FAK vereer vroue vir dienswerk

Die 15 vroue van Mosselbaai en Hartenbos, wat deur die FAK vereer is saam met dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, en Gerrie Pretorius, sanger en TV-aanbieder. (Foto: Verskaf)

Vyf vroue in die Vaaldriehoek is vandeesweek deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) vereer vir hulle dienswerk om die Afrikaanse taal, kultuur en geskiedenis in hul omgewing te bevorder.

Die FAK-Vaaldriehoek-Kultuurnetwerk het op 12 November bymekaargekom waar die Rapportryers die lede van dié Kultuurnetwerk en dié vroue as gaste by die toekenningsgeselligheid in Vereeniging ontvang het.

Die FAK het ook vandeesweek 15 vroue in die Mosselbaai- en Hartenbos-omgewing erkenning gegee vir hulle dienswerk.

Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, was dit “hoopskeppend” om te hoor watter groot verskil elkeen van hulle maak op lewensterreine wat wissel van ekonomie, entrepreneurskap, welsyn en onderwys tot kuns en musiek.

“Dit is lekker, asook ʼn voorreg om vir elkeen van hierdie vroue dankie te kon sê,” het hy gesê.

“Gemeenskappe is die vesel wat die land aanmekaar hou en hierdie vroue vorm die middelpunt daarvan. Dit gee my moed en baie hoop vir die kultuur in ons land.”

In Augustus vanjaar, tydens Vrouemaand, het die FAK begin om vroue landwyd vir hul rol in hul onderskeie gemeenskappe te vereer. Dit is vroue wat opstaan, bou en volhard – op elke terrein in die gemeenskap. Benoemings van reg oor die land is ontvang. Die FAK-Kultuurnetwerke het dié vereringsprojek landwyd gedryf.

Vaaldriehoek se kultuurvroue

Die inspirasievroue in die Vaaldriehoek is v.l.n.r.: Hester Boshoff, Elsie Steyn, Dalene Venter, Germaine Smith en Kobie Ströh. Agter staan Marianda Schlebusch, wat die FAK-Kultuurnetwerk-koördineerder in Gauteng is. (Foto: Verskaf)

Onder die dinamiese vroue in die Vaaldriehoek is Kobie Ströh, toegewyde genealoog en administreerder van Facebook-blad “Monumente, gedenktekens en interessanthede SA”. Hierdie blad word gebruik om ’n groter bewuswording te kweek en om kennis oor te dra van ons kosbare historiese erfenis.

Germaine Smith dien op die nasionale komitee van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA). Sy lei mense op in genealogie en is die dryfkrag agter die dokumentering en neem van foto’s van plaaslike begraafplase om sodoende die geskiedenis te bewaar vir ons nageslag.

Hester Boshoff is ’n Afrikaans-onderwyser wat in haar loopbaan haar passie vir haar moedertaal uitgeleef en oorgedra het aan elke leerling wat haar klas betree het. Sy was etlike jare by die Voortrekkers betrokke gewees en het as onderwyser die Rapportryers se jaarlikse Bybelvasvra trou ondersteun.

Dalene Venter werk as maatskaplike werker by die Tabitha-versorgingsoord en dien as raadslid by die Drie Riviere-wyk in Vereeniging. Sy ontvang hierdie toekennings vir haar werksetiek, die wyse waarop sy saam met mense aan projekte werk en haar toegewydheid in haar wyk.

Elsie Steyn is ná ’n motorongeluk in 2018 verlam. Met vasberadenheid het sy weer leer loop, motor bestuur en leef sy elke dag voluit.

Mosselbaai se inspirasievroue

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het ook ’n spesiale toekenning tydens die seremonie aan Jan en Jeanette Ellis van die Janine Stryk- en Wasmuseum in Hartenbos oorhandig. (Foto: Verskaf)

Langner het die oorhandigingsgeleentheid van die eerste Inspirasie Vroutoekennings in Mosselbaai en omgewing op 10 November by die Groot Trekmuseum in Hartenbos bygewoon. ’n Spesiale toekenning is ook tydens die geleentheid aan Jan en Jeanette Ellis van die Janine Stryk- en Wasmuseum op dié dorp gemaak.

Langner het die Ellisse ook geloof vir die besonderse manier waarop hulle hul oorlede dogter Janine se nagedagtenis deur middel van die museum gedenk.

