Erfenisstigting se taalskatte gedy

Afrikaanse Taalatlas, wat deur wyle prof. Stephanus Andreas Louw geskryf is, is die jongste skenking wat die Erfenisstigting by sy letterkundige versameling kan voeg. (Foto: Verskaf)

Die biblioteek by die Erfenisstigting se skatkis van literêre werke hou steeds aan groei.

Afrikaanse Taalatlas, wat deur wyle prof. Stephanus Andreas Louw geskryf is, is die jongste skenking wat die Erfenisstigting by sy letterkundige versameling kan voeg.

Dié atlasreeks bestaan uit vyf boeke wat tussen 1975 en 1979 verskyn het en word as ʼn geskiedenistoer deur die ontwikkeling van ons taal bestempel. Dit handel oor die streeksontwikkeling van Afrikaans en die verskille in taalgebruike regoor Suid-Afrika.

Louw was professor aan die Departement van Afrikaans en Germaanse Taalkunde aan die Universiteit van Pretoria en ʼn lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Sy eerste studie, Dialekvermenging en taalontwikkeling, proewe van Afrikaanse taalgeografie, is in 1948 gepubliseer en is in 62 biblioteke regoor die wêreld beskikbaar.

Die biblioteek by die Erfenisstigting is een van die aangewese letterkundebeskermers wat Louw se werk vir toekomstige generasies bewaar.

Werner Louw en Jaco Cilliers gaan deur die Afrikaanse Taalatlas. (Foto: Verskaf)

Sy seun, Werner Louw (77), wat self in 1949 by die inwyding van die Voortrekkermonument was, het besluit die Erfenisstigting is die kultuurtuiste wat sy pa se werk moet bewaar.

“Ons was hier met die opening van die monument en dit is ʼn plek wat ons gereeld besoek. Dit was dus ʼn vanselfsprekende opsie om die reeks aan die Erfenisstigting te skenk,” sê Louw.

“Daar is baie organisasies en museums wat sukkel om hul deure oop te hou, maar ek glo die Voortrekkermonument en die Erfenisstigting sal voortbestaan,” sê Louw.

Jaco Cilliers, bestuurder van erfenisbewaring, sê die skenking sal verseker dat Afrikaans se ontwikkelingspad nooit vergeet word nie. Cilliers het sy dank uitgespreek dat Louw die Erfenisstigting gekies het om sy pa se werk te bewaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.