Foto’s: 81-jarige SA’ner se ontwerpe op talle internasionale produkte

Esther Mahlangu (Foto: EWN/The Chromologist)

Esther Mahlangu (Foto: EWN/The Chromologist)

Die 81-jarige Suid-Afrikaanse kontemporêre kunstenaar Esther Mahlangu is ʼn bewys dat ouderdom net ʼn getal is nadat dié Ndebele-kunstenaar twee kontrakte, een van ʼn Sweedse skoenvervaardiger en die ander van die luukse Vodka-maatskappy, Belvedere, onderteken het om die maatskappye se produkte te ontwerp.

Mahlangu, wat in Middelburg, Mpumalanga, woon, het vroeër in Augustus ʼn vennootskap met Belvedere aangeknoop vir ʼn veldtog waarvan die wins na die Global Fund-organisasie gaan wat MIV/vigs beveg. Die gewilde Amerikaanse sanger, John Legend, is die ambassadeur vir dié veldtog.

Die kunstenaar was daarvoor verantwoordelik om die bottel vir die #MakeADifference-veldtog met haar gewilde Ndebele-patrone, elke patroon uniek, te ontwerp.

Belvedere het tydens die onthulling van die bottel vroeër in Augustus gesê minstens 50% van die wins gaan aan die Global Fund.

Mahlangu se werk word ook binnekort ten toon gestel op ʼn ander internasionale handelsmerk. Sy is tans besig met die ontwerp van die Sweedse maatskappy Etys se tekkies om die Ndebele-stempel daaraan te gee.

Sy is onder meer ook al genooi om haar werk, sommige byna twee dekades oud, uit te stal by internasionale galerye.

Mahlangu het ook al in vennootskap met BMW en British Airways gewerk. Sy is onlangs weer deur die motorhandelaar BMW in Brittanje genader om die binnekant van ʼn nuwe 7-reeks te verf.

Lees meer oor Esther Mahlangu.

Die insetsel is deur eNuus vervaardig. Kyk eNuus elke aand om 19:00 op kanaal 144 en 145 op DStv.

Bron: EWN

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

E.K. ·

Mal oor Ndebele kuns en so bly sy help dat dit bly voortbestaan. Daai Ndebele poppies is vrekoulik! Trots op jou Esther! O, en sy het NET AFrikaans gepraat – is dit nie bak nie!

Johan ·

Toe ek ‘n klein seuntjie was, het Esther vir my ma in die kombuis gewerk op die plaas buit Middelburg. Ek onthou sy het een Kersfees vir my ma ‘n klein appelboompie gebring om te plant as ‘n kersgeskenk.

Ons het later dorp toe getrek en sy het gereeld kom inloer en kyk hoe dit met my ma gaan.

Nog later het ons Pretoria toe getrek en daar was sy ook ‘n paar keer by my ma.

Die verbasendste is, nadat my pa oorlede is en my ma afgetree het, het my ma Kaap toe getrek waar sy by my oudste broer gaan woon het. Esther het eendag daar opgedaag om ‘die mies te kom dagsê’.

Waar sy aan die adres gekom het, weet nugter.

Sy het altyd as sy my ma besoek het, tee gemaak vir hulle twee en dan buite op die stoeptrappie gaan sit en met my ma oor ‘n koppie tee gesels.

Sy is regtig merkwaardig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.