Flukse plattelanders ruk dorp reg

Vrywilligers wil gras plant en klippe pak by die ingang van die dorp. (Foto: verskaf)

Op 26 Maart vanjaar gaan daar behoorlik deur Ventersdorpers geswoeg en gesweet word om die dorp weer skoon te kry met ʼn klein gemeenskapsprojek wat intussen in ʼn reuseprojek ontaard het.

Dié projek het sy oorsprong in die dorp se plaaslike Herotel-kantoor gehad, sê Jovette Jansen van Rensburg, werknemer van Herotel en trotse inwoner van Ventersdorp wat met die projek vorendag gekom het.

“Die verkoopsafdeling van Herotel, Ventersdorp, probeer elke jaar ’n gemeenskapsprojek aanpak. Die pandemie het ons egter verlede jaar in ons spore gestuit.

“Ons wil graag ’n verskil op ons dorp maak. Die aanvanklike idee was om net een area aan te pak, maar toe ons sakeondernemings en plaaslike inwoners begin betrek, het die projek net groter geword.”

Die flukse span vrywilligers het aanvanklik net drie lede gehad: Jansen van Rensburg, Aneske Fourie en Suzanne Bruwer. Daar is egter nou sowat 80 pare hande wat die projek saam wil aanpak.

“Ons wil graag ’n kultuur van trots onder ons jongmense en inwoners kweek om in ’n skoner dorp te lewe.”

Jansen van Rensburg is opgewonde oor die positiewe terugvoer wat die projek tot dusver gekry het.

“Die munisipaliteit is baie positief daaroor. Hulle het nie noodwendig die toerusting om die taak aan te pak nie en hulle is dankbaar vir die hulp. Plaaslike sakeondernemings en boere is ook gretig om hand by te sit.”

Die idee het dalk klein begin, maar dit het ’n enorme impak op die gemeenskap, voeg Jansen van Rensburg by.

“Ons het ’n komitee geskep wat sal dien as die kanaal tussen die inwoners en die munisipaliteit. Ons wil werklik ons dorp weer mooi en skoon hê.”

Jansen van Rensburg beplan om van krag tot krag met die projek te gaan en nooi die dorpsmense sowel as mense in omliggende dele om aan die projek deel te neem. “Ons sal enige hulp waardeer, of dit nou vrywillige hande of skenkings is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Chantel ·

Welgedaan, so maak ons inwonders die kleiner dorpies weer mooi. Ons in Kroonstad doen dit al 3 jaar lank. Lyk my ons steek almal aan.

VaalDonkie ·

Ek was in die 90’s laas in Kroonstad maar ek onthou dit was amper so netjies soos Hennenman waar ek gebly het :)

Harley Davidson ·

Baie goeie gebaar ek hoop net julle weerhou belasting geld om die projek te finansier alternatief gaan dit die norm word van betaal belasting, owerhede vermors dit maar geen probleem want die inwoners sorg vir instandhouding.

Kensy ·

Uitstekende inisiatief! Wel gedaan. Daar moet ook gepoog word om die publiek te leer om nie rommel te strooi nie…. Zibbie kan dalk weer uit die stof opstaan en by skole omgaan om bewusmaking onder die skoolgaande kinders te doen.

Louis ·

Munisipaliteit het nie die toerusting nie, want hulle het net 1 uitgawe op die boeke en dis Salarisse.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.