Eseltjiesrus: Hiér is donkies die wonderlikste ding

Ziggy en sy maats. (Foto: Eseltjiesrus Donkey Sanctuary)

Ziggy en sy maats. (Foto: Eseltjiesrus Donkey Sanctuary)

Die stokou Afrikaanse volksliedjie lui nie verniet “Die donkie is ʼn wonderlike ding” nie. Vir die personeel van die Eseltjiesrus Donkey Sanctuary op McGregor in die Wes-Kaap is min dinge só waar.

Dié donkieskuiling-en-rehabilitasiesentrum, wat 15 jaar gelede amptelik op die been gebring is deur Johan en Annemarie van Zyl, bied sedert hy sy deure oopgemaak het elke jaar ʼn boekefees aan om geld in te samel vir die versorging van die donkies wat by dié geliefde skuiling woon.

Mariana Rabie, raadslid van Eseltjiesrus en vrywillige bemarker van die boekefees, vertel aan Maroela Media dat die Van Zyl-egpaar twee jaar voordat die donkieskuiling sy deure oopgemaak het, eers donkies as ʼn hartsprojek op hul eie erf versorg en rehabiliteer het.

“Mense van oor die land het toe begin boeke aanstuur as skenkings om sodoende verkoop te word en te sorg vir ʼn ekstra inkomste vir die versorging van die donkies. Later het Johan ʼn boekwinkel oopgemaak en dié winkel vir twee jaar bedryf voor die ontstaan van die donkieskuiling, waarna die donkies en die boekwinkel saam na een perseel verskuif is.”

Eseltjiesrus se boekwinkel het ook sy eie koffiewinkel waar koffie, wyn en bier genuttig kan word saam met allerhande lekkernye soos koeke en terte, terwyl boekwurms vir ure hul neus in boeke kan begrawe.

“Al die boeke wat ons aanhou, word aan ons geskenk en ons koop dus niks aan vir die boekwinkel nie. Ons kry fantastiese boekeskenkings soos byvoorbeeld splinternuwe boeke wat oortollig deur uitgewers gedruk word. Die boeke kom van heinde en ver en dit word vir ons gekoerier, maar as die boeke in die Wes-Kaap is, maak ons ʼn plan om dit te gaan haal,” vertel Rabie.

Die donkie, Beauty, deel in Jan-Hendrik, Matthew en Franklin se leesgenot by Eseltjiesrus. (Foto: Verskaf)

Die donkie, Beauty, deel in Jan-Hendrik, Matthew en Franklin se leesgenot by Eseltjiesrus. (Foto: Verskaf)

Daar is bykans 10 000 boeke wat gereed staan vir die boekefees wat in Mei plaasvind. “Hulle is sommer klaar geprys en in bokse gepak, gereed om die Donderdag voor die aanvang van die fees uitgepak te word.”

Die boekefees strek oor drie dae en word in die McGregor- munisipale saal aangebied. “Daar is rye tafels wat kreun onder die boeke en die hele verhoog word ingerig vir rare boeke en spesiale uitgawes, soos CJ Langenhoven of Uys Krige se versamelde werke, wat nie meer so maklik bekombaar is nie.

“Ons het ook onlangs ʼn wonderlike skenking van JC Kannemeyer se boeke gekry. Ons verkoop boeke van alle genres en slegs tweedehandse boeke van goeie gehalte of splinternuwe boeke word verkoop,” sê Rabie.

“Die boekefees is jaarliks Eseltjiesrus se grootste geldinsamelingsprojek en al die geld word aangewend vir die versorging van die donkies.”

Die donkies het 'n genotvolle tyd by Eseltjiesrus. (Foto: Eseltjiesrus Donkey Sanctuary)

Die donkies het ‘n genotvolle tyd by Eseltjiesrus. (Foto: Eseltjiesrus Donkey Sanctuary)

Volgens Rabie woon daar tans 20 donkies by Eseltjiesrus. “Die skuiling is nou al só gevestig dat mense van ons weet, so die Dierebeskermingsvereniging en ander diereversorgingseenhede bel ons dadelik wanneer hulle in kennis gestel word van donkies waaroor iemand bekommerd is,” sê sy.

Vir die skuiling is dit egter die beste beloning as hulle die donkies by hul eienaars kan hervestig nadat hulle dié mense kon opvoed om beter na hulle donkies om te sien.

