ERRE ʼn vars briesie in die modewêreld

laurika-swart-erre

Laurika Rauch op die verhoog tydens Afrikaans is Groot verlede jaar. Foto: Verskaf

‘n Vriendelike wit Labrador kom groet eerste by die hek. Groot Pretoria-koeltebome gooi skadu op twee vroue wat wag op die stoep.

Soos verwag lyk hulle deftig, maar gemaklik. “Jammer,” maak hulle verskoning, “ons eet net gou middagete.” Die horlosie sê dis al 15:00.

“Ons sê elke dag ons weet nie hoe doen een persoon dit alleen nie, want dit is te veel werk. Daar is te veel goed om aan te dink en te veel goed om te onthou,” lag modeontwerper Carina Louw (35).

Sy en haar vennoot, Natasha Jaume (32), het in 2012 hul kreatiewe kragte saamgesnoer om die klerereeks ERRE op die been te bring.

Hulle het ontmoet toe hulle albei klasgegee het by ʼn modeskool. “Ons het gereeld tussen klasse gesels oor ons drome en ideale, en het toe besluit om iets vir die werkende vrou te skep. Vroulike uitrustings wat stylvol is in die korporatiewe wêreld,” vertel Natasha. “Ons het uiteindelik Carina se huis in ʼn werksplek vir ons omskep.”

Carina vertel saam. “Natasha het in daardie stadium meer op trou- en aandrokke gefokus en ek was baie geïnteresseerd in kleremakery vir mans. Ons het toe besef as ons ons vaardighede kan kombineer, kan ons ongelooflike kledingstukke maak. Ons het vir ongeveer ʼn jaar en ʼn half tussen die klasgee deur saam naaldwerk gedoen en navorsing gedoen om te bepaal waar is daar ʼn gaping in die mark. Ná ʼn ruk het al ons ontwerpe begin vaartbelyn raak. Die Renault New Talent-kompetisie waaraan ons deelgeneem het, het eintlik ons handelsmerk van die grond af gekry.”

ERRE

erre-profiel

Carina Louw en Natasha Jaume van ERRE. Foto: Verskaf

Hierdie gedugte span het op die naam ERRE afgekom in ʼn ou woordeboek. “Dis ʼn ou Franse woord uit die Middeleeue wat nie meer gebruik word nie. Ons was nie te gepla oor wat die woord beteken nie, die woord het vir ons mooi gelyk. Dit is minimalisties, netjies en sonder fieterjasies, net soos ons handelsmerk, maar aan die ander kant effens eksoties, kan jy sê. Vir ons het dit geklink soos a breath of fresh erre.”

 

Swart

Aanvanklik het hulle slegs klere in swart gemaak. “Swart is ʼn baie vleiende en praktiese kleur. Jy kan dit byvoorbeeld saam met enige kleur bybehore dra,” verduidelik Natasha. “Die meeste mense hou daarvan om swart te dra en dit is ʼn sterk kleur in die korporatiewe wêreld. Ons wou ook fokus op beleggingstukke, iets wat jy nou koop maar nog vir tien jaar kan dra, want dit sal nie uit die mode raak nie,” sê sy.

img_6581

‘n Mini replika van ‘n ERRE-uitrusting in die ateljee. Foto: Maroela Media/Leonie Bezuidenhout

Carina gesels saam. “Ons leuse is a new kind of power dressing, so ons probeer om ʼn vrou se vroulikheid te behou, sodat sy nie noodwendig in ʼn pak hoef te sit as sy in ʼn raadsaalvergadering is nie. Ons glo jy kan vroulik lyk en steeds gesag afdwing by die werk deur jou uitrustings. Swart kry dit baie maklik reg,” sê sy.

Hulle het wel verlede jaar begin om hulle reekse na ander kleure ook uit te brei. “Neutrale kleure,” sê Natasha, “soos ivoor, nude en bruin.”

“Maar ons kliënte verkies nog steeds die swart!” lag Carina. “Die ander kleure trek hulle aandag, maar die meeste sal dit eerder aankoop in swart. Wit is beslis moeiliker om reg te dra as swart, so die uitrusting moet beslis reg gedoen word. Dit is definitief ook ʼn mite dat vroue wat oorgewig is nie wit moet dra nie. Dis glad nie so nie! Die materiaal en die styl van die kledingstuk maak al die verskil. ʼn Maer persoon kan ook baie maklik sleg lyk in ʼn swart tentrok. Die snit en die materiaal speel ʼn baie belangrike rol,” sê sy.

Tekstiele

“Vir die reeks wat ons kliënte elke dag kan dra, gebruik ons ʼn rekmateriaal. Dit is ʼn ongelooflike materiaal, omdat dit gemaklik is en maklik kan vlei. Ons gebruik ook ʼn sy-organza hier en daar en natuurlik 100% katoen,” sê Natasha. “Ons het ook ons uitrustings wat eerder vir die loopplank of groot geleenthede geskik is, en dit is uiteraard duurder omdat dit van egte leer en wol gemaak word.”

Erre Leerbaadjie

Hierdie leerbaadjie van ERRE sal jou R15 000 uit die sak jaag. Foto: Maroela Media/Leonie Bezuidenhout

“Ons probeer sover moontlik Suid-Afrikaanse produkte gebruik,” sê Carina. “Ons het al rou wol uit die Karoo gebruik, en springbokvel wat ons gebruik het in die vorige reeks.”

