Finaliste vir hoërskooldramafees bekend

Lede van die Hoërskool Jan van Riebeeck se tienertoneelgroep stel hulle talent ten toon in ‘Om teen treine te skree’. (Foto: Verskaf)

Die ses hoërskool-dramagroepe wat dit in die finale ronde van Kunstekaap en die Suidoosterfees se Hoërskole-dramafees (HSDF) gaan uitspook, is pas aangekondig. Dié dramafees word op 15 en 16 Oktober in Kunstekaap se Arena aangebied.

Skoledramagroepe van oor die hele Suid-Afrika sal met die volgende produksies in dié gesogte jaarlikse kompetisie meeding: Worcester se De la Bat-skool vir Dowes met ʼn verwerking van Antony & Cleopatra; Houtbaai Internasionale Skool voer Terminal Act op; Hoërskool Martin Oosthuizen van Kakamas met Neer daal die reën; Khayelitsha se Inkwezi Theatre Company, met leerders van verskeie hoërskole, sal Ivili (Die wiel) opvoer; Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad met Om teen treine te skree en die Pionierskool vir Gesiggestremdes in Worcester met Detensie.

Maroela Media het vroeër berig dat skole genooi is om vir die dramafees in te skryf met stukke wat die sosiale uitdagings wat tieners deesdae in die gesig staar, aanpak.

Die beoordelaars moes behoorlik kopkrap om die ses beste kandidate uit sowat 26 inskrywings aan te wys.

“Al die skole het uit hul pad gegaan om ons te beïndruk, en dit was ʼn uitdaging om net ses produksies te moet kies. Buiten die gehalte van die inskrywings, het ons ook gekyk na die verskeidenheid van temas wat in die stukke ontgin word,” verduidelik Rafiek Mammon, een van die beoordelaars.

Temas soos die invloed van sosiale media op tieners se lewe, die belangrikheid van loopbaankeuses, hoe om versoekings te weerstaan, en die gevolge van magsmisbruik is deur leerders verken.

“Dit is bemoedigend om te sien watter temas ons jongmense interesseer,” sê Jana Hattingh, die Suidoosterfees se uitvoerende hoof. “Ons is beïndruk met die volwassenheid waarmee daar met ʼn verskeidenheid temas omgegaan word, en uit die groot aantal inskrywings en die hoë gehalte daarvan is dit duidelik dat drama-aktiwiteite in skole met ywer voortgaan, ondanks Covid-19-inperkings en grendeltydperke.”

Op 15 en 16 Oktober sal finaliste meeding om toekennings vir toneelspel, produksies en tekste, en natuurlik ook vir die beste aanbieding. Die algehele wenners sal genooi word vir ʼn speelvak vir hul produksie tydens die Suidoosterfees wat vroeg in 2022 plaasvind.

Marlene le Roux, uitvoerende hoof van Kunstekaap, meen dat vanjaar se finaliste nie meer uiteenlopend in hul samestelling kon wees nie.

“Ek is opgewonde en kan nie wag om die finale aanbiedings op die verhoog te sien nie. Die HSDF lewer ʼn waardevolle bydrae om hierdie tieners te help ontwikkel en om hul selfvertroue as jong volwassenes ʼn hupstoot te gee.”

Kaartjies vir die HSDF kos R30 en kan by Computicket bespreek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.