Fietsryheld se nalatenskap leef voort

Paul Els. (Foto: Verskaf)

Paul Els, wat in Mei vanjaar gesterf het ná ʼn tragiese fietsry-ongeluk, se nalatenskap van welwillendheid leef voort danksy sy gesin. Cheryll Els, sy vrou, en haar seun Wim Hollander het vandeesweek Els se Giant Contend-pad-en-bergfiets, ter waarde van R12 000, aan Mbongeni Ngcobo, ʼn belowende jong fietsryer van die Vallei van ʼn Duisend Heuwels in KwaZulu-Natal en lid van die Westville-fietsryklub, geskenk.

Die oorhandiging is tydens die tiende Ride for MRP-stigting, wat in Desember afgelê is, se prysuitdeling gedoen.

Cheryll vertel aan Maroela Media dat haar man ʼn wonderlike mens was, wat soveel aan welsynsorganisasies geskenk het. “Ons was nie eens bewus van al die skenkings wat hy gemaak het nie,” sê sy.

Erika Hollander, ʼn familielid van Cheryll Els, sê Paul was ʼn onbaatsugtige mens en het daarvoor gelewe om mense te help wat deur die lewe ʼn taai klap gekry het. “Baie van sy weldade het eers ná sy dood uitgekom. Sy leuse was: ‘Wanneer jy iemand help, mag jy dit nie hardop sê nie, want dan tel dit nie.’”

Paul, wat ʼn winkelontwikkelingsdirekteur by die MRP-groep in Durban was, en ook ʼn lid van die Westville-fietsryklub, het dié fiets gewen nadat hy die naasmeeste skenkings, R118 000, ingesamel het vir die MRP-stigting se jaarlikse geldinsameling.

Dié tog, wat van Secunda na Durban afgelê is, is in Desember verlede jaar deur 72 ryers aangepak. Die 606 km-reis het R1,96 miljoen vir die stigting se opvoedings- en vaardigheidsontwikkelingsprogramme opgelewer.

Mbongeni Ncgobo ontvang die Giant Contend fiets. Saam hom is Wim Hollander. (Foto: MRP Stigting)

Ngcobo, wat vir die Martin Dryer Akademie professioneel fietsry, het die fiets Saterdag ontvang om sy loopbaan verder te bevorder. Voorheen het hy op ʼn tweedehandse bergfiets gery, wat nie vir die toestande van mededingende fietsry op ʼn pad geskik is nie.

Ngcobo ry ook vir die FNB Change a Life-veldtog en hoop om jong mense hierdeur te raak. “Ek was nie bewus daarvan dat fietsry ʼn loopbaan kan wees nie. Dit het my van ʼn zero tot ʼn hero gevat en my die geleentheid gebied om Suid-Afrika te sien en ʼn verskil te maak.”

Ngcobo sê hy rig juis tans twee jong mense in KwaZulu-Natal deur die Change a Life-inisiatief af, maar wil graag baie meer jong mense bereik. “Ek glo om vir kinders fietse te gee en hulle sportief te hou, dra jy by tot ʼn verbeterde samelewing. Die kinders gaan uit die kwaad gehou word en so sal daar dalk minder ongewenste swangerskappe, minder misdaad, en so meer wees.”

Hy het homself leer fietsry, sê hy, en sal graag nou met sy nuwe fiets die provinsiale padresieskampioenskap op 26 Januarie wil aanpak. “Ek sal baie graag wil wen sodat ek nog meer jong mense kan inspireer. Ek is baie opgewonde en kan nie wag om hierdie pragtige fiets te ry nie.

“Ek wil graag baie dankie aan die Els-gesin sê. Ek het baie meegevoel met die familie en die groot verlies wat hulle gely het,” sê hy.

Cheryll Els ontvang haar man se fietsrytrui. (Foto: MRP Stigting)

By dieselfde geleentheid waar Ngcobo sy fiets ontvang het, het Paul se medefietsryers hul eer aan hom betoon deur ʼn geraamde hemp en foto’s van Paul aan Cheryll en Wim te oorhandig. “Paul en Wim was onafskeidbaar. Hulle het altyd saam gaan fietsry en was mekaar se grootste ondersteuners. Ons gaan die goeie dade van Paul voortsit en elke jaar ʼn soortgelyke fiets skenk vir die MRP-stigting,” sê Cheryll.

Wim het die tiende Ride for MRP-stigting se uittog voltooi om sy stiefpa te eer.

Paul het sy vrou, seun, stiefdogter, stiefseun en ouers agtergelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.