“Daar is nog baie mense wat donkies gebruik om werk te verrig en wat nie weet hoe om dié donkies goed te versorg nie. Ons roep dan die mense bymekaar en bied kursusse aan waar hulle geleer word hoe om nuwe teuels aan te sit, die donkies se hoewe en tande te versorg en hulle ook leer hoe om die donkies genoegsaam te voed,” vertel Rabie.

(Foto: Eseltjiesrus Donkey Sanctuary)

(Foto: Eseltjiesrus Donkey Sanctuary)

Lede van die publiek kan ook ʼn donkie “aanneem”, wat ook ʼn groot bron van inkomste vir die skuiling is. “Sou jy belangstel, kan jy kies of jy jaarliks of maandeliks ʼn bedrag wil skenk en daardie bedrag word spesifiek vir die donkie van jou keuse geoormerk. Met daardie geld versorg ons onder meer sy tande en hoewe en sorg vir sy kos.”

Margit Meyer-Rödenbeck het onlangs ʼn donkie en naamgenoot, Dowwe Dolla, by Eseltjiesrus aangeneem en die bekende musikant David Kramer is ook ʼn beskermheer van dié geliefde donkieskuiling.

ʼn Besoek aan Eseltjiesrus is ook deel van skole in die omgewing se jaarlikse kurrikulum en kalender. “As deel van die opvoedingsprojek vir kinders leer ons hulle dan om respek vir diere te toon en hoe om op ʼn verantwoordelike wyse na ʼn dier om te sien. Dit is ʼn baie suksesvolle projek,” voeg Rabie by.

David Kramer is 'n beskermheer van Eseltjiesrus. (Foto: Verskaf)

David Kramer is ‘n beskermheer van Eseltjiesrus. (Foto: Verskaf)

Sy vertel van die groot vreugde toe daar onlangs ʼn vulletjie op die perseel gebore is. “Dit is ook vir ons altyd ʼn groot hartseer as een van die donkies heengaan. Die donkies word op die perseel begrawe en ons het ʼn gedenktuin, waar ʼn koperplaatjie met sy naam en besonderhede aangebring word. Daar is ook ʼn gedenkstapeltjie met klippe waar mense boodskappies vir die donkies kan skryf.”

Elke donkie het ʼn naam, soos Alice, Amy, Ziggy, Lulu en die boetie-en-sussie-paar Hansie en Grietjie.

“Ek self het vir Donkey aangeneem nadat my oorspronklike aanneemdonkie, Spokie, dood is,” vertel Rabie. “Elkeen van die donkies het ʼn pragtige storie en die wonderlikste deel van die aanneemprojek is dat jy kwartaalliks ʼn verslag kry oor jou donkie – watse tande is getrek, watter donkie is sy beste maatjie en natuurlik kry jy ook foto’s. Die idee is egter dat mense vir die donkies kom kuier.

“Hulle interaksie met mense, veral gestremdes, is ongelooflik. Die aanklank wat hulle by daardie mense vind, kan nie beskryf word nie. Dit is asof die donkies net eenvoudig verstaan. Hulle druk hulle neuse teen mense se nekke om liefde te gee en dit is net fantastiese terapie,” sê Rabie.

Die Eseltjiesrus Boekefees vind van Vrydag 17 tot Sondag 19 Mei op McGregor plaas. Vir verblyf, nader die McGregor-toerismekantoor by 023 625 1954. Vir meer inligting, stuur ʼn e-pos na [email protected] of besoek die Eseltjiesrus-webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

pinkie ·

Beste nuusberig heelweek in Maroela. So reënboog in ‘n andersins donker land…

Helene ·

Baie dankie vir julle wonderlike werk!! Hulle is pragtige diere!!

pinkie ·

Miskien kan die land se weermag by julle kom kers opsteek?

Annakapat ·

Dis baie bevredigend om te weet jy versorg moontlik n verwaarloosde donkie wat andersins nie sou kos gehad het. Ek het onlangs my 2de een aangeneem.
Wil ook graag gaan kuier … eendag …

Johanna Botha ·

En in sa word ons donkies mishandel en geslag op baie weede maniere vir die vel …kyk ook na die useless weermag wat hulle perde so verwaarloos het !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.