Esté Gross bring klassieke klanke na Pretoria FM

Esté Gross het in April by Pretoria FM aangesluit. (Foto: Verskaf)

Die Pretoria FM-aanbieder, programspesialis en sangeres Esté Gross skuif eersdaags agter die mikrofoon in vir Wat’s Nuut? Dis Klassiek!, ʼn nuwe musiekprogram met die jongste plaaslike en internasionale nuus uit die klassieke musiekwêreld.

Gross sê die klassiekemusiekwêreld is bedrywig, innoverend en voortdurend aan die verander.

“My hoop is dat luisteraars na elke uitsending aangenaam verras, geïnspireerd en aangespoor sal wees om die wêreldgehalte klassieke musiek op ons voorstoep, hier in ons eie land, te ondersteun.”

In dié program sal luisteraars Suid-Afrikaanse musici beter leer ken wanneer hulle oor hulle inspirasies, jongste uitreikings en uitvoerings gesels. Die program is ʼn uur lank en is elke Sondag van 1 Mei af tussen 12:00 tot 13:00 op die lug.

“Daar is ʼn leemte en ʼn behoefte daaraan om klassiekemusiekliefhebbers op hoogte van die jongste nuus in die Suid-Afrikaanse klassiekemusiekbedryf te hou,” meen Gross. “Ons het ʼn oorvloed talent, en soveel Suid-Afrikaners wat sukses in die buiteland behaal. Op die platform gaan ons ook hierdie nuus met luisteraars deel.”

In die eerste aflewering gesels Gross met die Suid-Afrikaanse komponis en dirigent Franco Prinsloo oor onder meer sy onlangse benoemings vir die Naledi-teatertoekennings vir beste klankontwerp en beste klankbaan vir Mr President.

Prinsloo vertel meer oor sy jongste komposisies en hy brei uit oor “Walvisnota” wat deel van die Vox Chamber Choir se koorkonsert Vuurbees was. Luisteraars kan uitsien na dié kunslied en toonsettings van beroemde gedigte wat deur van  Suid-Afrika se voorste musici uitgevoer word.

Gross het in April by Pretoria FM aangesluit na nege jaar by RSG. Sy is ook die aanbieder van die nuwe klassiekemusiekprogram Laat alles wat asem het wat op klassieke gewyde koor en sang fokus, en die ligte klassieke musiekprogram Sondagkeur.

Wat’s nuut? Dis klassiek! word van Sondag 1 Mei om 12:00 uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wicus ·

Welkom Esté, alhoewel ek nie ‘n gereelde RSG luisteraar is nie het ek daar na jou programme geluister. Ek sien uit na WNDK!

En dankie dat jy professionaliteit saambring.

fransdutoit3 ·

Este is voorwaar ‘n aanwins vir Pretoria Fm en ‘n verlies vir RSG..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.