Sy verduidelik waarom kledingstukke soms so duur is. “Daar is ʼn rede hoekom ʼn egte leerbaadjie R15 000 kan kos en een van die rokke wat ʼn mens elke dag kan dra, vir rondom R1 200 verkoop word. Duursaamheid bepaal die prys. Ek en Natasha is ewe erg oor lappe, maar dit gaan oor wat die doel van daardie stuk is. Jy gaan ook nie ʼn leerbaadjie elke dag aantrek nie, veral nie in Suid-Afrika nie!”

Bekendes

“Ons het nog nooit bekendes genader nie,” lag Natasha. “Dis gewoonlik hulle stiliste wat ons ken of ʼn fotograaf wat ons raaksien en ons dan aanbeveel. Dít is hoe Laurika Rauch by ons uitgekom het. Ons het albei haar uitrustings gemaak vir Afrikaans is Groot verlede jaar. Terry Pheto van die Oscar-bekroonde rolprent, Tsotsi, het ook al van ons reekse gedra by geleenthede,” sê sy. Sy noem nog ʼn rits bekendes op.

laurika-wit-erre

Laurika Rauch op die verhoog tydens Afrikaans is Groot verlede jaar. Foto: Verskaf

En wat dink hulle van die uitrustings wat hulle vir Laurika gemaak het? “Ons dink sy het heel anders gelyk as wat sy gewoonlik lyk en ons is baie trots daarop. Dit is presies wat sy wou hê – anders. Sy het vir ons persoonlik die mooiste gelyk in die wit uitrusting, want dit het haar perfek gevlei,” sê Carina.

Werkswinkel

Die werkswinkel is ʼn omgeskepte motorhuis. Swart garing en uitgesnyde patrone net waar jy kyk. “Ons beplan om nie te vinnig te groei nie,” vertel Carina. Sy vryf oor die swart rokke wat teen die muur hang. “Ons wil net eers in Suid-Afrika groei. Gauteng is groot en ons mark sit nogal hier. Ons begin wel uitbrei, maar ek dink dis belangrik dat ons eers Suid-Afrika oorwin voor ons probeer om internasionaal uit te brei.”

“Ons twee werk saam met drie ander meisies,” vertel Natasha. “Twee van hulle was voorheen modeontwerpstudente waar ons klasgegee het, so hulle het by die skool by ons geleer, maar toe ook verder by ons werkswinkel kom leer.”

“En ons leer ook nog elke dag!” lag Carina. “Van produksie en besigheid, omdat ons nie ʼn besigheidsagtergrond nie. Dit is vir my baie opwindend, maar ek hou van statistieke. Ek wil weet watse rokke verkoop waar die beste en hoekom.”

Dis alles besigheid

“Studente wat uit universiteit stap en hulle eie ding wil doen, moet net nie dink hulle gaan dadelik groot begin nie. Begin klein en groei stadig, want baie handelsmerke het al te vinnig gegroei en dan val alles net plat,” gee Natasha raad.

Carina beaam dit. “Dit is beslis ook nie so ʼn glansryke beroep soos dit in flieks lyk nie. Dit is 2% van die tyd glansryk wanneer ons op die loopplank is, maar meestal sit ons in ons werkswinkel of ateljee besig om patrone te maak en uit te sny en naaldwerk te doen.

“Baie studente wat uit universiteit stap, besef nog nie dat klereontwerp nie net ʼn kreatiewe rigting is nie, maar ʼn besigheid. Natuurlik het hierdie soort besigheid sy eie magic, want dit verander heeltyd en jy mag kreatief wees, maar jy moet 100% toegewyd wees.

“As jy nie heeltemal passievol is oor modeontwerp nie, dan is dit nie vir jou nie. Jy moenie net daarvan hou nie, jy moenie net dink dis koel nie, jy moet obsessief wees daaroor, want jy moet bereid wees om baie op te offer. Om ʼn modeontwerper te wees, is ʼn leefstyl, dit is nie net ʼn loopbaan nie. Jou hele wese bepaal jou produk op die einde van die dag,” sê Carina.

Aankope

“Mense wat belangstel, kan ons direk nader en bestellings plaas. Ons het ook ʼn aanlyn winkel, en so nou en dan kan mense kom koop by ons ateljee in Waterkloof, Pretoria,” sê Natasha. “Ons is ook beskikbaar op Zando en Spree se aanlyn winkels. Die nuwe Luminance-boetieks, in Johannesburg en Pretoria, hou van ons reekse aan. Ons is ook beskikbaar by verskillende boetieks in Port Elizabeth, Polokwane, Nelspruit en ook in Botswana. Daar is ʼn volledige lys op ons webwerf.”

Hulle en die Labrador sien my weer af by die hek. “Laat ons maar weer aan die werk spring, dis weer een van die dae die SA Modeweek en ons wys weer ons reeks,” sê Carina.

Besige, dinamiese vroue dié. Nét soos die vroue vir wie hulle ontwerp.

img_6577

Uitsny-detail op die leerbaadjie. Foto: Maroela Media/Leonie Bezuidenhout

 

 

 

 

 

 

img_6588

Patrone teen die muur. Foto: Maroela Media/Leonie Bezuidenhout

 

 

 

 

 

 

 

Kyk hier na ‘n kort video van ERRE se veelsydige Myri-rok:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.