Fees bring hoop vir boere in nood

Die landboubedryf word deur ʼn voortslepende droogte geteister en vanjaar se droogtehulpfees het so ʼn bietjie verligting gebring.

Burre Burger (34), stigter en bestuurder van die Droogtehulpfonds, en die Brits Jong-Boerevereniging, het op 2 en 3 Augustus sy vierde droogtehulpfees op Hoërskool Wagpos in Brits se skoolgrond aangebied.

“Ek glo feeste soos hierdie met die welvaart en omgee vir ons boere as die onderliggende onderwerp is broodnodig. Nie net vir die fondse nie, maar ook sodat die gemeenskap vir ʼn paar uur net kan vergeet van die boer se swaarkry.”

Die sanger en liedjieskrywer Christoph Kotzé, beter bekend as Appel, het saam met medesangers Steve Hofmeyer, Adam Tas, Nádine en nog ander opgetree. “Hoop is yl gesaai,” het Appel gesê, “en dit is ons werk om hoop na mense te bring, of dit nou in die vorm van voer, getuienisse of vermaak is.”

Burre sê die kunstenaars het gratis opgetree en die opbrengs sal gebruik word om boere in nood met voer te ondersteun. “Donderdag sal ons vrag 1 408 laai, een só ʼn vrag is min of meer R400 000 werd.”

Die sanger en liedjieskrywer Adam Tas het gesê hy is al jare betrokke by dié droogtehulpfees en elke jaar is vir hom ʼn nuwe ervaring.

“Burre vra so af en toe of ons nie wil deel wees van sy droogtehulpprojekte nie, en ek en my pa boer self, ons weet waaroor dit gaan.”

Die sangeres Nádine het gesê die fees was ʼn sukses en sy is bly dat die boere saam kan staan.

“Ek glo dié droogtehulpfeeste maak ʼn verskil. Ek onthou my laerskool se leuse was ‘Eendracht Maakt Macht’ wat eenheid in samesyn beteken, en dis presies wat hier gebeur: Ons Afrikanervolk is besig om saam te staan.

“Toe Burre my vra om deel te wees van die projek het ek onmiddellik ingestem.”

Die gemeenskap van Klipplaat, sowat 185 km van Port Elizabeth in Oos-Kaap, is baie bevoorreg om omtrent 30 vragte voer uit dié fonds te kry.

“Ek het nooit gedink dat mense van Suid-Afrika so baie omgee vir ons boere nie,” het Justin Krige (48) gesê, wat van Burger se voer ontvang het.

“Ons het eendeweer in die somer, maar die meeste boere in die omgewing het net genoeg reën gekry om tot nou toe aan te gaan,” sê Krige.

Danksy die hulp van Burger en sy organisasie het die gemeenskap begin saam staan en hulle het sommer weer moed gekry om die droogte in die oë te staar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JV ·

Wonderlik om so n berig te lees. Dankie Burre en vir al die sangers en almal wat betrokke is. Sterkte vir al ons Boere. Die Here sal voorsien.

Wow ·

Wow, baie trots op die sangers om verniet te sing vir ‘n goeie doel. En die man wat dit reël. Dankie

Pensioenaris ·

Baie dankie aan almal vir julle bydrae om dinge vir die boere bietjie makliker te maak. Ek het nog altyd gesê daar is nie maklik iemand met meer geloof as ‘n boer nie – hy glo steeds dat dit volgende jaar beter sal gaan. Ons kan maar net aanhou bid vir ons land en in die besonder vir ons boere

Sarel ·

Wys net weer ons kan saamstaan wanneer nodig. Dankie alle betrokkenes

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.