Fotograwe kiek troeteldiere vir liefdadigheid

Die fotograaf Cat Schramm en Sable. (Foto: Verskaf)

ʼn Sak kos, ʼn kombers, ʼn speelding en ʼn lekkerny. Dít is die enigste vereistes wat die fotograaf Cat Schramm het vir ʼn fotosessie met troeteldiere as deel van die Shoot for Food-inisiatief ten bate van liefdadigheid.

Schramm, ʼn vrou wat die afgelope tien jaar haar brood en botter as fotograaf verdien, vertel dat dit dié vier items is waarmee ʼn vreemdeling haar geseën het toe sy en haar man, Lotie Schramm, in 2018 deur ʼn rowwe tyd gegaan het.

Lotie het siek geword en by die dood omgedraai en het gevolglik geen inkomste gehad nie. Die Schramms, wat groot diereliefhebbers is, het geen manier gehad om hulle vyf troeteldiere te voer nie en vriende en familie kon ook nie help nie.

Sy vertel emosioneel aan Maroela Media daar het ʼn vreemdeling voor hul huis se hek gestop met ʼn sak kos, ʼn kombers vir elkeen van hulle vyf aanneemhonde, speelgoed en lekkernye.

“Ek weet tot vandag toe nie wie dié vrou was of hoe sy geweet het my honde is in nood nie,” vertel Schramm.

Dit is toe dat sy besluit het dit is die perfekte manier om terug te gee en aangesien sy teen daardie tyd reeds ʼn gesoute troeteldierefotograaf was, het sy die Shoot for Food-inisiatief van stapel gestuur.

“Alles waarmee ek daardie dag in 2018 deur ʼn vreemdeling geseën is, is die vereistes om ʼn fotosessie vir die dag te bespreek.”

Vanjaar gaan die skenkings wat Schramm ontvang na die Love-a-Bull SA-organisasie, wat hom beywer om Amerikaanse veghonde (pitbull terriërs) te red en te rehabiliteer. Sy self neem geen kontantskenkings nie en indien belanghebbendes geld wil skenk, kan hulle dit direk aan dié organisasie skenk wat dit vir hul stewige veeartsrekening sal aanwend.

Emily het verlede jaar voor Cat se kamera gepryk vir die Shoot for Food-projek. (Foto: Cat Schramm Photography)

In ruil vir ʼn sak kos, ʼn kombers, ʼn speelding en ʼn lekkerny, neem Cat vir ʼn uur lank foto’s van twee troeteldiere op ʼn slag en verskaf dan 20 geredigeerde digitale foto’s wat aan die eienaar. Vanjaar se fotosessie vind by die Irene Village Mall in Irene, Centurion, plaas.

“Natuurlik maak ek tussendeur ook tyd om die diere te leer ken en te vertroetel. Ek kan nie foto’s van die diere neem as ons nie eers behoorlik kennis gemaak het nie,” sê sy met ʼn lag.

Veronica Strydom, ʼn fotograaf in KwaZulu-Natal, werk vanjaar saam met Schramm om in dié provinsie as deel van die Shoot for Food-inisiatief ook ʼn verskil te maak. Die fotosessies wat Strydom in Hillcrest behartig se skenkings sal aan die Titonarc-organisasie gaan.

Die Shoot for Food-inisiatief gaan sedert sy ontstaan van krag tot krag en verlede jaar het Schramm sowat 800 kg se kos, sowat 200 komberse en ʼn “ontelbare hoeveelheid” speelgoed en lekkernye aan die Cause for Paws-organisasie in Jacksonville, Johannesburg, geskenk.

“Dit verg altyd al my wilskrag om nie nóg ʼn hond huis toe te vat as ons hierdie projekte aanpak nie. Lotie moet net bontstaan om my te keer,” skerts sy.

Haar reis as troeteldierfotograaf het begin toe sy as deel van veghond-bewusmakingsmaand, wat elke jaar in Oktober plaasvind, vir die Pit Bull Federation of South Africa begin foto’s neem het. Daarna het sy aanhou troeteldiere afneem en dié stokperdjie het uiteindelik tot ʼn volwaardige onderneming gegroei.

Troeteldiere is Schramm se passie. “Ek is geseënd met my sakeonderneming. Ek het ook intussen begin om diere se gedrag te bestudeer om my te help om my eie diere, maar ook ander mense se diere, te laat voel dat hulle in ʼn veilige spasie is voordat ek hulle voor die kamera sit.”

Troeteldiereienaars moet ʼn vraelys oor hulle diere se opleiding, allergieë en gedrag invul wanneer hulle ʼn fotosessie by Schramm bespreek.

Kitty het ook verlede jaar voor Cat se kamera gepryk vir die Shoot for Food-projek. (Foto: Cat Schramm Photography)

“Dit help my om vooraf te weet hoe ek die spesifieke dier moet hanteer en party honderasse is baie energiek of vat langer om my te vertrou. Ek laat die diere ook op die dag van die fotosessie toe om eers vir ʼn paar minute vertroud te raak met die omgewing en gemaklik met my te raak voordat ek hulle afneem.”

Schramm het ʼn ateljee waar sy die diere afneem, maar reis ook onder meer in en om Pretoria, Johannesburg, Krugersdorp en Klerksdorp vir fotosessies.

“Mense hou daarvan om herinneringe van hulle diere te versamel en party wil ook graag fotosessies doen voordat hul diere uitgesit moet word. Dit help hulle om die laaste herinneringe van hulle diere vas te vang en hoewel dit baie emosioneel is, gesels ek eers vir ʼn rukkie met die eienaars voor so ʼn sessie.”

Sy vertel Lotie het intussen al soos haar assistent geraak en reis oral saam met haar om die diere af te neem. “Hy is ook opgelei in dieregedrag en is baie ondersteunend,” sê sy.

Irene Village Mall, CarniRaw, CHANÉ & CO., Floofen Treatz Pet Bakery, O Little Winks, TSD Group, Nala & Me, Pawsitively Pet Sitting and Training en SHR3D Water is vanjaar se borge vir die Shoot for Food-projek.

Die fotosessies vind in Maart asook op 2 en 3 April plaas.

Kontak Cat Schramm vir ʼn fotosessie deur ʼn Whatsapp te stuur na 061 740 9975. Haar e-posadres is [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.