Fietsryers wil 1 000 km aflê vir spesiale doel

Twaalf fietsryers hervat Maandag hul beplande tiendag-fietstoer vanaf Port Elizabeth na Kaapstad. (Foto: ANA)

Twaalf fietsryers hervat Maandag hul beplande tiendag-fietstoer vanaf Port Elizabeth na Kaapstad. (Foto: ANA)

Twaalf fietsryers hervat Maandag hul beplande tiendag-fietstoer vanaf Port Elizabeth na Kaapstad nadat hulle Sondag in De Rust aangekom het op die vierde dag van dié toer ten bate van kinders met gesplete verhemeltes.

Die sogenaamde Miles for Smiles-rit, ten bate van die Operation Smile-organisasie, het verlede Donderdag in Port Elizabeth begin. Die fietsryers wil R140 000 insamel om die lewe van kinders met gesigdefekte te verander.

Die fietsryers sal Maandag 65 km aflê tot op Calitzdorp en Dinsdag nog 115 km tot by Ronnie’s Shop naby Barrydale. Daarna sal hulle tot op Robertson ry, waarna Paarl op dié roete volg met die uiteindelike eindbestemming Kaapstad, waar hulle op die tiende en laaste dag van die toer aan die Cape Town Cycle Tour, wat 109 km beslaan, sal deelneem.

Kinders met gesplete verhemeltes en ander gesigdefekte sukkel met voeding, spraak, gehoor en asemhaling. In sommige gemeenskappe word dié kinders verwerp en verstoot en in baie gevalle kan die ouers nie die chirurgie wat hulle sal help om ʼn normale, produktiewe lewe te lei, bekostig nie.

Twee van die fietsryers wat deel is van die tiendag-fietstoer vanaf Port Elizabeth na Kaapstad. (Foto: ANA)

Twee van die fietsryers wat deel is van die tiendag-fietstoer vanaf Port Elizabeth na Kaapstad. (Foto: ANA)

Shannon Smit, nasionale handelsmerkambassadeur vir Operation Smile, het gesê dié organisasie beoog om ongeveer 20 kinders deur die Miles for Smiles-rit te help. “Verlede jaar het ons daarin geslaag om sowat R100 000 in te samel. Elke rekonstruktiewe prosedure kos sowat R5 600.”

Die geld wat ingesamel word, is aan plaaslike projekte in Suid-Afrika, maar ook aan Ghana en Mosambiek, toegewys.

“Operation Smile is een van die grootste mediese maatskappye wat werk om ʼn globale teikenmark te bereik om gesigdefekte te herstel. Ons mikpunt is om nie net genoegsame geld in te samel nie, maar ook bewustheid te skep,” het Smit bygevoeg.

Volgens Barry Woods, een van die fietsryers wat deelneem aan die Miles for Smiles-toer, het hy besluit om deel te wees van dié projek nadat sy dogter drie jaar gelede in ʼn motorongeluk betrokke was.

Twaalf fietsryers hervat Maandag hul beplande tiendag-fietstoer vanaf Port Elizabeth na Kaapstad. (Foto: ANA)

Twaalf fietsryers hervat Maandag hul beplande tiendag-fietstoer vanaf Port Elizabeth na Kaapstad. (Foto: ANA)

“Ek het al voorheen van Port Elizabeth na Kaapstad gery om geld vir my dogter in te samel. Sedertdien het ek ʼn rugoperasie ondergaan en altyd gesê dat ek graag weer so ʼn rit sou wou onderneem, so ek is verheug om weer deel te wees. God is goed. Hy het my die kans gegee om weer te ry. Ons het wel uitdagings langs die pad, maar ons sal geseënd wees, want ons doen dit vir ʼn goeie doel.”

Wouter Roux, nog ʼn fietsryer, het gesê hy het besluit om betrokke te raak nadat hy ʼn ouer persoon ontmoet het wat nog nooit rekonstruktiewe chirurgie ondergaan het nie.

“Nadat ek gesien het hoe die persoon se lewe verander toe sy gesig verander is, het dit ʼn groot passie vir my geraak. Ons is so bevoorreg om deel te wees van liefdadigheidswerk om geld in te samel vir mense wat dit nie kan bekostig nie. Ons doen dit nét vir die glimlagte,” het Roux gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.