FAK skep herinneringe in ‘Ouma se huis’

Gys en Kobie Ströh knip die lint tydens die amptelike opening van “Ouma se huis” plaashuis-museum. Ziegfried van Huysteen en Jan-Danie Malan staan hulle by. (Foto verskaf)

Dit is vroegoggend langs die oewer van die Vaalrivier. Op die stoep sit jou oupa en teug aan sy pyp, met ’n koppie boeretroos in die hand. In die kombuis syfer die reuk van ’n varsgebakte brood by die koolstoofhortjies uit, terwyl Ouma perskes inlê. Sussie speel met haar handgemaakte lappop en jou broer skiet kettie in die agterplaas. Dit is ’n toneel wat so bekend aan talle Afrikaners sal wees …

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) verstaan dat ’n tuiste die hartklop van ’n familie is, daarom het dié organisasie onlangs ’n opwindende nuwe projek aangepak om ’n plaashuis-museum op Udolpho Rivierplaas in Parys te vestig.

“Ouma se huis” is ’n ou plaashuis wat deur die FAK in samewerking met die Erfenisstigting en verskeie belanghebbendes opgeknap is. Die huis is omskep in ’n eg Afrikaanse tuiste waar kinders weer die tradisies van ʼn plaas kan beleef én herleef.

Tydens die amptelike opening Saterdag het ds. Rudolph van der Merwe van die Gereformeerde kerk Parys, die gaste herinner aan die woorde van Jeremia 31:21: “Rig vir jou padwysers op.”

“Ons moet bakens oprig,” het hy verder op dié teks uitgebrei. “Ons moet weet van waar ons kom en waarheen ons op pad is.”

Met die hulp van Kobie en Gys Ströh van die FAK se Vaal-Kultuurnetwerk het die FAK verskeie oudhede versamel om die huis outentiek te maak en daarin geslaag om dié trotse Afrikaanse erfenis lewendig te hou.

Kobie Ströh van die FAK se Vaal-Kultuurnetwerk, sê die idee van Ouma se Huis het ontstaan uit ’n behoefte om skatte te bewaar vir die komende geslagte. Hier neem sy die eerste besoekers deur die huis. (Foto verskaf)

Kobie vertel dat die idee vir die projek gespruit het uit hul liefde vir oudhede en die persoonlike versameling wat hulle deur die jare opgebou het.

“Ek en my man het verskeie erfstukke en versamelaarsitems deur die jare bymekaargemaak en so op ons oudag het ons gewonder wat daarvan gaan word wanneer ons nie meer hier is nie.

“Ons het toe kontak gemaak met dr. Danie Langner van die FAK en gevra of ons dié items by hulle kan laat bewaar sodat die komende geslagte dit nog kan sien en waardeer.”

Tydens hul samesprekings met Langner het die idee ontstaan om die items te gebruik om die ou plaashuis weer nuwe lewe te gee.

Kobie het afgesluit deur te sê dat dié huis nie net ’n huis vol ou goed is nie, maar ’n toevlug vir die jeug behoort te wees waar hulle weer kan sien hoe hul voorouers geleef het.

“Toe my ouma eendag sukkel met haar selfoon en die kleinkinders vir haar begin lag, het sy haar nie daaraan gesteur nie; sy het doodeenvoudig gesê: ‘Julle lag vir my oor ek nie ’n selfoon ken nie, maar Ouma was daar toe die eerste slingerfone uitgekom het, so ook die eerste selfone, eerste TV’s, eerste motors en eerste rekenaars. Ouma het twee wêreldoorloë gesien en ’n grensoorlog.’ Dit is toe dat ek besef dit is hierdie goed wat ons vir ons kinders moet kan wys en hierdie geskiedenis wat ons vir ons nageslagte moet bewaar.”

Ziegfried van Huysteen, finansiële bestuurder van die FAK, het op sy beurt verduidelik dat Udolpho jare lank al ’n tuiskomplek is, en daarom is dit gepas dat dié plaashuis-museum ook nou hier bekend gestel word.

“‘Ouma se huis’ is meer as ’n museum,” het hy verduidelik. “Dit is ’n plek wat ons almal goed ken, dit is die huise waarin ons grootgeword het en daarom wil ons dit behou vir die toekomende geslagte.”

Meubels van die voormalige eerste minister JG Strijdom se huis in Modimolle (Nylstroom) is ook aan dié projek geskenk. Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het gesê sy is dankbaar dat dié geskiedkundige skatte nou bewaar kan word en behoue kan bly vir toekomende geslagte.

“Die Modimolle-Mookgophong- plaaslike munisipaliteit in Limpopo het meubels aan die FAK beskikbaar gestel in terme van ’n bruikleenooreenkoms,” het sy verduidelik.

“Die JG Strijdom-huis is erg vervalle en ons wil graag die meubels beskerm, asook ten toon stel aan besoekers. Dié meubels asook hul geskiedenis speel ’n belangrike rol en moet vir latere geslagte bewaar word. Adv. Hans Strydom, die ‘Leeu van Waterberg’, was Suid-Afrika se sesde eerste minister.”

Die plaashuis-museum getiteld “Ouma se huis” en die Udolpho Rivierplaas in Parys is oop vir besoekers. Besoek dié webwerf vir meer inligting.

Die FAK, Erefenisstigting en verskeie belanghebbendes het die afgelope naweek saamgekom in Parys om die amptelike opening van Ouma se Huis te vier. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Miena ·

Dis nou oulik. Baie dankie FAK. Hoe mis ek nou my ouma se huis met die beskuit (gewone en anys) reuk deur die huis en die koffie wat staan en trek op die ou antrasiet-stofie…

Swerwer ·

Riem onder die hart. Hoop net daar is genoeg sekuriteit om die wesens daar weg en uit te hou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.