Flip Buys deur GHA vereer

André Alkema (regs) oorhandig die Akroniem Afrikaans-toekenning aan Flip Buys (links). (Foto: Verskaf)

Die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA) het vanjaar op Afrikaanse Taaldag erkenning aan Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, gegee vir sy bydrae tot Afrikaans.

Die Akroniem Afrikaans-toekenning is op 14 Augustus tydens ʼn intieme geleentheid aan Buys oorhandig.

Volgens André Alkema, voorsitter van die GHA, word Buys in besonder vereer vir sy dinamiese leierskap, visie en insig, strydvaardigheid en offervaardigheid, asook vir sy bydrae tot die uitbou en handhawing van Afrikaans en die bevordering van Afrikanerbelange.

Buys het in sy toespraak op die handhawing en bevordering van Afrikaans gefokus.

“Die taak van ons generasie wat Afrikaans betref word saamgevat in die woorde van NP van Wyk Louw wanneer hy sê dat ons die skat van Afrikaans deur die skare moet dra.”

Buys het verder verwys na Jean Laponce, ʼn Kanadese sosioloog, se vereistes vir ʼn taal om te oorleef: ʼn bepaalde grondgebied en instellings wat die taal beskerm.

Die tenoor Coert Grobbelaar en sy ensemble tydens die GHA se Taaldagvieringe. (Foto: Verskaf)

“Die belangrikste instellings is skole wat ʼn taal moet oordra na die volgende generasie. As iemand jou skole wil wegvat, dan is dit nie omdat hulle dit verengels nie. Hulle wil jou bestaan as kultuurgemeenskap beëindig, omdat die bestaan van instellings wat jou kultuur oordra na die volgende generasie noodsaaklik is vir die voortbestaan van ʼn taal.”

Nagenoeg 60 mense het die GHA se Taaldag-viering in die kapel by die Voortrekkermonument bygewoon. Die tenoor Coert Grobbelaar en sy ensemble, Martin Jansen, Willie Jooste en Rudolf Geldenhuis, het die gehoor vermaak met ʼn gewyde program wat uit sang en poësie saamgestel is.

Neem deel aan GHA-digkompetisie

Aspirant- en ervare digters kan nou aan die GHA se jaarlikse digkompetisie deelneem.

Die digkompetisie, waarvan dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, die beskermheer is, word al die afgelope 18 jaar aangebied.

Vanjaar kan digters gedigte in 13 verskillende afdelings inskryf. Gedigte met die volgende temas sal oorweeg word:

  • skool, onderwys, opvoeding
  • plaaslewe
  • Jan van Riebeeck
  • geestelik
  • liefde
  • natuur
  • mymeringe
  • terapeuties, “ek sal weer opstaan”
  • “verset teen onreg!”
  • algemeen
  • geld en rykdom
  • taal, kultuur en geskiedenis
  • ode aan ʼn digter, skrywer of geliefde

Die algehele wenner ontvang prysgeld van R3 000, die naaswenner ontvang R2 000 en daar is 11 afdelingpryse van R1 000 elk.

Skakel 081 250 5060 of stuur ʼn e-pos na [email protected] om in te skryf. Inskrywings vir die kompetisie sluit op 31 Augustus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

En waar is Afrikaans se bepaalde grondgebied?

Groen Ghoen ·

Baie geluk aan Flip Buys en almal by Afriforum! Gideon en nog 300 was genoeg om die stryd te wen. Onthou dit. Blote getalle is nie altyd ‘n oormag nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.