Erfenis: Onthou en onderhou dit só

Paneel 3 stel Louis Tregardt by die Soutpansberg voor. Die beeldhouer was Hennie Potgieter. (Foto: Verskaf.)

O, ons is nog ver van ʼn Nuwe Jerusalem af. Daar is baie werk vir ons elkeen in sy eie hoekie van Suid-Afrika. Egte vaderlandsliefde beteken nie om ons rug te draai vir ons land se gebreke en foute nie, maar om hulle onder die oë te sien, soos ʼn goeie ouer die foute van sy kind, en om reg te maak wat binne ons mag is om reg te maak.” – Piet Cillié, Afrikaanse koerantredakteur (1917–1999)

Met dié woorde vlak in my gedagtes ry ek die natuurreservaat wat die Voortrekkermonument huisves binne. Daardie kolos van ʼn gedenkteken, wat soos die boom van goed en kwaad in die middel van die tuin en Eden staan, lok my aan. Vir party Suid-Afrikaners proe sy vrug stroopsoet, terwyl dit vir ander met ʼn bitter smaak laat. Maar dat dit deel van ons gedeelde erfenis is, deel van ons gister – en ons môre – is onteenseglik. Veral as dit van Cecilia Kruger en die ander toegewyde personeellede op die terrein afhang.

“Dit bly ʼn oorlewingstryd, maar ons vat dit dag vir dag,” sê Kruger, besturende direkteur van die Voortrekkermonument en Erfenisstigting (ES). In ʼn poging om die besonder hoë maandelikse stadsraadrekening te verminder is hulle besig om ʼn nuwe waterstelsel met boorgate te installeer en ʼn sonkragprojek word in die vooruitsig gestel. Dit is alles boustene in Cillié se Nuwe Jerusalem, dinge binne hul beheer waarvoor daar skouer aan die wiel gesit kan word.

“Hierdie en ander inisiatiewe is gebore uit die gemeenskap se goedgunstigheid en ywer om te help, waarvoor ons baie dankbaar is,” sê Kruger.

Die Voortrekkermonument in Pretoria. (Foto: VTM)

Nuwe inisiatief vir Erfenismaand

Sy vertel dat die verkope vir die “Herbou die Monument”-projek reeds R1,4 miljoen ingesamel het vandat die projek aan die einde van Junie geloods is.

Om hul uitgawes te dek moet die instansie egter teen Februarie 2021 R6 miljoen insamel. Met die toeristegetalle wat tot minder as 10% van die normale gemiddeld gedaal het en markte wat vir lank nie kon plaasvind nie – en steeds waarskynlik nie binnekort na normaal gaan terugkeer nie – het hulle dus ʼn tweede fase van die projek aangepak.

“Vir Erfenismaand fokus ons daarop om elemente van die pragtige marmerfries in die monument, wat tonele uit die Groot Trek uitbeeld, ‘te verkoop’. Die kultuurhistoriese en kunshistoriese waarde van hierdie fries is onskatbaar. ʼn Mens kan dus ʼn stukkie van jou eie kultuurgeskiedenis ‘koop’ as deel van die Herbou die Monument-projek.”

Die marmerfries in die Voortrekkermonument is die langste bestaande fries ter wêreld. In sy geheel is daar 27 afsonderlike panele wat in ʼn enkele fries saamgevat is. Die vernaamste voorvalle van die Groot Trek word weergegee van die tyd toe die Trekkers die Kaapkolonie verlaat het, totdat die Republiek deur die ondertekening van die Sandrivierkonvensie in 1852 erken is. Die hele samestelling van die trekkerlewe word in beeld weergegee.

Die vyf panele wat op Erfenisdag te koop aangebied word, beeld die Voortrekkers se vertrek uit die Kaapkolonie in 1835 en Louis Tregardt by die Soutpansberg uit, asook Tregardt se aankoms by Lourenco Marques, die onderhandelinge met die Barolong en die verblyf by Kerkenberg. Daar word ʼn prys aan elke element van elke paneel gekoppel en vir die publiek beskikbaar gestel.

Die Voortrekkermonument. (Foto: Facebook.)

Elemente te kies en te keur

Die eerste paneel, wat deur die beeldhouer Peter Kirchhoff gemaak is, stel die vertrek uit die omgewing van Graaff-Reinet en Grahamstad voor. Op hierdie paneel kan die Voortrekkers se huishoudelike benodigdhede, plaasgereedskap, vee en musiekinstrumente gesien word.

