Epiese erfenisreis met perdekar

Wessels Moster saam met Kallie voor die Vegkop-monument. (Foto: Dawie Fourie)

Deur Jandrí Barnard

Dis al die einde van herfs, met die laaste kosmosse yl te sien tussen die droë veldgras en die geel herfsblare wat gesneuwel val vir die komende winter. Laatmiddag aan die voet van Amajubaberg het ek vir Nico Moolman en Wessel Mostert ontmoet, wat toe reeds op die 11de dag van hul epiese perdekarreis van Heilbron tot in Utrecht getrek het.

Hierdie reis is die geesteskind van Wessel Mostert, voormalige wêreldkampioenskopbokser en nou ook avonturier, tesame met die droom en geskiedeniskennis van die skrywer en historikus Nico Moolman.

Op 19 April het hul reis van byna 500 km begin met die gallop van ’n viersitplek-spaaider (ligte vierwielige perderytuig) en ’n span van ses perde om afgewissel te word gedurende die tog. Verder het die groep bestaan uit Twin Mosia, sakeman (of beter bekend vir sy vertolking as swart Boer op Anglo-Boereoorlog-gedenkgeleenthede), Mbongeni Butakane, die perdehanteerder, Dawie Fourie, die amptelike fotograaf van hierdie reis asook videograaf Theodore Molebatsi, wat die staaltjies uit die geskiedenis van die plaaslikes vaslê vir die nageslag.

Die My Soektog-span aan die einde van die reis. (Foto: Dawie Fourie)

Hierdie is nie slegs ’n perdeplesierrit nie, maar eerder ’n historiese bewusmakingsroete van ons erfenis en geskiedenis wat bewaar moet word vir die nageslag. En soos enige reis met fyn beplanning, was hierdie rit van 13 dae ook nie maklik nie. Daar was vele uitdagings om oorkom te word. Maar om met ’n perdekar te ry is ook ’n tydsame proses en bring jou nader aan die aarde en die vergete stofpaaie. Dit leer jou weer jou afhanklikheid van diere, mense wat oor jou pad kom en die natuur se elemente.

Die reis is onderbreek deur ’n “pap wiel” oftewel beskadiging van die perdekarwiel voor Petrus Steyn, maar met die vernuf van Leon Marx is dit vinnig herstel, sommer langs die grondpad. Gedurende die laaste skofte het welkome reënbuie uitgebars op die stofpad en die nut van ’n kappie van ’n kapkar is opnuut besef. In elke gebied het perderuiters of perdekarre uit die omgewing ook aangesluit om vir ’n stuk van die roete saam te gallop aan hierdie stukkie geskiedenis in wording.

Dit het begin vanaf Heilbron verby die historiese plaas Jamaica van 1910 in die Noord-Vrystaat, waar hulle by Vegkop oornag het – hier waar die Voortrekkers die Matabele-impi’s op 16 Oktober 1836 verslaan het by die Vaalrivier. Daarna na Petrus Steyn waar geskiedenisstories oorvertel is en die groep trakteer is op varsgebakte melktert met boeretroos. By Akkerbos naby Reitz het hulle gaan kyk waar ’n veldhospitaal vir Boeresoldate gedurende die Anglo-Boereoorlog was en uitgespan by die Voortrekkerterrein in Reitz. By Vrede, op die 25ste April, het Beeskraal saam om die kampvuur musiekgemaak terwyl stories uit die geskiedenis van die omgewing uitgeruil is.

Tussen Vrede en Verkykerskop oor die Meulrivier. (Foto: Dawie Fourie)

Die grondpadroete na Wit Dirk se plaas by Verkykerskop was die negende dag se oornagstop. Tot by Memel se vendusiekrale het hulle die dorp ingery saam met ander perderuiters en ode gebring aan Generaal De Wet se seun Danie en sy makkers wat tydens die Rebellie van 1914 naby Winburg gesneuwel het. Hul gedenksteen en laaste rusplek is voor die NG Kerk in Memel.

Aan die KwaZulu-Natal-kant van Amajuba word daar jaarliks op 27 Februarie die beslissende oorwinning van die Boere teen die Britte in 1881 tydens die Eerste Vryheidsoorlog herdenk. Verby Volksrust na Wakkerstroom in Mpumalanga word die geselskap ontmoet op die Zaaihoekdam-pad. Dirk Adendorff van Ingogo en vele ander lede van die Houtspeekvereniging van Suider-Afrika in die omgewing het van daar saamgery met perdekarre tot in Wakkerstroom. Die aand is ’n boere-opskop beplan by die Wakkerstroom Hotel met ’n braai, sokkie en storie-uitruilkuier, terwyl die perde rustig afslaan en smul aan appels en wortels uit die omgewing.

Die reis eindig op 1 Mei in Utrecht, Nico Moolman se tuisdorp, onder begeleiding van Ian Roberts se Radio Kalahari Orkes wat die gehoor tot laatnag vermaak.

Die eindstreep van die reis is by Nico Moolman se museum Buskruit & Laventel op Cesaréa Landgoed net buite Utrecht, gevul met historiese skatte binne. Hy is ook skrywer van verskeie historiese boeke, kortverhale, prenteboeke en The Boer Whore. Tydens die verfilming van dieselfde verhaal in die Utrecht-omgewing het hy ook bevriend geraak met Ian Roberts, wat self ’n rol daarin gaan vertolk. Enige opbrengs wat ingesamel is tydens hierdie reis, word dan geskenk aan Huis Joanna, ’n ouetehuis in Utrecht.

Hopelik sal die verfilming van hierdie perdekarreis – ’n eerste van sy soort in Suid-Afrika – omgesit kan word in ’n reisdokumentêr in die toekoms. Tot dan kan jy nog foto’s van die reis en inligtingstukke besigtig op die groep se Facebook-blad My Soektog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elmarie

Hoop Kyknet se mense lees hierdie en besluit om fliek te maak!

Noels244

Ek beny hulle werklik, ek sal wat wou gee om so iets te kan ondervind. Welgedaan!