FAK vereer, onthou formidabele vroue van destyds en nou

’n Damesoggend ter viering van die Eerste Nasionale Tee- en Koffiemaatskappy, wat in 1955 deur meer as 10 000 sterk en formidabele Afrikaanse vroue in die lewe geroep is, is in die FAK se Afrikaanse Liedjietuin gehou.

Min dinge kom by ’n koppie boeretroos (of ’n soet koppie tee), en dit weet vroue uit die Afrikaner se geskiedenis maar alte goed. Op 22 April 1955 word die Eerste Nasionale Tee- en Koffiefabrieke – die eerste openbare maatskappy wat deur Afrikaanse vroue opgerig is – onder voorsitterskap van Hobbie le Roux gestig.

Sy is opgevolg deur mev. PK Morkel. Meer as 10 000 vroue was aandeelhouers van dié maatskappy wat destyds verantwoordelik was vir die bemarking van Braganza-tee en later ook Frisco-koffie.

Magdie de Kock.

Magdie de Kock, president van die Wêreldbond vir Plattelandse vroue, en Dinah Bronkhorst, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Toekomstrust, het vroue van Die Dameskring, Die Voortrekkers, die Trust vir Afrikaanse Onderwys, die Suid-Afrikaanse Vrouelandbou-unie (VLU) en Die Erfenisstigting kom toespreek, waarna almal oor ’n koppie tee saamgekuier het.

De Kock is in April 2019 as wêreldpresident van die Wêreldbond van Plattelandse Vroue aangewys. Dis die eerste keer in dié organisasie se 90-jarige bestaan dat iemand uit Afrika hierdie posisie beklee.

Marianda Schlebush, koördineerder van die FAK-Kultuurnetwerke, oorhanding aan Magdie de Kock en Dinah Bronkhorst toekennings vir hulle onderskeie dienswerk om die Afrikaanse taal, kultuur en geskiedenis te bevorder.

Die Associated Country Women of the World (ACWW), waarna in Afrikaans nie-amptelik as die Wêreldbond van Plattelandse Vroue verwys word, is in 1929 gestig. Dit het meer as 10 miljoen lede oor die wêreld heen, werk in 84 lande vir die opheffing van vroue en kinders, en is ook lid van die Verenigde Nasies.

De Kock is by die driejaarlikse konferensie, wat in Australië aangebied is, tot wêreldpresident verkies. In dié hoedanigheid gaan sy vir die volgende drie jaar die beelddraer en segspersoon van die organisasie wees. Sy behoort reeds 40 jaar lank aan die VLU en het op ’n jong ouderdom by die organisasie aangesluit omdat sy haar kon vereenselwig met die visie en doelwitte, naamlik die opheffing en toerusting van die volwasse vrou. Sy het ’n graad in grondslagfase‑onderwys aan Tukkies verwerf en as skoolhoof gewerk totdat haar en haar ingenieur-man van die afgelope byna 50 jaar, Johan, se eerste van drie kinders gebore is.

Die wêreldwye Covid-19-pandemie het veroorsaak dat De Kock haar nuwe leierskaprol meestal virtueel moes handhaaf. “Vir langer as ’n jaar is my wêreldpresident-vlerkies geknip en word ek die voorreg ontneem om lande te besoek, geleenthede by te woon en mense toe te spreek. Kontak is dus beperk tot die geleenthede wat ’n blikbrein my toelaat en bied.”

De Kock het gesê geleenthede vir vroue om ’n verskil te maak en hul gemeenskappe te dien, sal hulle nooit ontneem kan word nie. “Ons vind maniere en gebruik geleenthede om ons unieke eienskappe en roeping uit te leef.

Magdie de Kock en Dinah Bronkhorst.

“Waar sou ons gewees het as die Voortrekkervroue nie waagmoed en durf aan die dag gelê het en hul mans ondersteun het in die besluit om die binneland in te trek nie? Of as ’n groep vroue nie in die vorige bedeling besluit het om sekere onderdrukkende landswette te bevraagteken nie? En inderdaad, as ’n visioenêre vrou nie in 1955 ’n maatskappy opgerig het om die Eerste Nasionale Tee- en Koffiefabrieke Beperk as ’n openbare maatskappy, wat deur vroue bestuur en beheer is met ’n verstommende aandelehouerbasis van meer as 10 000 Afrikaanse vroue, geskep het nie!

“Ons herdenk vandag die visioenêre en waagmoedige optrede van ’n groep Afrikaanse vroue wat geleef het in ’n tydperk toe vroue nie met vrymoedigheid toegang tot die Suid-Afrikaanse ekonomiese terrein gehad het nie.”

Die FAK het De Kock en Bronkhorst vereer vir hul onderskeie dienswerk om die Afrikaanse taal, kultuur en geskiedenis te bevorder.

Die twee vroue en Marianda Schlebusch, koördineerder van die FAK-Kultuurnetwerke, het elkeen ’n The Lady-roosboom in die Afrikaanse Liedjietuin geplant.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.