[Foto’s] Africa Bike Week: ʼn Fees wat terugploeg in die gemeenskap

Africa Bike Week in Oos-Londen (Foto: Brian Cheyne)

Ek het die Africa Bike Week in die rustige kusdorp, Oos-Londen, van 27 tot 30 April gaan bywoon. Africa Bike Week is van 2009 af in Margate gehou, maar die organiseerder, Carl Frayne, het besluit om vir 2017 die fees te roteer na Oos-Londen. Die hele gebied voor die Osner Hotel was in oranje geklee en die gebied is omskep in ʼn feesterrein. Die hotel het vir hierdie vier dae bekend gestaan as die Harley Davidson Hotel. Harley is steeds een van die hoofborge.

Donderdagaand, tydens die nuuskonferensie, het Frayne die verrigtinge geopen en die uitvoerende burgemeester, Xola Pakati, aan die woord gestel. Hy was heel in sy skik met die geleentheid, en het sy steun gegee vir drie jaar. Volgens Pakati kry die gebied ʼn geraamde R10 miljoen-inspuiting per fees en plaaslike besighede baat ook. Die organiseerders het ook hul steun toegeken aan die burgemeester se projek om plaaslike skole se boekeskat aan te vul.

Africa Bike Week in Oos-Londen (Foto: Brian Cheyne)

Volgens Frayne het die gebied in Margate uit sy nate begin bars en die stalletjies was bont versprei. In Oos-Londen was die hele terrein omhein en dit het net gesorg vir beter beheer en samehorigheid. Die vermaaklikheidsterrein is heelwat groter as in Margate. Bedags was daar geleentheid vir plaaslike musiektalent om hul slag te wys. Saans was daar vermaak deur SA se topkunstenaars, soos  The Parlotones, Gangs of Ballet, BlackByrd en Monark. Selfs Jack Parow het sy opwagting gemaak.

Harley Davidson het ʼn groot teenwoordigheid gehad en sy bemarkingsbestuurder, Aidan Johnson, se opgewondenheid was amper tasbaar. Hy bly klem lê daarop dat dit nie ʼn Harley-saamtrek is nie. Hulle het doelbewus ʼn vrotpad-roete aanmekaargesit waar die ryers op storiefietse die mooi van die omliggende ongewing kon sien. So help hulle ook met bewusmaking van toeriste-aantreklikhede. Jy kon ʼn Harley van jou keuse gaan ry, en daar was ʼn spesiale gebied met ʼn motorfiets op ʼn statiese raam waar nuwe ryers kon leer hoe om mooi weg te trek en ratte te verwissel in ʼn beheerde omgewing. Hy het ook toergroepe gereël vir ryers wat van ver af moes kom. Oos-Londen is nou ook nader vir die mense van Kaapstad.

Jack Parow by Africa Bike Week in Oos-Londen (Foto: Brian Cheyne)

Waaghals Patric Botha het die skare vermaak met ʼn paar toertjies op sy motorfiets. Hy was tot onlangs nog in ʼn rystoel en een van sy drome was om toertjies op sy fiets te kan doen. Vrydag en Saterdag het hy sy droom bewaarheid.

Africa Bike Week is meer as net ʼn motorfietssaamtrek. Dit is ʼn fees van vroeg tot laat, met genoeg kos en verversings om selfs die kieskeurigste onder ons tevrede te stel. Toegang is gratis, en een van die besoekers het Saterdagaand weggestap met ʼn splinternuwe Harley Davidson 883.

Africa Bike Week is meer as net ʼn saamtrek van motorfietse. Daar is oorgenoeg vermaak vir oud en jonk. Ten spyte van ons land se politieke probleme was alles vergete vir hierdie vier dae, en ons was almal net een groot familie met ʼn gedeelde passie vir motorfietse.

Maak maar ʼn knoop in jou das vir volgende jaar se fees, want Carl en Aidan voer reeds ʼn paar ekstra planne in die mou om 2018 se fees net groter en beter te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.