Erfenisskatte van JG Strijdom kry nuwe tuiste

Die erfenisskatte van ʼn voormalige eerste minister van die Unie van Suid-Afrika, advokaat JG Strijdom, sal binnekort in die Vrystaat gesien kan word.

Jan-Danie Malan, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in die Vrystaat, by die borsbeeld van adv. JG Strijdom, voor dit van Strijdom se huis in Modimolle (voorheen Nylstroom) na die FAK se Udolpho Rivierplaas verskuif is.

Die personeel van die Erfenisstigting (ES) het Strijdom se huis in Modimolle (voorheen Nylstroom) in Augustus verlede jaar opgepak en ’n bruikleenooreenkoms met die departement van sport, kuns en kultuur in Limpopo en die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit aangegaan.

Met die hulp van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en die lede van die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging (SAWV) se Kiewiet-tak in Vereeniging, wat ook op die FAK-Vaaldriehoek-Kultuurnetwerk dien, het die ES die laaste besittings uit die Strijdomhuis verwyder. Die oudhede is na hul nuwe tuiste by die Udolpho Rivierplaas naby Parys in die Vrystaat vervoer.

’n Perdekar, AGA-koolstoof en ’n borsbeeld van Strijdom is deel van die skatte wat onlangs deur dié organisasies na hul nuwe woning geskuif is.

Jaco Cilliers, bestuurder van erfenisbewaring by die ES, het die lede van die FAK-Vaaldriehoek-Kultuurnetwerk en SAWV vir hulle “reuse-bydrae” bedank.

“Hulle het ons regtigwaar baie gehelp. Dit is vir ons [ES] ongelooflik belangrik om hande te vat met sulke organisasies, want alleen kan ons nie die stryd wen nie.”

Die perdekar wat aan adv. JG Strijdom behoort het sal eersdaags vir die publiek te sien wees by die FAK se Udolpho Rivier in Parys, Vrystaat. Die manne wat gehelp het om dié perdekar te vervoer, is van links: Okkie Jooste, Mark Walkden, Frans Harding, Jan-Danie Malan, Petrus du Plessis en Gys Stöh.

Die rede vir die skuif is aan algemene agteruitgang toegeskryf. Die owerhede en die ES het verlede jaar besluit dat die skuif tot voordeel van die bewaring van die geskiedenis sal wees.

Barry Müller, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in Gauteng, meen dat dié skuif nie net belangrik is vir die behoud van erfenisskatte nie, maar “dat mede-Afrikaners wys hoe verskeie mense vanuit verskeie organisasies soos een gemeenskap kan saamkom om ’n gemene doel te bereik.”

“JG Strijdom het die monumentekomitee, wat later die monumentekommissie geword het, op die been gebring. Dit is ’n groot voorreg om nou, 70 jaar later, hierdie bewaringsdiens aan dié man terug te bewys,” het Jan-Danie Malan, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in die Vrystaat, verduidelik.

Strijdom, wat ook bekend was as die Leeu van die Noorde, was die vyfde eerste minister van die Unie van Suid-Afrika van 1954 tot sy dood in 1958.

Strijdom se prokureursfirma is oorspronklik uit sy familiewoning bedryf. Dié huis is in 1976 tot museum verklaar.

Skilderye, portrette, Strijdom se tikmasjien, familiebybel en selfs Paul Kruger se pyp, is intussen deur die ES nagegaan en sal gerestoureer word indien nodig.

Van die oudhede sal ook binnekort deur die ES by die Voortrekkermonument uitgestal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Groen Ghoen ·

Julle stel ‘n goeie voorbeeld, goed gedoen en baie dankie vir jul onbaatsugtige werk om die erfenis van die Afrikaner te beskerm.

Anel ·

Nou wat word van die huis? Dit is so vreeslik dat sulke dinge gedoen moet word om ons erfnis te bewaar. Alles val uit mekaar in hierdie land. Gaan kyk bietjie na al die oudhede wat in Europse lande bewaar word en waarop daardie mense baie trots is. Kyk hoe oud is van die geboue, kstele, katedrale en ander. Hier mag niks staande bly of onderhou word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.