FAK vereer Baby (93) vir taal en kultuur

Ziegfried van Huyssteen, adjunkhoof van die FAK, het die prys aan Baby Lombard (93) oorhandig. (Foto: Verskaf)

Op 93 het sy reeds verskeie wêreldgebeurtenisse en ander op eie bodem beleef en oorleef. Baby Lombard van Ermelo in Mpumalanga het die Groot Depressie, Tweede Wêreldoorlog, Republiekwording en die eerste maanlanding meegemaak. In 1994 het sy met die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika gestem en vanjaar ook die Covid-19-pandemie oorkom.

Sy vertel hoe haar oupa tydens die Groot Depressie ’n skaap met ’n lam vir ’n halfkroon verkoop het. Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog is sy ’n jong meisie en trou sy later met Willie, ’n soldaat wat vrywillig vir vyf jaar lank in die Tweede Wêreldoorlog aan die Noordkus van Afrika geveg het. Haar pa is ’n oorlewende van ’n konsentrasiekamp nadat albei sy ouers in die Anglo-Boereoorlog dood is.

Nadat sy en Willie getroud is, het sy op hul stuk grond met stoetskape geboer en vrugte en groente verbou. Hulle maak daar vir Arie groot en dien die gemeenskap van Wakkerstroom en Ermelo. Baby was vir jare lid van die Vrouefederasie (vandag SAVF) en is steeds vandag by die kerkgemeenskap betrokke.

Sy bly tans alleen in haar eie huis op die dorp, waar sy nog self die huis skoonmaak en haar eie kos maak. Tot en met ses jaar gelede het sy nog haar eie klere ook gemaak. In die kompleks waar sy woon, stap sy daagliks en almal kom vra haar raad – hetsy dit oor gesondheid of ander raad is, sy help graag almal.

Afrikaans, haar moedertaal, Afrikaanse geskiedenis en kultuur het Baby nog altyd na aan die hart gelê.

Baby is onlangs deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) vereer vir haar dienswerk om die Afrikaanse taal, kultuur en geskiedenis in haar omgewing te bevorder.

In Augustus vanjaar, gedurende Vrouemaand het die FAK begin om vroue landwyd vir hul rol in hul onderskeie gemeenskappe te vereer. Dis vroue wat opstaan, bou en volhard – op elke terrein in die gemeenskap. Benoemings van oor die land is ontvang. Die FAK-kultuurnetwerke het dié vereringsprojek landwyd gedryf.

“Wat ʼn ongelooflike voorreg was dit nie vir my om aan tannie Baby ’n FAK-eerbewys te kon toeken nie. Tannie Baby is ’n noemenswaardige inspirasie vir haar gemeenskap. Haar hande staan vir niks verkeerd nie, en haar vrolikheid en positiwiteit is aansteeklik,” sê Ziegfried van Huyssteen, adjunkhoof van die FAK.

Haar kleindogter, Lizette Lombard, het Baby vir die prys genomineer.

“Ek het uitsonderlike respek vir my ouma, haar absolute positiwiteit deur al die dekades, ongeag wat die lewe oor haar pad gebring het. Ek wens elke mens kon net ’n dag saam met my ouma spandeer. Hulle sal dadelik besef watter besonderse mens sy is,” vertel Lizette.

“Baby Lombard is op 93 ’n inspirasievrou wat uitstaan, bou en volhard in haar gemeenskap,” sê Marianda Schlebusch, koördineerder van die FAK-kultuurnetwerke in Gauteng, Mpumalanga en Limpopo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Die Goodwoodianer ·

Wonderlik, wonderlik! Veels geluk met die toekenning, Me. Lombard!

Ook knapgedaan aan FAK vir die besondere eerbewys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.