Fliekdag gehou om magies by kinderhuis te vul

(Argieffoto: Pixabay.com)

Winter is die tyd vir kaggels, komberse en warm sop, maar vir baie mense is dit ʼn tyd van kommer oor waar hul volgende maaltyd vandaan sal kom.

Daarom het die personeel van Life Med-ambulansdienste besluit om dié Jeugdag hul tyd op te offer om die Jakaranda Kinderhuis in Pretoria te help om in hul kosbehoeftes vir die winter te voorsien.

Renata Erasmus, bemarkingsbestuurder van Life Med-ambulansdienste, sê in ʼn verklaring die maatskappy het besluit om Maandag op Jeugdag ʼn fliekdag-geldinsameling te hou om die kinderhuis finansieel en met kos te ondersteun.

“Jakaranda Kinderhuis, voorheen bekend as die Abraham Kriel Kinderhuis Pretoria, bied sedert 1987 ʼn veilige, versorgende omgewing aan 200 kinders van drie tot 18 jaar oud. Dit is ʼn geregistreerde niewinsgewende organisasie wat 24 uur per dag 365 dae per jaar na hierdie kinders omsien,” sê Erasmus.

“Ons kan ʼn verskil maak deur bewustheid oor hierdie organisasies te verhoog, wat ʼn groot rol speel in die ondersteuning aan organisasies soos die Jakaranda Kinderhuis. Hierdie dag is vir ons baie belangrik en ons moedig die publiek aan om saam met ons betrokke te raak en die geldinsameling te ondersteun.”

Die fliekdag sal 17 Junie om 10:30 by die Capitol Cinema by Tshwane Mall plaasvind waar die nuwe Aladdin-rolprent vertoon sal word. Kaartjies kos R100 en kan op die dag by die teater gekoop word. Toegang sluit springmielies, koeldrank en ʼn kolwyntjie in.

Fliekgangers word ook aangemoedig om niebederfbare kos saam te bring wat aan die kinderhuis geskenk sal word. “Ons wil graag al 150 sitplekke vol maak om soveel moontlik geld en kos in te samel,” sê Karin Berriman, bemarker van Jakaranda Kinderhuis.

“Ons is oorweldig deur die ondersteuning wat ons reeds ontvang en is ongelooflik dankbaar. Hou asseblief aan om ʼn verskil in ons kinders se lewe te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.