’n Motiveringsbrief oor elk van dié 15 vroue is tydens die oorhandigingsgeleentheid voorgelees. Onder die dinamiese vroue, met uiteenlopende passies en beroepe is ’n ma-en-dogter: Joan en Cornelle Carstens. Albei is enorme steunpilare in die gemeenskap. Benewens ’n juweel van ’n teater, die Monroe-teater, wat hulle bestuur, is Cornelle ’n verhoogkunstenaar in eie reg en ook ’n bekende gemeenskapsjoernalis wat haar taal en kultuur op hierdie gebied bedien.

Iemand wat geen bekendstelling nodig het nie, is die Lang Vrou en Afrikaanse kabaretdiva, Petronel Baard. Hierdie vrou het amper eiehandig die verborge kunstenaarstalente in die Suid-Kaap blootgelê. Haar opheffingswerk het tot gevolg dat diegene sonder stem die geleentheid kry om gehoor en ontwikkel te word. Baard het dan ook die gehoor met ’n paar pragtige nuwe skeppings uit haar pen getrakteer. Mordegai Erasmus, sanger van Groot-Brakrivier het saam met haar opgetree.

Annemarie Dellemijn word as ’n engel beskryf. Hierdie liefdevolle, saggeaarde vrou dra almal se belange op die hart en onthou die fynste besonderhede van hul omstandighede. Saam met haar man, Anton, wat ’n plaaslike raadslid is, dien hulle die gemeenskap met oorgawe.

Heleen Coertze, ’n entrepreneur en gemeenskapsleier van formaat het al vele inisiatiewe op Groot-Brakrivier begin en deurgevoer. Hier onder tel die Muse-fees, ’n sonderlinge dorpsfees, die Fragrance Route na Friemersheim asook ’n aantal puik musiekuitvoerings en opvoerings. Saam met haar is Elaine van der Walt van die Art@39 Long-kunsgalery ʼn groot inspirasie vir plaaslike kunstenaars. Sy was ook een van die groot geeste agter die Muse-fees wat omgewingsbewaring saam met kuns in die gemeenskap laat tuiskom het.

Marlise Labuschagne, assistent-streekorganiseerder van Helpende Hand in die Wes-Kaap, het die vermoë om mense te mobiliseer en saam met haar te vat. Labuschagne het daartoe bygedra dat die Mosselbaai-tak van Helpende Hand onlangs as die tak van die jaar en hul voorsitter, Magriet Potgieter, as voorsitter van die jaar aangewys is.

Amelia Thiat is ’n kampvegter vir Kansa en word geken aan haar sagmoedige leierskap as omgee-mens wat altyd haar gemeenskap ondersteun. Lynn Honiball is ’n bekende haarkapper op Mosselbaai. Sy is iemand wat met die gemeenskap om haar ’n pad stap en vir baie mense help om hul droom te leef. Sy is een van Mosselbaai se legendes.

Genevieve Muller is ’n vrou wat as leier in die gemeenskap uitstaan. As skoolhoof van die Diaz Primêre Skool het sy haar eie dramagroep vir leerders wat onder haar leiding al baie toekennings ontvang het. Mosselbaai se handwerk-ikoon, Zandra Klapwijk, het die Craft Art Workshop in Mosselbaai begin. Sy lei mense op in kunsvaardighede en maak self die pragtigste glaskunswerke uit herwinde glas. Sy hou daarvan om kultuurwerke te skep en daarom het sy aan elke wenner ’n stel plekmatjies geskenk waarop Afrikaanse volksliedjies tipies aan die FAK-Sangbundel, aangebring is.

Denise Lloyd, bestuurder van die Hartenbos Seefront word as een van die “mossels van Mosselbaai” beskryf. Sy ken die gemeenskap deur en deur en wend haar kennis en kundigheid tot voordeel van die dorp aan. Lloyd is ook die sameroeper van die FAK-Kultuurnetwerk op dié dorp.

Drie van die benoemdes, onder wie Venolea Fortuin wat op die munisipale raad dien en voorsitter van DAWN (die DA se Vroue-organisasie) se Oos-streek asook sekretaresse van die DA Oos-streek is; Adri van Nieuwenhuizen, besturende direkteur van Pink Trees For Pauline wat die land in pienk toedraai en geld vir hulp aan kankerpasiënte insamel; en Karin Cupido, ondervoorsitter van MOCCA (Mossel Bay Creative Culture Association) en ’n groot rolspeler om die kunste onder die gemeenskap te bevorder, kon die geselligheid nie bywoon nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.