur se blink plan skep sy vir ander mense ook werksgeleenthede, iets wat vir haar baie belangrik is.

Ná twee en ʼn half jaar is sy dankbaar, opgewonde en vol nuwe idees. “Daar is nog soveel potensiaal. As ʼn mens buite die blikkie begin dink, is daar geen einde aan die mooi goed wat ʼn mens kan maak nie. Alles kom met tyd; ek het geleer en maak myself nie meer mal om alles ‘nou’ te laat gebeur nie – stappie vir stappie.”

Die produkte is beskikbaar by verskeie winkels, veral geskenkwinkels en bloemiste landwyd, of besoek gerus hul Facebook-blad.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

ina ·

ek doen die blikkie projek al baie jare……hoe kry ek ook ‘n afsetgebied? dis my “hobby” oor naweke. laat weet asseblief

Paling ·

Key n goeie maar gladnie duur website, FB profiel en fokus op tuisnywerhede, geskenkwinkels, mense met stalletjies by markte, bloemiste en geskenkwinkels in jou area.

johann brits ·

Briljant ! Elke keer as iemand weer met iets besonders uitkom maak dit mens opgewonde oor die onontginde moontlikhede !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.