Erik Holm versit berge met kreatiwiteit

Erik Holm praat met Maroela Media oor kreatiwiteit. (Foto: Verskaf)

Ná Erik se ongeluk in 2007 het sy wêreld nie gaan stilstaan nie; van akteur tot kunstenaar. Yolanda Wessels het met hom gesels oor sy kreatiwiteit waaraan daar geen einde is nie.

Kreatiwiteit is sinoniem met die Holm-familie van Hartbeespoortdam. Alles het by ouma Elly Holm begin, wat haar agt kinders met kuns deur die wêreld gedra het. Sy het letterlik alle vorme van kuns aangedurf: van beeldhou, leiklip, verf, etswerk, skilder, teken, linosnee tot graffito en enige moontlike vorm van kuns. Nadat hulle van Duitsland in Suid-Afrika aangeland het, was dit die manier hoe sy die gesin vir die eerste dekade hier onderhou het. Dit is dus nie vreemd dat die hele familie ʼn ingebore en groot voorliefde vir kuns in hul gene het nie. Hierdie talent en liefde is mettertyd aan hulle eie kinders oorgedra, en dus ook aan Erik en sy susters; dit kom net natuurlik. Erik vertel: “Dit was vir my baie vreemd as kind wanneer ek by vriende gaan kuier het en daar was nie ʼn plek waar hul geteken het of musiek gemaak het nie. Dit was vreemd dat daar nie werkswinkels was waar hul besig was om te werskaf nie – ek het net aangeneem dit is hoe dit moes wees. Dus kom dié ingesteldheid al van kindsbeen af.” Hy was egter nie altyd so entoesiasties om dit self as kind te beoefen nie. Veral as tiener, so tussen die ouderdom van tien en sestien, was dit vir hom die grootste straf wanneer sy pa, ook Erik Holm, hom gevra het om in die werkswinkel met sy projekte te help.

Erik is verlam nadat hy op Vrydag 27 Augustus 2007 in die mensgemaakte meer by Secunda se waterfront tussen optredes van Fiela se Kind ingeduik het om ʼn bal uit te haal. Die watervlakke was laag en Erik was onmiddellik verlam.

“Dit is eers nadat ek my nek gebreek het dat ek eers weer werklik ʼn voorliefde vir handwerk ontwikkel het en dit so ongelooflik baie geniet. Ek het nog altyd musiek in my lewe gehad en gemaak voor en ná die ongeluk, en dit aanhou doen, maar handwerk het ek as ʼn straf begin sien; iets wat ʼn mens móét doen. Dit is eers die afgelope tien jaar van my lewe, vandat ek so dertig is, dat ek daarvoor begin lief raak het.” Erik het met draaiwerk en verf begin. Hy en sy suster, Nike Holm, het in die hospitaal geverf en geteken as ʼn terapieoefening om fynmotoriese beheer terug te kry. Hy het dit regtig baie begin geniet en gedink dat dit iets is wat hy graag meer sal wil doen. Sy pa het voorgestel dat hy houtdraaiwerk doen – ʼn mens kan net sit en die beitel vashou en so het hul dit geprakseer. “My pa het ʼn Holm-invention aanmekaargesit wat my toegelaat het om die beitel stewig vas te hou, en toe kon ek houtdraaiwerk begin doen. Ek het dit geniet, maar dit was steeds ʼn bietjie moeilik. Ek het ʼn bietjie navorsing gedoen en op ʼn maatskappy, Black Line Tool Company, afgekom wat ʼn spesifieke tipe beitel vervaardig – carbide tipped beitels – wat dit vir enigiemand met fynmotoriese probleme maklik maak om te kan draai.” Die manier hoe jy draai is anders as die gewone manier. Daar is heel toevallig mense in Hartbeespoort wat dit doen en Erik het hulle gekontak. Hulle het hom al die pad ondersteun en toe het hy begin om hars en houtwerk te kombineer. Hy het AMT Composites, ʼn harsmaatskappy in Johannesburg, gekontak en begin om hars te meng en by hout te sit om te sien watter tipe goed hy en sy meisie Colleen Jury Zeffertt kan maak. Erik vertel entoesiasties: “Die opsies is legio van goed wat ons kan maak. Colleen is boonop ook ʼn groot kunsmaker en -liefhebber en sy kan meer goed as ek maak, al gee sy voor dat sy nie kan nie.”

