FAK onthou Oom Paul

Die FAK en Kruger-Genootskap het linte op gehang by Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein ter nagedagtenis van sy dood. (Foto verskaf)

Op 14 Julie 1904, 118 jaar gelede, was Afrikaners deur rou oorval ná die aankondiging van Paul Kruger se afsterwe in Switserland.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), in samewerking met die Kruger-Genootskap, het besluit om die lewe van dié merkwaardige man te vier deur ’n nasionale dag van herinnering te hou.

Die FAK-Kultuurnetwerke in Pretoria, Rustenburg en Krugersdorp het die ZAR-president vanjaar herdenk deur linte te hang en kransleggings te hou by sy standbeelde en verskeie plekke oor die land.

Personeellede van die FAK, Voortrekkermonument en Erfenisstigting het vanjaar se vieringe vroeg afgeskop by die Voortrekkermonument waar ’n replika van die bekende Kerkplein-standbeeld nou op die monumentterrein pryk.

Hilde Kruger, bemarker van dié organisasies, het by dié geleentheid verduidelik dat dit vir haar persoonlik belangrik is om hierdie dag te vier omdat Paul Kruger deur baie mense beskou word as die vader, oftewel “die oom” van die Afrikaners.

“Paul Kruger se nalatenskap is onmiskenbaar en die lesse wat mens by hom kan leer, is eindeloos; daarom is dit vir my belangrik dat ons sy lewe vier,” het sy gesê.

Hannes Noëth van die Kruger-Genootskap sê ons moet op die verlede se mooi ons toekoms bou. (Foto verskaf)

Die landwye gedenkdag het amptelik afgeskop met ’n kranslegging by die Heldeakker in Pretoria waar Paul Kruger en sy familielede begrawe is.

Hannes Noëth van die Kruger-Genootskap het tydens die besoek aan die Heldeakker gesê die wêreld het al soveel verander sedert Kruger geleef het, maar dít waarvoor Paul Kruger en die Afrikaners gestaan het, is nog hier.

Barry Muller van die FAK lê ’n krans by Paul Kruger se graf. (Foto verskaf)

“In Paul Kruger het God die Afrikanervolk ’n ongelooflike gawe gegee en ons onthou hom vandag op die herdenking van sy sterfte en die nalatenskap wat hy gelos het: Haal uit die verlede die mooi en bou die toekoms daarop. Hy het gewens om ’n land te bou en om nageslagte te ontwikkel wat dié roeping voortsit,” het Noëth gesê.

Daar is ook linte opgesit by die Paul Kruger-standbeeld op Kerkplein, terwyl verteenwoordigers van die FAK voor die Rustenburgse stadsaal en in Paardekraalstraat, Krugersdorp, kransleggings en lintseremonies gehou het.

Barry Müller, die FAK se kultuurkoördineerder, het gesê dat hierdie dag ons weer herinner aan ons voorouers se opofferings en die lesse wat ons uit ons ryk kultuurerfenis kan leer.

“Dit is ’n voorreg om ’n man te kan herdenk wat sulke diep voetspore op ons Afrikanerlandskap getrap het. Dit is van sleutelbelang dat ons as Afrikaners diegene onthou wat voor ons gekom het en so ook uit hulle lewe lesse leer tot die verbetering en bevordering van ons eie lewe en ons Afrikaneridentiteit, asook dankbaarheid wys vir dít wat hulle vir ons gedoen het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.