Ford se blink plan om plastiek te herwin

Deur Megan Gittins

Foto: Verskaf

Motors is tradisioneel nie juis sinoniem met omgewingsbewaring nie, maar Ford het ʼn slim manier gekry om plastiekherwinning te gebruik om sy deel vir die omgewing te doen – deur plastiekbottels in voertuigmatte te omskep.

Ford Suid-Afrika sê in ʼn verklaring elkeen van sy EcoSport‑sportnutsvoertuie wat vervaardig word, word toegerus met matte wat uit 470 herwinde plastiekbottels bestaan.

Sedert die bekendstelling van Ford se EcoSport-sportnutsvoertuig in 2012 het die voertuigvervaardiger deur sy herwinningsinisiatief reeds 650 miljoen 500 ml-plastiekbottels herwin. Dit is genoeg om twee keer om die aardbol te strek indien dit uitgelê word.

Tony Weatherhead, materiaalingenieur by Ford, verduidelik dat die plastiek wat gebruik word om die EcoSport-voertuie se matte te maak, eers versnipper word sodat die vesels dieselfde dikte as ʼn menslike haar is. Vandaar af word dit in ʼn garing getol wat in matte geweef word.

Die EcoSport SUV is egter nie Ford se eerste herwinningspoging nie. Ford maak sedert die ontstaan van die Mondeo meer as 20 jaar gelede gebruik van herwinde plastiek in hulle motors. Die gevolg hiervan is dat Ford op ʼn jaarlikse basis verhoed dat 1,2 miljard bottels wêreldwyd op ashope beland.

Navorsing wat deur World Wildlife Fund gedoen is, toon dat slegs 16% van alle plastiek in Suid-Afrika herwin word. Ford het in 2014 die Ford Wildlife Foundation gestig wat omgewingsopvoeding, navorsing- en bewaringsprojekte in Afrika suid van die Sahara ondersteun. In samewerking met dr. Simon Elwen, stigter en hoofwetenskaplike by Sea Search in Kaapstad, is die toestand van Suid-Afrika se seelewe, as gevolg van plastiek, duidelik gemaak.

“In die navorsing wat ons gedoen het – in die walvisgetalle en die verstrikkings waarin robbe vasgevang is wat ons gesien het – is dit duidelik dat daar net te veel plastiek in die omgewing is. Ons het dolfyne gehad met plastiekbottels in hulle kele, en talle robbe en dolfyne wat in vislyn toegedraai is,” sê Elwen.

“[Nietemin] is verbruikers meer bewus as ooit van die skade wat plastiek kan berokken,” sê Weatherhead. “[Ford] is lank al op ʼn missie om die hoeveelheid herwinde en hernubare materiale wat in elke nuwe motor gebruik word, te vermeerder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

2 Kommentare

Annamarie Olivier ·

Mooi so Ford ek hoop dit steek aan by die ander groot handelaars.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.