Erns Grundling trek sy draftekkies aan ten bate van geestesgesondheid

Erns Grundling hardloop Sondag die Kaapstad-marathon om bewusmaking oor depressie as biologiese siekte te kweek. (Foto: Verskaf)

Erns Grundling, die joernalis en aanbieder wat onder meer bekend is vir sy stapprogramme op kykNET soos Elders: Camino en Elders: Namibië, durf Sondag vir die eerste keer die Sanlam Kaapstad-marathon se 42,2 km aan.

Die Kaapstad-marathon is ʼn hoogaangeskrewe marathon en is sterk op pad om dieselfde aansien te verwerf as die wêreldbekende marathons van New York, Londen, Berlyn, en Boston.

Grundling (41) spring Sondag om 06:31 by die Kaapstad-stadion in Groenpunt weg. Hy sal een van die sowat 9 000 deelnemers aan dié gewilde marathon wees wat vanjaar die langpad gaan aandurf.

Hy vertel aan Maroela Media sy belangstelling in draf het uit sy liefde vir stap gespruit. Nadat hy in 2015 vir die eerste keer die Camino de Santiago-staptog in Spanje aangepak en in die proses sowat 10 kg afgeskud en fikser geword het, het hy eers begin om kort afstande te draf en het uiteindelik in Januarie 2016 ʼn wedloop van 30 km afgelê.

“Later het ek weens werkdruk en swak dissipline weer gewig opgetel en onfiks geraak en ek het nooit die Kaapstad-marathon, waarvoor ek wel ingeskryf het, gehardloop nie.

“Tydens die inperking weens die Covid-19-pandemie het ek egter opnuut besef hoe belangrik dit vir jou psigiese gesondheid is om gereeld te oefen en saam met stap is draf ʼn baie doeltreffende manier om vir ʼn halfuur in die buitelug te wees, kalorieë te verbrand en die goedvoel-hormoon in jou liggaam vry te stel. Saam met die terapeut wat ek besoek het, stap en draf ʼn goeie terapeut vir my geword,” vertel Grundling, wat al jare lank met depressie stoei.

Die roete van die Kaapstad-marathon. (Foto: Cape Town Marathon)

Daarom het hy nie geskroom om prof. Lizette Rabe van die Universiteit Stellenbosch se uitdaging te aanvaar toe sy hom gevra het om vanjaar die Kaapstad-marathon ten bate van die Ithemba-stigting te hardloop nie.

Die Ithemba-stigting spits hom hoofsaaklik toe op die bewusmaking van depressie as ʼn biologiese siekte en om die stigma verbonde aan depressie in die samelewing af te breek.

“Daar is nog baie onkundigheid wat depressie en geestesgesondheid betref en mense fluister nog maklik daaroor wanneer iemand sê hy is depressief of ʼn depressielyer. Daar word maklik vir ʼn depressielyer gesê: ‘Ruk jou reg’, maar diegene van ons wat depressie ken, weet dit is baie meer kompleks as dit.

“Ek self stap al ʼn lang pad met depressie en het jare lank antidepressante gebruik – iets waaroor ek skaam was en waaroor ek nie wou praat nie. Ek was baie selfbewus daaroor, totdat ʼn huisdokter op ʼn dag vir my verduidelik het dat depressie ʼn biologiese siekte is en dat medikasie jou, net soos ʼn hartkwaal- of diabeteslyer, beter kan laat voel.”

Erns en sy hond, Suki, ná ‘n 25 km-draffie op Bettiesbaai. (Foto: Verskaf)

Hy vertel hy is slaggereed vir Sondag se marathon, al weet hy dat hy moontlik met die laaste 12 km van die wedloop gaan sukkel. “Dit is egter vir ʼn goeie doel en as die veldtog en poging kan help dat mense meer gemaklik voel om oor depressie en hulle eie psigiese gesondheid te praat, dan het ek in my doel geslaag.”

Hy beplan om die marathon binne sowat vier en ʼn half uur af te handel en voeg by dat hy die Sondagaand nog op ʼn verhoog moet staan saam met Koos Kombuis en Dana Snyman in die produksie Drie kaalkoppe kuier tesame, wat in Wellington by Die Bôrdienghuis op die planke sal wees.

“Ek dink hulle gaan my moontlik op die verhoog moet help, maar ongelukkig weens tydsberekening kan die produksie op geen ander aand as Sondagaand plaasvind nie.”

Grundling vertel hy het ter voorbereiding van die marathon sowat drie keer per week ver afstande gedraf en het ook saam met Juan Carstens, ʼn Kaapse fisioterapeut, versterkingsoefeninge gedoen om sy spiere afwisseling te bied van die strawwe oefening wat dit op die langpad moet verduur.

“Die veldtog lê my so na aan die hart en psigiese gesondheid is vir my nog belangriker in die tye waarin ons nou leef. Ek hoop ander mense sien dit ook só,” sê hy.

Erns oefen by sy fisioterapeut, Juan Carstens. (Foto: Verskaf)

Daarom het hy ʼn GivenGain-donasieblad opgestel om R42 200 in te samel ten bate van die Ithemba-stigting. Dit is R1 000 per km of R1 per meter. Die donasieblad is nog tot volgende week oop vir die publiek se ondersteuning.

Grundling se vordering tydens die wedloop kan ook via die Cape Town Marathon se app gevolg word deur sy wedloopnommer, 6239, in te voeg.

Hy vertrek ook Dinsdag na Walvisbaai in Namibië waar hy vyf dae lank aan die Namib 100-staptog gaan deelneem.

Diegene wat belang stel om vir Grundling en die Ithemba-stigting geldelik te ondersteun, kan dié skakel volg: https://www.givengain.com/ap/aeh-grundling-raising-funds-for-ithemba-foundation-npc 

Erns Grundling se vordering tydens die Kaapstad-marathon kan op die app gevolg word. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Prikkie ·

Baie sterkte aan Erns, dit vat aan ‘n man om openlik oor jou depressie te praat.

Ons dink aan jou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.