Fietsry-uitdaging wil skole se beheerliggaamposte red

‘n Skermgreep uit Laerskool Bloemfontein en die Willem Postma Primêre Skool se video vir virtuele #TrapSaam-projek, wat op 21 Augustus gaan plaasvind.

Solidariteit se beroepsgilde vir beheerliggaamonderwysers nooi skole uit om in Augustus saam aan ʼn nasionale #TrapSaam-inisiatief op sosiale media deel te neem.

Volgens Hugo Vermeulen, hoof van dié beroepsgilde, het die Covid-19-pandemie skole finansieel swaar getref en talle onderwysers se poste is nou op die spel.

“Soveel as 54% van alle personeel verbonde aan skole in Suid-Afrika word nie deur die departement van onderwys aangestel nie.

“Met ouers wat self finansiële uitdagings ervaar, en selfs afleggings in die gesig staar, is daar telkens net minder mense wat skoolgelde kan betaal,” sê Vermeulen.

Hy sê skole se klasgelde en geldinsamelingsprojekte onderhou landswyd tans sowat 120 000 poste, wat onderwysers, onderwysassistente, administrateurs, finansiële beamptes, sportafrigters en terapeute asook bykomende skoonmakers insluit.

Sommige van hierdie mense ontvang reeds net sowat 50% tot 70% van hulle aanvanklike salarisse.

Vermeulen sê die beroepsgilde wil nou skole en gemeenskappe uitdaag om hierdie poste te red.

“Sowat 30 onderwysers van die Laerskool Bloemfontein en die Willem Postma Primêre Skool gaan op 21 Augustus aan ʼn virtuele fietstrap van 1 100 km van Bloemfontein tot in die Kaap deelneem. Die deelnemers ry op statiese fietse en die somtotaal van die afstand wat elkeen trap gaan die volle afstand tussen die stede dek.

“Ek was so beïndruk met dié blink plan dat ek dadelik na die twee Vrystaatse skole uitgereik het en met hul goedkeuring is dit nou ʼn nasionale projek,” sê hy.

Wat hierdie projek vir Vermeulen veral besonders maak, is dat dit twee buurskole is wat saamgespan het om hul beheerliggaamposte te beskerm.

“Ons Afrikaanse skole doen maar gewoonlik elkeen ons eie ding en beskou ons buurskole as direkte kompetisie van mekaar. Hierdie krisis het ons nou gedwing om saam te werk om gehalte onderwys te beskerm.”

Vermeulen sê hy wil alle organisasies, maatskappye, skole en gemeenskappe uitdaag om mekaar in die #TrapSaam-inisiatief te ondersteun. Volgens hom is daar ook geen rede waarom die projek nie na ʼn hele gemeenskap uitgebrei kan word nie.

“As skole nie die regte trapfietse het vir die dag nie, kan hulle die private gimnasium-eienaars op die dorp vra om hulle fietse te leen. ʼn Deel van die skool se winste kan dan aan die gimnasium oorbetaal word, en só word hierdie ʼn hele gemeenskapsprojek waar almal mekaar ondersteun.”

Hoe kan jy deelneem?

Solidariteit daag almal uit om op Vrydag 21 Augustus aan ʼn nasionale fietstrapdag deel te neem en op die wyse donasies vir jou gemeenskap se skole in te samel.

Skole kan ʼn e-pos aan [email protected] stuur om hul skool te registreer vir die #TrapSaam-webblad. Die gemeenskap sal hier die skool kan kies wat hulle wil ondersteun, en hulle bankbesonderhede vir donasies kan vind.

Om bewusmaking vir jou skool se #TrapSaam-projek te skep, het die beroepsgilde ʼn kort video nodig van personeellede, ouers of selfs leerders wat die #TrapSaamDans doen. Stuur jou skool se video na 076 477 5954 met jou skool se naam en logo en dit sal saam met jou skool se donasieskakel gedeel word.

Onthou om op 12 Augustus vir ʼn regstreekse geleentheid op Solidariteit se Facebook in te skakel wat die #TrapSaam-inisiatief bekendstel.

“Ons hoop om duisende lede van die publiek deur hierdie inisiatief te mobiliseer om skole te ondersteun. Die toekoms van ons kinders is vir ons belangrik, en juis daarom moet daar genoeg onderwysers wees om hulle te kan leer.

“Kom ons red skole se beheerliggaamposte.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.