Hulle het begin kyk wat hulle met die hout en hars kan maak. Op dieselfde tydstip het Erik en Mervin Davis, bekende kitaarmaker van Hartbeespoortdam, se paaie gekruis. “My familie het hom gevra of hy sal kans sien om ʼn kitaar vir ʼn kwadrupleeg te maak. Dit was ʼn hele reis op sy eie! Hy het hierdie ongelooflike instrument ontwerp, die eerste van sy soort ter wêreld.” (Daar is tans wêreldwyd nog net drie van hierdie spesiale kitare.) Mervyn het die kitaar die Chord Slammer gedoop. Dit is ontwerp om basies die funksies van Erik se vingers te vervang. Dit was natuurlik ʼn enorme uitdaging en is daarom vir hom ʼn groot mylpaal.

Erik en sy meisie Colleen Jury Zeffertt. (Foto: Verskaf)

“Ons hoop is dat mense die moontlikhede daarvan kan sien. Dit is ʼn ongelooflike instrument – nie net vir terapie nie, maar ʼn instrument in homself. Dit is een van my kosbaarste besittings ooit en het my toegelaat om meganies en fisies weer musiek te kan maak en kitaar te speel.”

Daarna het Erik op Jakaranda FM gespeel en ʼn paar maal saam met Mathys Roets. Na sy ongeluk het hy musiek ongelooflik baie gemis aangesien dit een van die maniere was waarop hy homself kon uitdruk. Om weer te kon musiek maak, was die beginpunt van sy kreatiwiteit en ook die begin daarvan om hierdie kreatiwiteit uit te leef. Nou is daar geen keer nie.

Erik het hout- en metaalkruise gemaak en nadat Hykie Berg dit op sy Facebook-blad gesit het, het daar skielik honderde navrae ingekom van mense wat vra of hy so iets vir hulle kan maak. “Ek het na houtwerk begin kyk en na watter tipe houtwerk daar alles is. My en Colleen se nuutste endeavour is om tafels uit wortelstokke van bome te maak met glasblaaie. Ons is ongelooflik opgewonde hieroor, want dit is beeldskoon.” Hulle het ook ʼn pragtige kierie vir sy pa, wat ʼn entomoloog is, gemaak. Die skag is van imbuia en aluminium, en die handvatsel is van hars wat in die vorm van ʼn ‘Dicronorhina Derbyana’, een van die mooiste vrugtekewers ter wêreld, geset is. Dit het ʼn kombinasie van draai, set, maal, skuur en poleer geverg en hulle is baie in hul noppies met die eindresultaat. “Ek het nooit gedink handwerk sal regtig iets word wat my werk is nie, omdat ek eerstens ʼn akteur is, wat vir my fantasies is, en musiek is vir my pret, maar daar is iets aan handwerk. Dit is onderhoudend vir jou siel om met jou hande te werk, en om dit weer te kan doen, is ongelooflik spesiaal.”

Erik is bekend vir sy rol as Rian Malherbe in die kykNET-sepie Binnelanders, ʼn rol wat hy al dertien jaar vertolk. “Acting is deel van my rugmurg, ek vertolk al so lank hierdie rol. Tussendeur was daar flieks en toneelspel en ons het baie na feeste getoer, toe dit nog plaasgevind het voor Covid die wêreld op sy kop kom keer het. Ons akteurs mis dit geweldig. Die planke roep ons – die gees is laag onder die akteurs. Ek voel geëerd om televisie te kan doen in ʼn program wat deur die Starks vervaardig word en wat in die Covid-tyd baie moeite gedoen het om hul akteurs te laat werk sodat hul kon aanhou leef van hul kuns. Dit is ongelooflik dat ek deur die twee jaar van Covid kon aanhou werk aan Binnelanders. Ek geniet dit baie, werk saam met ongelooflike mense en hulle sorg vir interessante storielyne.”

Erco Makers is Erik en Colleen se maatskappy wat hulle op die been gebring het en ʼn lewe uit maak. Hulle droom is om ʼn huis te bou en hul kyk na volhoubare, kreatiewe maniere om aan die lewe te bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Waarnemer ·

Eric ek haal my hoed af vir jou.Jou entosiasme is vir baie n voorbeeld.Hou so aan enek glo jy en Colleen sal n baie groot sukses storie wees.

SomeOne ·

wat ‘n pragtige inspirerende positiewe brokkie nuus, hou so aan

AH ·

Dit is goed om ‘n slag ‘n goedvoel berig te lees! Ek haal my hoed af vir Erik en ander soos hy wat nie in sak en as gaan sit as hul lewens onomkeerbaar verander nie!!

Pyl ·

Wow!!!!!!!!!!!!!!! Dis uitstekend. Waar kan mens iets aankoop of bestel?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.