Ervaar drama, gevaar en glans van Goudstad se geskiedenis

Die Linksfield-rif is ‘n belangrike kontinentale waterskeiding, met reën aan die suidekant wat na die Atlantiese Oseaan vloei, en aande die noordekant na die Indiese Oseaan (Foto: Verskaf)

Johannesburg se verlede is vol fassinerende plekke en karakters. Ken jy die storie van die glansryke mevrou Josie Dale Lace, of die baasspelerige Lady Phillips, of die ‘vader van Soweto’ James Mpanza? Onthou jy die dapper feminis Mary Fitzgerald, en die Randlord-mynmagnate wat hul fortuine op die goudvelde gemaak het en toe probeer het om president Paul Kruger se regering omver te werp met die Jameson-inval?

Oor hierdie geskiedenis, en soveel meer, hou die Johannesburg Erfenisstigting ʼn wakende oog en ʼn beskermende hand. Meer nog, hulle maak dit vir Jan Alleman toeganklik deur elke naweek ʼn toer na ʼn ander deel van die stad, met daardie unieke geskiedenis, aan te bied.

Volg die geskiedenisspore

Die Johannesburg Erfenisstigting, of JHF in kort, bied al sedert sy vorming in 2012 stap-, bus- of virtuele toere aan. Hulle volg in die diep voetspore van hul voorganger, die Parktown en Westcliff Erfenistrust, wat in 1985 reeds gestig is om die vernietiging van talle historiese huise te keer. Met hierdie toere poog hulle om bewustheid oor die Goudstad se kosbare geskiedenis te skep en mense iets nuuts te leer, maar ook om te wys hoeveel pret en plesier daar in erfenis opgesluit lê.

“Johannesburg se geskiedenis is vol drama, opwinding, gevaar, en selfs so ʼn bietjie glans. Die JHF vier die stad se geskiedenis in al sy glorie en probeer om hierdie baie belangrike, maar bedreigde hulpbron vir volgende generasies te bewaar.”

So vertel Michele Vrdoljak, wat in beheer van die toere is. Die toere word deur kundige toergidse gelei en verken ʼn verskeidenheid van Johannesburg se interessante erfenisterreine. Van statige ou huise, begraafplase en kerke, tot pragtige tuine en parke, toere deur die middestad en ou buurte, en die buurdorpe en townships. Hulle bied ook privaat toere op aanvraag aan, wat pasgemaak word vir ʼn groep se spesifieke belangstellings.

Agter die skerms

Volgens Michele is dit baie opwindend om die jaar se toere te beplan. “Ons opgeleide gidse maak gewoonlik eerste voorstelle vir toere, gegrond op hul persoonlike belangstellings en kundigheid. Verder kom daar ook versoeke vanaf ons lede en sosialemediavolgelinge, wat ons dan opvolg. Ons span van toergidse kom elke drie maande byeen om die volgende kwartaal se toere te beplan.”

Wanneer ʼn toer beplan word, is die navorsing oor daardie plek belangrik. Die toergidse se eerste stop is by die stigting se eie navorsingsentrum, waar ʼn indrukwekkende databasis oor historiese geboue en persone bewaar word. Lede van die JHF het ook vrye toegang tot hierdie navorsingsmateriaal, terwyl nie-lede, ander organisasies en die algemene publiek toegang kan kry teen ʼn fooi.

Inligtingsbronne vir die toere word verder deur die toerleier se eie versamelings aangevul, asook openbare biblioteke, munisipaliteite en aanlyn bronne. Die toergidse deel inligting en notas onder mekaar om seker te maak dat die inligting akkuraat, gebalanseerd en interessant is.

Die JHF dryf ook ʼn uitgebreide blou gedenkplaatprogram, met die doel om belangrike erfenisterreine in en om die stad uit te wys vir enige verbyganger wat toevallig daarop afkom. Die gedenkplate is ook ʼn groot bron van inspirasie vir die toere wat aangebied word. Daar is al meer as 200 van hierdie erfenismerkers in en om Johannesburg geplaas.

