Eskom-fluitjieblaser, jy’s nie alleen nie; Solidariteit bied ondersteuning

Korrupsie, plundering en wanpraktyke is amper sinoniem met bedrywe in Suid-Afrika, veral in die staatsentiteit Eskom, en landsburgers is siek en sat daarvoor. Maar wat staan ons te doen?

Daar is honderde dapper en moedige Eskom-werknemers in Suid-Afrika wat kan help om hierdie nare kringloop van korrupsie en misdrywe by hulle werk te verbreek deur dit te openbaar of die fluitjie te blaas. Solidariteit verstaan dat daar talle uitdagings is om ʼn veilige en effektiewe fluitjieblaser te wees, daarom wil Solidariteit hierdie dapper individue bystaan met ʼn splinternuwe inisiatief #DapperBurger.

Hoekom is fluitjieblasers nodig?

ʼn Kultuur van sodanige wanpraktyke word in stand gehou deur ʼn apatiese houding teenoor hierdie gebeure. Daarbenewens maak die misdadigers op almal se stilte staat om hierdie kullery deur te voer.

Fluitjieblasers wat misdrywe aan die groot klok hang, is noodsaaklik en ʼn goeie plek om te begin om hierdie misdadigers verantwoordbaar te hou asook om Suid-Afrika se staats- en privaat instellings gesond te laat funksioneer en floreer.

Waar begin ek as ek misdrywe wil ontbloot met Solidariteit se hulp?

Om Solidariteit-ondersteuning te geniet, moet jy eerstens seker maak dat jy wel ʼn lid van Solidariteit is.

Indien jy jouself in ʼn bedenklike situasie sou bevind en glad nie weet wat om te doen nie, of  jy vermoed onraad, of jy wonder net oor ʼn paar dinge voor jy die fluitjie blaas, besoek die #DapperBurger-webblad om jouself te vergewis van al die stappe en vereistes om jou poging ʼn sukses te maak. Klik hier.

Alles wat jy moet weet, is daar beskikbaar.

Wanneer jy voel jou saak is agtermekaar, kontak Solidariteit via die inbellyn of webblad. Albei word deur dienssentrumagente beman wat die saak na ʼn arbeidsregsadviseur sal verwys.

Die arbeidsregsadviseur sal daarna bepaal of jy advies en/of bystand benodig vir ʼn arbeidsregtelike of ondersoekende/strafregtelike doel.

Hoekom het Solidariteit hierdie inisiatief begin?

Solidariteit se doel hiermee is om ʼn kultuur van anti-korrupsie en anti-belastingplundery daar te stel.

Daar moet ʼn kultuur van beskerming en verantwoordelike fasilitering geskep word vir fluitjieblasers is Eskom wat inligting met betrekking tot kriminele en ander onreëlmatige optrede in die werkplek bekend maak. Dit sal moontlike vergelding teenoor die fluitjieblaser tot ʼn minimum beperk en deursigtigheid bevorder.

Elke werkgewer het die verantwoordelikheid om alle nodige stappe te doen ten einde te verseker dat werknemers en werkers wat inligting bekend maak, teen weerwraak as gevolg van hierdie ontbloting beskerm word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.