Formidabele hoogtes vir die Jonker-sweefbroers

Van links: Uys Jonker, Dr Johan Bosman, en prof. Attie Jonker (Foto: Verskaf)

Van links: Uys Jonker, Dr Johan Bosman, en prof. Attie Jonker (Foto: Verskaf)

deur Johan van Zyl  (Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus)

In die geskiedenis van lugvaart het verskeie broers oor die jare heen groot hoogtes bereik. Dink maar aan die Wright-broers, die Bell-broers en die Taylor-broers. Die Jonker-broers van Potchefstroom staan egter nie terug nie en het die afgelope tien jaar met hul onderneming, Jonker Sailplanes, groot opslae in die wêreldmark van sweeftuie gemaak.

Hul revolusionêre JS1-model het oor die afgelope dekade verskeie internasionale toekennings verwerf vanweë dié sweeftuig se tegnologie en doeltreffendheid. Jonker Sailplanes het pas weer ʼn gewigtige aankondiging gemaak. Die JS1 se kleinboetie, die JS3, is pas “gebore” en bekendgestel. Dit beskik oor nóg beter tegnologie soos aërodinamika, beheerstelsels, instrumentepaneel en ʼn nuwe stel vlerke wat ses meter korter as sy ouboet s’n is.

Onder wêreldwye sweeftuiggeesdriftiges is Jonker Sailplanes geen onbekende naam nie. Hulle het die afgelope paar jaar die mededingende mark op sy kop gedraai nadat die JS1 keer op keer met internasionale toekennings weggestap het. Met meer as 100 JS1’s reeds wêreldwyd verkoop, word prof. Attie Jonker, sy broer Uys en hul span as wêreldleiers in dié bedryf bestempel.

Prof. Attie, wat ook ʼn senior dosent aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus is, het pas die eerste toetsvlug in die JS3 onderneem. “Dit was ʼn ongelooflike ervaring. Dié nuwe sweeftuig het ons stoutste verwagtinge oortref. Die hantering was fenomenaal, en voor ek my oë kon uitvee, was ek deur die wolke, in die hemelruim met ʼn super-sweeftuig wat ek help ontwerp het,” sê prof. Attie. Uys was agter die stokke tydens die tweede toetsvlug. “Ek het geweet ons het ʼn goeie sweeftuig gebou, maar só goed – ek was aangenaam verras. Die JS3 is beslis die beste 15 m-klas sweeftuig waarmee ek nog ooit gevlieg het.”

Die sweeftuie (Foto: Verskaf)

Die sweeftuie (Foto: Verskaf)

Die JS3 weeg ʼn skamele 266 kg en kan in die regte omstandighede ʼn spoed van 290 km/h bereik. Dr. Johan Bosman, mede-eienaar van Jonker Sailplanes en ook verbonde aan die NWU se departement Meganiese Ingenieurswese, was verantwoordelik vir die aërodinamika van die nuwe sweeftuig. “Ná sowat vyf jaar navorsing, wat onder meer ʼn PhD-studie insluit en 15 ingenieurs wat 10 maande voluit gewerk het aan die nuwe ontwerp, is die JS3 uiteindelik ʼn wenresep. Ons voer tans sowat 90% van ons sweeftuie na ander lande uit, en kan nie wag om dit in die mark bekend te stel nie. Met die JS3, dink ek, het ons weereens die maatstaf gelig.”

Die Jonker-broers se voorliefde vir sweeftuie is by hul pa, Tienie Jonker, gekweek. Hy het jare gelede sy eerste sweeftuig in sy motorhuis gebou en sê dit was waar sy seuns se liefde vir lugvaart posgevat het.

Die dekaan van die fakulteit Ingenieurswese, prof. LJ Grobler, het Jonker Sailplanes gelukgewens met hul nuwe innoverende sweeftuig. “Die NWU is trots daarop om hom met Jonker Sailplanes te vereenselwig. Ons wens hulle alle sterkte toe en sien uit na hoe die mark die nuwe JS3 sal ontvang.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Basson ·

Min mense buite die dissipline besef dat JS werlik ‘n wêreldspeler is op hierdie gebied en meeding met die beste uit Duitsland. Voorwaar ‘n reuse suksesverhaal. Baie geluk aan die innoveerders!

YsselA ·

Goeie werk Uys, Attie en die res van die span. Nou gaan die rekords spat :)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.