Iets vir elke smaak

Die groot herehuise van Johannesburg is altyd ʼn gunstelingbestemming vir toere en word gereeld deur belangstellendes versoek, sê Michele. “Ons het byvoorbeeld onlangs die voorreg gehad om Dolobran te besoek, die ou huis boaan Oxfordstraat in Parktown. Dis ʼn wonderlike woning wat James Cope Christie vir sir Llewellyn Andersson ontwerp het. Die huis spog met pragtige brandglasvensters, oorspronklike meubels, kunswerke en asemrowende antieke versamelstukke. Die oorspronklike perdestalle is ook nog daar. Dis steeds ʼn privaatwoning in die Andersson-familie, met die derdegenerasie Anderssons wat nou daar woon.”

Nog ʼn gewilde toer hierdie jaar was die “murder and madness”-bustoer. Hierdie toer het in die donker dieptes van Johannesburg se kriminele verlede ingekruip en die fisiese tonele besoek waar talle van Johannesburg se mees berugte misdade plaasgevind het.

“Dink aan die tragiese verhaal van die ‘goodtime girl’ Bubbles Schroeder; die raaiselagtige dood van Hazel Cane en Brett Kebble; die grillerige storie van die dieretuinmeer-moordenaar, Ronald Burch. Ons het ook die plek besoek waar ʼn padblokkade opgestel is om die Foster-bende te vang, maar generaal Koos de la Rey toe geskiet is, en die roete van verwoesting wat deur die 1922-mynverwerstaking gelaat is. Daisy de Melker, Herman Charles Bosman, die berugte stasiebommer en talle ander maak ook hul verskyning.”

ʼn Besoek aan die Vrymesselaarsgebou in Parktown, met sy luukse binneruim en indrukwekkende houttrappe, is ook gewild. Vrymesselary in Suid-Afrika het ʼn ryk geskiedenis en baie prominente mense in ons geskiedenis was glo deel van hierdie uitgesoekte groep verklap Michele.

Minder bekende moontlikhede

Die JHF doen ook moeite met die minder bekende erfenisjuwele wat in die stad te ontdek is. Hulle help byvoorbeeld die vrywilligers met ʼn hart vir begraafplase om navorsing oor Johannesburg se historiese begraafplase in Brixton en Braamfontein te doen, asook opknappingswerk aan beskadigde grafte en asnissies. Hulle onderhou die terrein deur plantegroei in toom te hou en bied ook toere na hierdie fassinerende begraafplase aan.

“Met van die toere fokus ons op grafstene met besonderse ontwerpe, en ondersoek die betekenis agter verskeie simbole wat op die grafte gebruik is. Nog ʼn toer delf diep in die geskiedenis van die Braamfontein-begraafplaas, as die oudste begraafplaas in die stad, waar ʼn hele paar bekendes begrawe is. Die vrywilligers doen ook tans moeite om die gedenkmure met nissies te herstel, nadat dit onlangs erg gevandaliseer is.”

Die JHF het onlangs die geskiedenis van lugvervoer en die merkwaardige gebouekompleks van die Randse lughawe verken. Die lughawe is in 1935 geopen en is onmiddellik deur The Times geloof as een van die Britse ryk se mees moderne en bes toegeruste lughawens. Die terminaalgebou is ʼn ontwerpmeesterstuk, voeg Michele by. “In daardie dae het passasiers op ʼn Woensdag in Londen opgeklim en die volgende Donderdagmiddag op Germiston geland – Johannesburg was dus slegs agt dae se reis weg van die sentrum van die Ryk!”

Party toere neem jou ook die natuur in, soos wanneer die geskiedenis van die Linksfield-rif te voet verken word. Die toer betower met al die plant- en voëllewe wat jy teëkom, terwyl die interessante stories oor plaaslike mense uit die verlede stappers boonop vermaak.

Die ingang van die Randse lughawe, wat gebou is om soos ‘n vliegtuig te lyk (Foto: Verskaf)

Raak betrokke

Die JHF het tans 420 lede wat help met erfenisbewaring, toegang tot ledevoordele kry, en afslagpryse vir toere betaal. Mense wat in Desember as lede van die JHF aansluit, kry die eerste drie maande van 2024 gratis. Jou lidmaatskap sal dus tot Maart 2025 geldig wees. Besoek die JHF se webblad vir meer inligting en om aan te sluit: www.joburgheritage.org.za.

Volg hulle ook op Facebook en Instagram vir inligting oor hul volgende toere.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.