Fees van kuns in virtuele galerye

Die KKNK se tweede Absa Virtuele Kunsgalery is onlangs geopen. (Foto: KKNK)

Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) bied vanjaar vir die tweede jaar agtereenvolgend die visuele kunste-afdeling van die fees as die Absa Virtuele Galerye aan. Dié uitstallings kan tans aanlyn besigtig word by www.kknk.co.za.

“Dit is vir ons ’n ongelooflike voorreg om vir die tweede keer ’n fantastiese aanbod visuele kunswerke aan kunsliefhebbers in die gemak van hul eie huis te kan bied,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK. “Dineke van der Walt is vir die tweede jaar die kurator van dié galery, waarvoor sy verlede jaar met ’n Fiësta-toekenning bekroon is. Dis ’n besonderse reeks van ses uitstallings met altesaam 260 werke deur 83 kunstenaars.”

Volgens Theart is kunstenaars van heinde en verre, regoor Suid-Afrika, asook van Zimbabwe, Taiwan, die VSA, Ghana, Mauritius, Kenia, Iran en Namibië betrokke, met vele kunstenaars uit die Klein Karoo- en Tuinroete-streek.

“Dié versameling uitstallings bied ’n wonderlike geleentheid vir ons om meer te sien, te voel en te verstaan oor die manier waarop ons gevoelens en emosies ervaar en verwerk,” sê Van der Walt. “Ek hoop dat alle kykers hierdie aanbod verrykend en opwindend vind.”

Die ses uitstallings in vanjaar se galery is Emotion (Emosie), saamgestel deur Absa met dr. Paul Bayliss as kurator, Feeling Things, saamgestel deur Donavan Mynhardt, Paint. Verf., saamgestel deur Johan Myburg, If you think about it, just midding in the meantine (or) progression, saamgestel deur Fadzai Muchemwa, Something Pauses, saamgestel deur Christa Swart en Amplifica: A Medley of Moods in Miniature, saamgestel deur Van der Walt.

Theart sê almal sal ʼn werk in hul smaak kan vind in die uitstallings met fantastiese kunswerke te koop vanaf slegs R500. “Alle Absa-kliënte ontvang boonop 10% afslag op hulle aankope,” sê hy.

In ʼn onderhoud met Maroela Media het Bayliss gesê Absa bly betrokke by die KKNK en spesifiek die visuele kunste omdat die bank as ʼn trotse Afrika-bank ʼn gevestigde en langtermyn-belang het om ons vasteland se kunstenaars, wat die wêreld se verbeelding bly gaande maak met hul uiteenlopende stylvorme, te ondersteun.

“Een van die maniere waarop ons die ontwikkeling van Afrika-kunstenaars bevorder is deur samewerkende vennootskappe soos die KKNK en Absa L’Atelier,” het Bayliss gesê, en uitgewys dat Absa al 16 jaar lank ʼn vennoot van die KKNK is.

Volgens Bayliss het die Covid-19-pandemie ʼn uiters negatiewe impak op die kreatiewe bedryf en die kunsbedryf, veral met soveel galerye wat moes sluit weens inperkingsmaatreëls. Die gevolg is dat kunstenaars minder plek het om by uit te stal.

“Gelukkig is die visuele kunste ʼn medium wat nie aan ʼn spesifieke plek of tyd gebonde is nie. Wêreldwyd het inperkingsmaatreëls merkwaardige vooruitgang in tegnologie in die hand gewerk. Vooruitgang in digitale tegnologie het die visuele kunste veel meer toeganklik gemaak. Al wat jy nodig het, is toegang tot die internet,” aldus Bayliss.

Baie instellings wêreldwyd het hul kunswerke met hoëresolusie-kameras op beeld vasgevang en dit so veel toegankliker vir die publiek gemaak. Absa is volgens Bayliss deel van hierdie neiging.

Bayliss het die publiek gevra om die kunstenaars wat in die Absa KKNK Virtuele Galerye uitstal te ondersteun en hul kunswerke aan te koop.

Hy sê wat hy persoonlik verfrissend gevind het van vanjaar se uitstallings was die uiteenlopende benaderings van die onderskeie kurators, met hoofkurator Dineke van der Walt wat elkeen met die oorkoepelende tema, “Emosie”, uitgedaag het.

“Myburg se versameling plaas die klem veral op werke waarin verf gebruik word, terwyl Muchemwa die fokus plaas op kunswerke op papier,” sê hy. Die hoëprofiel beeldvorming van Myburg se uitstalling gee die kyker die geleentheid om die kwashale en die opeenstalingstegniek van die kunstenaar te sien en werklik na waarde te skat – wat nie sommer maklik in ʼn fisieke galery sou kon gebeur nie. Dieselfde geld die miniatuurwerke waarvan Van der Walt die kurator is.”

Oor die deel van die uitstalling waarvan hyself die kurator was, sê Bayliss dit sluit kunswerke van die honderd topinskrywings vir die L’Atelier-kompetisie in.

“Die platform wat gebruik word om die kunswerk te beskou sal ʼn groot impak op die persepsie daarvan hê, veral byvoorbeeld op ʼn slimfoon teenoor ʼn grootskerm-televisie,” sê hy.

Bayliss meen die onderwerp maak die uitstalling vir almal toeganklik. “Emosie is ʼn universele taal waarin almal met mekaar kan kommunikeer. Elkeen van ons, in ons unieke omstandighede, vorige ervarings, hoe ons grootgemaak is, kulturele agtergrond ensovoort, sal uniek op elke kunswerk reageer. Selfs wanneer ons nie die kunswerk snap nie, kan ons emosies daarop reageer,” sê hy.

“Boonop gee hierdie kunstenaars met hul talent ons rede om die lewe te vier te midde van hierdie pandemie – en dit is die beste rede om die Absa KKNK Virtuele Galerye sommer nou te besoek.”

 (Foto: KKNK)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.