Elemente wat te koop aangebied word, sluit die Voortrekkermans en -vroue in die toneel in. Een man hou ʼn sweep vas en ʼn ander is te perd. Estelle Pretorius, wat die navorsing vir die ES aanpak, vertel dat sommige Trekkers goeie perde geteel het, soos Piet Uys en Marthinus Oosthuizen. “Die plaaslike perde was growwer gebou, maar geharde trek- en jagperde, wat lang afstande kon aflê,” sê sy.

Nog ʼn Voortrekkerman hou ʼn velsak vas, en ʼn ander ʼn kruithoring. Volgens Pretorius het die Trekkers gewoonlik bees-, buffel- en koedoehorings gebruik om kruit droog te hou. Die bodems daarvan is soms kunstig met allerlei motiewe versier.

“Die ossewa, wat ook in hierdie paneel uitgebeeld word en gekoop kan word, was vir meer as twee eeue die belangrikste vervoermiddel in Suid-Afrika. Die wa was ongeveer 3,6 tot 4,5 meter lank en 4,5 meter breed, en van stinkhout, geelhout en ysterhout gemaak. Die tentseil is waterdig gemaak met byewas of olie,” brei sy uit.

Verder is huisraad soos ʼn strykyster, ketel, riempiestoel, trommel en kersblakers in die paneel te sien. Skape, bokke, beeste en ʼn hond gee te kenne dat die Trekkers al hulle vee op die Trek saamgeneem het vir voedsel en ruiltransaksies.

“Toe Tregardt se seun Carolus ʼn ernstige wond opgedoen het, het hulle ʼn bok geslag en hom die water van die pensmis laat drink, waarna die pyn bedaar het,” vertel Pretorius.

Ligte musiek is ook tydens die Trek gemaak en veral jong mense het plesierig gesing en gedans. In hierdie paneel is ʼn kitaar en ʼn trekklavier te sien. ʼn Driepootpot, botterbak en blaasbalk om die vuur mee aan te blaas was belangrike elemente van die trekkerlewe, net soos die opvoubare trektafel en die velsakkie, waarin kruie en geld gebêre is. Al hierdie elemente op paneel 1 kan op Erfenisdag gekoop word.

Paneel 3 is deur die beeldhouer Hennie Potgieter gemaak en beeld Louis Tregardt by die Soutpansberg uit. Tregardt was die eerste Trekker wat die Kaapkolonie in 1835 verlaat het. In hierdie paneel kan die Voortrekkerleier Louis Tregardt gekoop word, asook sy vrou Martha, ʼn seun met ʼn boek en ʼn man met gelooide velle. Die Trekkers se skooltjie word ook uitgebeeld en te koop aangebied.

Ses boeke vorm deel van die beeld. Volgens Pretorius se navorsing was die kinders se eerste onderrigboekie die Handboek of ABC-boek. Daar was ook die Trap der Jeugd met spreuke en sedelessies, die Klein Prent Bijbel en Van Alphen se Kleine gedichten voor Kinderen.

Die pryse van die verskillende elemente in die panele wissel van R500 tot R10 000. Nadat die ander panele ook ontleed en nagevors is, sal dit in Oktober en November vir aanlyn verkope beskikbaar wees.

Die Voortrekkermonument en natuurreservaat se bestuur werk hard aan planne om die natuur- en avontuurelemente wat die terrein bied, beter te benut en uit te brei, om sodoende meer plaaslike besoekers te lok. ʼn Nuwe restaurant behoort ook vanjaar nog sy deure te open en daar word uitstallings by die Erfenisstigting aangebied, soos die kunswerke oor Pretoria wat vir Erfenismaand vir die publiek ten toon gestel word.

Wanneer ek die terrein met sy erfenisskatte agterlaat, is dit met ʼn gevoel van optimisme en ywer. Voor in die wapad brand daar tog ʼn lig. Ek sal ook ʼn paar stene lê in die bou van die Nuwe Jerusalem.

Paneel 1 stel die vertrek van die Voortrekkers uit die Kaapkolonie in 1835 voor. Die beeldhouer was Peter Kirchhoff. (Foto: Verskaf.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Die verkoop van ons erfenis… om die materièle waarde te bepaal… en te verkwansel, laat ‘n wrang smaak in die mond en mens hoop die kamma-nuwe-eienaars is dit waardig want baie kosbare bloed en sweet het gevloei wat nie terug betaal kan word nie. Die plan was uiters swak smaak en ondeurdag.

Megan Swart ·

Dagsê Muurblommetjie
Tregardt is die spelling wat ons uit die Voortrekkermonument se dokumentasie ontvang het.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.