Facebook-groep bedank noodsaaklike werkers

Die Facebook-groep “Thumbs up Tuesday” is gestig om gesondheidswerkers tydens die Covid-19-pandemie te ondersteun.

Die idee van die groep is om ʼn aanmoedigende en positiewe gevoel te versprei en om waardering vir mense wat noodsaaklike dienste lewer te wys.

Dié groep moedig die publiek aan om elke Dinsdag boodskappe, foto’s of video’s met die hutsmerk #ThumbsUpTuesday te deel ter ondersteuning van leweraars van noodsaaklike dienste.

Alvin van Staden, wat die Facebook-groep gestig het net nadat die inperkingstydperk verleng is, sê hy wou dit begin omdat dit vir hom is saak is wat na aan sy hart lê.

“Dit is vir my ʼn baie persoonlike ding, omdat ek naby familielede het wat paramedici en verpleegsters is. Ek het ook baie vriende wat in die polisiemag is.”

“Hulle werk tans in omstandighede met die hele wêreld in negatiwiteit en onsekerheid gedompel. Veral ná die verlenging van isolasie is hulle onder soveel addisionele druk. Ek wou dit [die groep] begin net om positiwiteit in die gemeenskap in te blaas, maar ook om pertinent vir hierdie mense dankie te sê.”

Van Staden sê die Facebook-blad het die afgelope drie dae veral baie aftrek gekry, maar dat dit nog besig is om te groei.

Jy kan ʼn motiverende boodskap op jou eie Facebook-profiel plaas met die hutsmerk #ThumbsUpTuesday of jy kan jou boodskap direk op Thumbs up Tuesday se blad plaas vir groter blootstelling, ook vir die mense wat noodsaaklike dienste lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.