Fietsryers reis kilometers vir gestremde vriend se droom

’n Motorongeluk het Deon Bezuidenhout van Harrismith 30 jaar gelede gestremd gelaat. Foto: Verskaf.

Dit is baie mense se droom om nog eendag die jaarlikse Kaapstad-fietstoer, voorheen bekend as die Argus, te ry en voltooi.

Maar vir Deon Bezuidenhout (54) van Harrismith het dit geblyk dat dié droom al dertig jaar gelede van hom af weggeruk sou word. Die stuurstang van sy motor het in ’n ongeluk gebreek, vasgesteek in die pad en sy nek gebreek. Dit het hom gestremd gelaat.

Te danke aan ’n groep vriende sal Deon se droom egter vanjaar bewaarheid word, wanneer hy op 8 Maart vanjaar in ’n sleepwaentjie die Kaapstad-fietstoer voltooi.

“Dit is lekker om deel te neem aan hierdie projek, want die hele gemeenskap van Harrismith is agter ons,” vertel Johnny Eyberg.

Die groep heet Kind Kilometres en poog om vanjaar die sowat 1 800 km van Harrismith in die Vrystaat tot in Kaapstad in die Wes-Kaap af te lê om bewusmaking te kweek oor mense met gestremdhede en geld in te samel.

“Toe ons uit Harrismith wegtrek, het Deon die grootste glimlag op sy gesig gehad. Wanneer dinge moeilik raak, dink ek net aan hom en die voorreg wat ons het om te kan fietsry om sy droom te bewaarheid,” sê Johnny, wat Kind Kilometres gestig het.

Deon sal in dié waentjie saam met die ander fietsryers die Kaapstad-fietstoer voltooi. Foto: Verskaf.

Deon en sy ma, Babs (78), woon steeds in Harrismith en hy versorg haar self. Met die fondse wat ingesamel word, sal Kind Kilometres vir Deon ’n broodnodige elektroniese rolstoel teen R107 540 aanskaf. Die geld wat daarna oorbly, sal gebruik word om gewone rolstoele teen R25 000 per rolstoel aan behoeftige gestremde mense in die Oos-Vrystaat te skenk.

Behalwe vir die donasies wat hulle insamel, nooi Johnny en sy span fietsryers ook mense uit om sommer vir ’n wyle saam te ry op hul reis.

“Daar is ’n gesegde wat lui: ‘Die doel van die lewe is om jou geskenk te vind, maar die betekenis van die lewe is om daardie geskenk weg te gee.’ Dit is hoekom ek hierdie projek begin het,” verduidelik Johnny.

Vir hom is dit ook ongelooflik hoe die mense in voertuie wat hulle op die pad verbysteek, vir hulle waai of die toeter druk.

“Ons kry ook altyd oproepe, stemboodskappe en SMS’e van mense wat vra of hulle kan help,” voeg Johnny by.

“Ek was daar toe Johnny vir Deon die eerste keer die waentjie gewys het en dit is een van die oomblikke wat ek nooit sal vergeet nie,” vertel Jaco Kotze ná die lang rit vanuit Bloemfontein na Vanderkloof in die Noord-Kaap. Hy sal ook tydens die Kaapstad-fietstoer help om dié waentjie (met Deon) te trek. Wanneer die reis moeilik raak, is dit God wat vir Jaco die krag en motivering gee om aan te hou trap.

“Dit is ’n bietjie van jou tyd wat jy prysgee om iets vir iemand anders te beteken. Hopelik kan ons ’n bietjie hoop in iemand se lewe bring,” vertel Johnny.

Vir enige inligting of om self vir ’n wyle by die fietsryers aan te sluit, kan Verna-Mey Eyberg (083 309 9708) of Johnny Eyberg (083 271 1054) gebel word.

Kyk hier na ‘n video van die ryers wat fietstrap vir ‘n goeie doel:

30km before Bloemfontein.

Posted by Kind Kilometres on Saturday, February 22, 2020

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SomeOne ·

wat ‘n pragtige gebaar om deon te help
ek kry ‘n knop in my keel vir die hulp wat deon van sy vriende kry, vasbyt vriende, kennisse en familie, ek weet dat God julle bystaan

Agter die skerms..... ·

Amen Amen Amen. Dis nou ‘n trane pik oomblik. Dankie ons grote Jesus. Dankie dat U dit vir Deon moontlik gemaak het wonderlike mense soos Johnny en die res.

Amatambo ·

Ten spyte van hoe ver ons eens mooi land reeds op die afdraendepad is, is dit bemoedigend om te lees/hoor/sien hoe ons mense mekaar nog bystaan en ondersteun. Sterkte, almal wat aan hierdie toer deelneem!!! EnMaroela, hou ons asseblief op hoogte??? Dankie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.